Witter as Sneeu!

13 February, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Witter as Sneeu!

Jesaja 1

VIDEO * OUDIO

Jesaja 1:1 is die opskrif vir die eerste 39 hoofstukke van die boek. Jesaja het as profeet opgetree in Juda van Ussia se tyd tot met Hiskia, dus 748 tot 698vC.

Reg van vers 1 af maak Jesaja dit baie duidelik, dat dit nie hy as persoon is wat hierdie dinge skryf nie, maar dat dit van God af kom. “Luister, hemele, gee aandag, aarde, want die Here het gesê:” skryf hy in vers 2. Hy skryf dus in opdrag van God. Vandag kan ons sê dat die Heilige Gees hom gelei het om die woorde op papier neer te pen.

In die eerste paar verse lê Jesaja ‘n aanklag teen die volk, en hy roep die hemel en aarde op as getuies, dus is die hele kosmos getuie van wat Juda besig is om te doen. Hierdie volk het God verwerp! Harde woorde!

Dink net: die Here het ‘n verbond gesluit met Sy volk. Hy het hulle Sy eie gemaak toe Hy vir Abraham gesê het, “Ek sal vir jou ‘n God wees en jy sal vir My ‘n volk wees.” Hy het hulle Sy eie kinders gemaak. En wat maak hulle? Hulle draai die rug op Hom, hulle liefdevolle Vader! Hulle verwerp Sy liefde! Hulle verwerp Sy genade! Hulle verwerp Hom! Hulle wil Hom nie ken nie!

“Maar dis verkriklik!” wil ons in afgryse sê. Maar wag ‘n bietjie, kom ons kyk na ons eie situasie. Die Here praat nét so hard met ons vandag. Suid-Afrika is ‘n sogenaamde “Christen-land”. 75% Van ons land hang die Christen-Godsdiens aan, noem hulleself Christene. Maar lyk dit in die praktyk werklik so?

Jesus se opdrag by verskeie geleenthede was dat ons mekaar moet liefhê, maar van liefde is daar min sprake in ons land. Op die Kaapse vlakte woed daar ‘n oorlog, soos bendes op mekaar skiet, en in die proses boonop onskuldiges, selfs kinders doodskiet. Plaasaanvalle en plaasmoorde het ‘n alledaagse geword. Gesinsgeweld is ‘n huishoudelike naam, en talle sterf in die proses, of word permanent vermink, fisies en geestelik.

Korrupsie, staatskaping, diefstal, geldwassery, nepotisme, polisie geweld, zenofobie, homofobie, rassisme – almal huishoudelike name!

En wat van gewettigde moord? O ja, dit is hééltemal wettig om ‘n moord te pleeg, sonder dat daar énige reperkussies is. Die staat help jou selfs daarmee! Wat anders is aborsie, as moord op ‘n onskuldige, ongebore baba? By die duisende word babas in ons land vermoor, en niemand knip ‘n oog daaroor nie!

“Maar wag ‘n bietjie, nou praat jy darem net van ongelowiges!” wil jy protesteer. “Die kerk is darem anders!”

In vers 13 skryf Jesaja vir die kerk: “Ek het 'n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie.

Ja, dis vir my en jou wat Hy dit sê, want baie gelowiges het sag geword, aanvaar die onreg maar gelate. Ons leef nie die liefdesopdrag van Jesus aktief uit nie. Ons voer nie Sy opdrag van Matteus 28, om dissipels te maak uit nie. Dikwels is ons sélf deel van die korrupsie en moord. “Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.” skryf hy in vers 15.

Sjoe!

Skyngodsdiens is NIE diens aan God nie! As jy kerktoe gaan, jou tiende gee, Bybel lees, bid, 'n sopkombuis bedryf ens. en dit gebeur sonder die ware liefdesverhouding met die Here, dan is alles slegs 'n skyngodsdiens!

Maar God is genadig! Hy gee ons nóg 'n kans: “Was julle, reinig julle. Hou op met kwaad doen. Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees.” (v. 16-17)

En dan daardie asemrowende nuus, as ons gehoor gee aan God se pleidooi. God is bereid om volkome te vergewe! “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

Ons liefdevolle, geduldige, genadige Vader se vergifnis is volkome! Hy dink nie eers weer daaraan nie, en Hy laat jou nuut begin op ‘n helder skoon, spierwit bladsy! Dit maak nie saak hóé groot jou sonde was nie, Hy vergewe volkome en maak jou wit soos sneeu.

Hier is vier aksies betrokke by God se wonderlike vergifnis. Die eerste is dat ek die Here se uitnodiging van vergifnis moet aanvaar. Dan moet ek omdraai, weg van die verkeerde dinge waarmee ek besig is. Die derde is om in ‘n liefdesverhouding, in volle vertroue met Hom te leef. Die vierde, om die Heilige Gees toe te laat om my lewe te rig.

Gebed:

Wonderlike Vader, dankie vir U groot genade en vergifnis. Lei my en help my om my deel na te kom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026