Matteus 2:1-12
As jy die woord “Betlehemster” hoor, dan gee jou hart sommer ook so ‘n ekstra sprongetjie, want dit roep by jou herinneringe op uit jou kleintyd, moontlik ‘n Kersopvoering, waar jy as kleintjie deelgeneem het. Maar dit gryp ook jou verbeelding aan, want jy probeer vir jou ‘n prentjie vorm oor hoe hierdie drie wyse manne agter ‘n ster sou aanloop. Hoe is dit moontlik? Terloops, dit is ‘n mite dat daar drie wyse manne was! Nêrens sê die Bybel dit vir ons nie. Ons het maar ons eie afleidings gemaak!
Matteus se verhaal gaan egter baie dieper as ‘n ster en wyse manne. Daar is geweldige kontras in die verhaal - hierdie manne wat eers ‘n vals koning Herodus ontmoet, in sy luukse paleis, omring deur sy raadgewers. Later ontmoet hulle die ware Koning, Jesus waar Hy in die eenvoud van ‘n stal is en waar dit beslis nie so aangenaam ruik nie. Herodus bak onder valse voorwendsels mooi broodjies. Hy wil kwansuis gaan hulde bring aan daardie nuwe Koning, maar eintlik probeer hy uitvind waar daardie Koningsbaba is sodat hy Hom uit die weg kan ruim. God, aan die ander kant, stuur Sy Seun uit liefde, nie om te verdoem nie maar om te red van die dood.
Die kern van die verhaal is die wyse manne wat kom hulde bring aan Jesus, die Seun van God. Is dit nie ironies nie, dat God juis heidense magiërs gebruik om hulde te bring, terwyl die Joodse Skrifgeleerdes, kerkleiers en koning Herodus Jesus wil doodmaak.
Maar wie was hierdie “wyse manne” en wat was daardie ster wat hulle gevolg het? Hulle was sterrekykers iewers uit die Ooste, waarskynlik uit Persië (vandag Iran). Hulle het hulleself besig gehou met baie diep dinge oor die lewe, die mens en natuur. Dit het dan gepaard gegaan met die stand van sterre, towery ens. By die Jode het hulle dus eintlik ‘n slegte naam gehad, maar in die res van die wêreld was hulle aansien baie hoog.
Sterrekundiges sê dat daar in 7vC 'n rare driedubbele oplyning van planete was, toe die aarde, son, Jupiter en Saturnus drie keer in 'n reguit lyn verskyn het, iets wat slegs elke paar duisend jaar gebeur. Die volgende jaar kom Mars óók by. In April dieselfde jaar word Jupiter oor Jerusalem verduister deur 'n sekelmaan. Die betekenis wat die wyse manne aan al hierdie ongewone verskynsels geheg het, was dat daar 'n magtige Messiaanse Koning in Juda gebore sou word.
Maar dit is steeds nie die einde nie, want volgens Sjinese rekords verskyn daar in 5vC 'n komeet wat oor 'n tydperk van 70 dae van oos na wes beweeg. Dit was waarskynlik die finale teken waarop die wyse manne gewag het.
Natuurlike verskynsels? Miskien wel, maar reeds miljoene jare tevore haarfyn deur God beplan om presies reg uit te werk.
Die Babiloniërs was die voorste wiskundiges en astroloë, en hulle het geweet van die Joodse geloof, dat ‘n ster die koms van die Messias sou aankondig. Die baan wat die komeet gevolg het sou hierdie manne reguit na Betlehem gelei het waar die komeet vroegoggend in die Suide sigbaar sou wees. Die komeet was vir 70 dae lank sigbaar, ook omtrent die tyd wat ‘n reis vanaf Babilon na Betlehem sou neem.
Ek kan myself voorstel hoe opgewonde daardie manne moes gewees het toe hierdie komeet sy verskyning maak! Vir drie jaar lank hou hulle met opgehoue asems die veranderinge in die sterre en planete dop. Hulle bygeloof omtrent die beweging van planete en sterre het skielik in hulle binneste geruk, toe hulle iets bonatuurlik sien gebeur. Dalk het hulle nagte lank bespiegel en geredeneer oor wat aan die gebeur was. En die opgewondenheid toe daar uiteindelik drie jaar later ‘n komeet verskyn wat al hulle berekeninge bevestig het. Hoe teleurgesteld moes hulle nie gewees het toe hulle by Herodus kom en sy vyandiggesindheid sien nie. Hy het nou wel vir hulle gesê dat hy ook aan die nuwe Koningskind wou gaan hulde bring, maar hulle kon sommer dadelik dwarsdeur sy skynheiligheid sien, dat hy glad nie bedoel wat hy sê nie. En dan daardie hart-bonsende opwinding toe die komeet hulle na Betlehem lei, en hulle die Kindjie daar kry in die stal.
Matteus sien, interessant genoeg, hierdie magiërs nie in 'n negatiewe lig nie, maar hy probeer wys dat die elité van die destydse heidendom Jesus erken het as koning, en dit terwyl Herodus en die ganse Jerusalem hewig ontsteld is oor dieselfde gebeurtenis. God berei lof voor vir die Messias uit die optrede van eenvoudige skaapwagters wat iewers in die veld naby Betlehem geslaap het en heidene, wat Sy ster oor lang afstande volg. En dit terwyl Sy eie volk, veral die leiers, absoluut geen begrip openbaar nie. Dertig jaar later sê Jesus vir hierdie Joodse leiers: “Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle die Koninkryk van God in” (Matt. 21:31).
En ek en jy? Gee ons aan Jesus, die ware Koning, die Een wat heers aan die regterhand van God, die eer wat Hom waarlik toekom?
Gebed:
Here Jesus, saam met die wyse manne wil ek ook vanoggend aan U hulde bring - U loof en prys met alles wat binne in my is!