Matteus 17:14-21
Waarom gebeur wonderwerke nie meer vandag nie?
Gebeur wonderwerke wérklik nie meer vandag nie?
Gebeur wonderwerke nog werklik?
Waarom gebeur wonderwerke net met ander mense en nie met my nie?
Is daar dalk iets fout met my dat ek nie wonderwerke ondervind nie?
Wonderwerke ….. Ag nee wat…..!!!
Wonderwerke is so werklik soos die lewe sélf!
Hierdie is van die talle vrae en stellings wat jy hoor wanneer wonderwerke ter sprake kom. Eerstens moet jy jouself afvra of wonderwerke inderdaad nog vandag gebeur. Ons het gesien hoedat Jesus ‘n magdom wonderwerke verrig het, sommige van hulle asemrowend groot! Is sulke dinge werklik nog moontlik? Toe Jesus Sy dissipels uitgestuur het, het hulle sélf ook wonderwerke verrig. Hulle het inderdaad mense gesond gemaak en nog baie meer. Later word daar in Handelinge ook beskryf van talle wonderwerke wat plaasgevind het onder die hande van die Apostels.
Wanneer ‘n man in groot nood na Jesus kom met sy seun wat waarskynlik epileptiese aanvalle kry en al by geleentheid selfs in die vuur geval het, vertel hy dan ook dat Jesus se dissipels reeds probeer het om die seun gesond te maak, maar dat hulle dit nie kon regkry nie. Jesus was moedeloos met hulle: “O, ongelowige en ontaarde geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” Harde woorde! Later vra hulle Hom waarom hulle dan nie die seun kon gesondmaak nie? Dan antwoord Hy hulle: “Vanweë julle kleingeloof!” Dan sê Hy dat geloof so groot soos ‘n ou mosterdsaadjie berge kan versit!
Kan wonderwerke vandag nog gebeur as ons geloof groot genoeg is? Inderdaad, Ja! Nou is die vraag, of dit dan my geloof is wat wonderwerke verrig? En die antwoord daarop is ‘n besliste “Nee!”
Nee, maar……. Nee, dit is nie jou geloof wat die wonderwerk verrig nie, maar dit is JOU geloof wat die krag van God loslaat. En dít kán berge versit! Ons moet in die eerste plek baie duidelik besef dat dit nie jý as mens is wat die wonderwerk vermag nie, maar dat God jou as ‘n werktuig kan gebruik. Dit is soos ‘n waterpyp wat water voer vanaf ‘n windpomp na ‘n dam. Dit is mos nie die pyp wat die werk doen nie. Die pyp is maar net die kanaal waardeur die water na die dam vloei. Die een wat al die harde werk doen en die water diep onder die aarde uitpomp, is die windpomp. Maar ons moet ook besef dat as die pyp verroes en vol gate is, kan daardie water nie by die dam uitkom nie. Dan lek al die water uit, lank voordat dit by die dam kom.
Ek ondervind elke dag wonderwerke in my lewe. Dalk lyk dit nie altyd indrukwekkend nie, maar as jy in my skoene sit, dan sal jy weet hoe indrukwekkend dit werklik is. Sowat 20 jaar gelede, Januarie 2002, het ek desperaat gebid dat die Here my ‘n dagstukkie sal gee om te skryf. Ek was in groot nood, want die persoon wat my altyd van dagstukkies voorsien het, het net verdwyn, en niemand wou my help nie. My geloof was maar baie pieperig maar ek het gehoorsaam aan die opdrag van die Here gaan sit en begin skryf. En só is die eerste dagstukkie van Ons Dag se Brood gebore!
Ek was sélf verwonderd oor die stuk wat ek geskryf het, want ek was nie tot sulke dinge in staat nie. Toe gaan die lig skielik vir my op: Hy, die Heilige Gees, het die gedagtes vir my gegee om neer te skryf. Die volgende dag was ek sommer vol moed vir die tweede dagstukkie! Ek het uitgesien daarna dat die Here my op só ’n manier gebruik. Nou, meer as 5’000 dagstukkies later het die woorde nog nooit opgedroog nie. Nog nie één enkele keer het ek “skrywersblok” gekry, waar ek nie geweet het wat om te skryf nie!
Elke dagstukkie wat ek skryf is dikwels vir myself ‘n verrassing. Wanneer ek klaar is met een, gaan sit ek dikwels terug en sê: “Wow! Waar het dit vandaan gekom?” En dan weet ek: Dit was nie mý werk nie, maar God s’n alleen, want ek is nie daartoe in staat nie. Ek is maar net daardie waterpyp. Maar as ek nie glo dat God dit deur my sal doen nie, dan is hierdie “waterpyp” vol roesgate, en is ek nutteloos vir God.
Hierdie is maar een enkele voorbeeld. Nét so gebruik Hy ook mense deur wie Hy genesingswonders kan doen of om moedelose mense weer moed vir die lewe te gee. Daar is talle ander wonderwerke wat die Here op hierdie wyse deur mense doen. Hy kan jóú ook so gebruik! Stop gerus daardie “ongeloof-roesgate” toe, dan sal jy verstom staan oor die dinge wat deur jou kan gebeur!
Gebed:
Here, gee my asseblief meer geloof sodat ek bruikbaar kan wees vir U in U Koninkryk. Ek stel myself ook tot U beskikking sodat U my kan gebruik om wonderwerke te doen!