Jesaja 9
Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn. U het dié wat nie meer 'n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak.
Met hierdie hartroerende woorde juig Jesaja hoofstuk 9 in. In die vorige hoofstukke het ons gesien hoedat die volk gedreig is deur Damaskus en Israel, hoe hulle oorstroom is deur Assirië. Hulle land is verwoes. En dan maak die Here by monde van Jesaja hierdie aankondiging. Só seker is Jesaja dat dit gaan gebeur, dat hy dit in die verlede tyd skryf asof dit alreeds gebeur het.
Dit laat my dink, dat ons dikwels sê dat ons eendag die ewige lewe gaan kry. Dis nie waar nie! Die Here het dit alrééds vir jou gegee! Ons het dit klaar gekry!
Jesaja is baie opgewonde wanneer hy hierdie gedeelte skryf. Dit borrel soos ‘n sterk fontein. God gaan Juda se blydskap weer groot maak na al hulle probleme. Ja, inderdaad het God hulle verlaat oor hulle goddeloosheid, maar hulle sal weer Sy teenwoordigheid smaak, en hulle kan hulle daarin verbly.
Jesaja gebruik twee beelde om te illustreer wat hy wil sê. Eerstens die beeld van die heerlike, uitgelate vreugde wat heers wanneer oestyd aanbreek, en jy kan die vrugte van jou hande arbeid pluk.
Die tweede beeld is wanneer die soldate ‘n oorlog wen en hulle die vrug daarvan kan pluk deur die buit onder mekaar te verdeel. Dan heers daar gróót vreugde!
Die groot rede vir Juda se blydskap, is dat God die swaar juk wat op hulle skouers gedruk het, verbreek het. Ons lees in Rigters 6 en 7 van die wonderbaarlike oorwinnig wat Gideon en sy klein bende manne behaal het oor die Mideaniete. Jesaja verwys hierna in vers 4, en hy sê dat die Here ook so wonderbaarlik sal ingryp om hulle te red. Hy sê: “Elke soldateskoen wat in die oorlog gebruik is, en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word, deur die vuur verteer word.” Dit beteken dat die oorlog en al die swaarkry verby is, en dat God weer voor sal begin met Sy volk.
En dan lees ons in vers 5 hierdie asemrowende, hartroerende, wonderlike woorde: “Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”
Die nuwe Dawid! Hy sal Sy vredesryk tot stand bring! Jesaja beskryf hier die kroning van die Messias-Koning. In Psalm 2 lees ons dat God hierdie nuwe Koning as Sy Seun aanneem: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader.” By hierdie geleentheid kry die nuwe Koning dan ook 'n nuwe naam.
Wanneer Jesaja dié gedeelte skryf, bely die volk: “Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee.” Die Messiaskoning het die troon bestyg, en nou heers Hy. Wanneer Hy die troon bestyg, kry Hy vier wonderlike name by: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader en Vredevors.
Raadsman – Hy het geen raad nodig nie want God is Sy raadgewer.
Magtige God – Hy is die Messiaskoning, en dus God se verteenwoordiger op aarde. As jy Hom sien, dan sien jy die Almagtige God.
Ewige Vader – Hy is inderdaad 'n Vader vir Sy kinders, Sy volgelinge, en Hy sal voortdurend vir hulle sorg soos 'n Vader.
Vredevors – Waar hy regeer sal daar totale harmonie en vrede wees sodat elke mens God ongehinderd kan dien.
In die volgende verse lees ons dat daar géén einde aan Sy heerskappy sal wees nie, en dat Hy vir altyd vrede en voorspoed sal bring. En dat Hy vir ewig en altyd sal regeer!
'n Wonderlike droom? Nee! 'n Asemrowende werklikheid!
God sélf is die waarborg dat hierdie belofte waar sal word. “Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.” skryf hy in vers 6.
Hierdie bemoedigende gedeelte is gerig op elke kind van die Here wat in wanhoop of vertwyfeling verval het, om op Hom te vertrou. Wees verséker, Hy kan en sal voor begin. Hy is die een wat duisternis in lig kan verander. Om die waarheid te sê, hét Hy dit alrééds gedoen! Hy het dit gedoen deur Jesus Christus, en om daardie rede kan ek en jy vandag nuwe moed skep en kan ons voluit leef sonder enige vrees!
Gebed:
Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors, dankie Jesus dat U my Koning is!