Handelinge 2:1-13
Dit is Sondag, en al die Christene van Jerusalem is bymekaar. Hoe weet ek dan dat dit Sondag was? Dit staan nêrens in die Bybel nie? Sien, dit was Pinksterdag, en ‘n baie belangrike Joodse feesdag. Op Pinksterdag bring die Israeliete die eerste opbrengs van hulle oes om aan die Here te wy. Hierdie dag vind altyd plaas op die vyftigste dag na die eerste Sondag wat direk op die Joodse Pasga plaasgevind het. Dit het altyd op ‘n Sondag geval. Die betekenis van die Pinksterfees het later, na die vernietiging van die tempel in 70nC verander, en die klem het verskuif na die vernuwing van die verbond wat God met Israel gemaak het by Sinai.
Die gelowiges is bymekaar, maar die idee van ‘n oesfees kom nie eers in hulle gedagtes op nie. Hulle wag steeds biddend op die groot gebeurtenis waarvan Jesus gepraat het. Ek kan my voorstel: 120 gelowiges bymekaar. ‘n Ongemaklike stilte heers. Wanneer gaan dit gebeur? Wát gaan gebeur?
En dan uit die bloute, daardie onvergeetlike geluid, die geluid van ‘n geweldige stormwind wat uit die hemel neerdaal, al harder en harder, direk op die gebou af waarin hulle sit. Maar as die “wind” hulle tref, dan kom hulle agter dat daar geen wind is nie, maar net daardie geweldige geluid. Hulle harte bons wild: Wat kan dit wees? Die geluid vul die vertrek waarin hulle bymekaar is. Van oral uit Jerusalem kom mense aangehardloop om te kom kyk wat aan die gang is. Die stad wil uit haar nate bars van besoekers van regoor die wêreld wat gekom het vir die Pinksterfees, en nou is daar iets baie opwindend aan die gebeur. Duisende besoekers stroom na die gebou waar die handjievol gelowiges minute gelede nog besig was om te bid.
Wanneer hulle uitasem daar aankom, moet hulle tot hulle verbasing sien dat daar nie eers ‘n luggie trek nie. Maar dit is nie al nie: voor hulle verbaasde oë daal daar ‘n geweldige vuurvlam uit die hemel neer, reg op die gelowiges af. En dan verdeel die vuur, en sprei uit na elkeen van die gelowiges. Die skare is oorbluf! Hulle kan nie glo wat hulle sien nie! Wat hier besig is om te gebeur kan maar net ‘n Goddelike verskynsel wees! Uit die geskiedenis weet hulle dat God al aan verskeie mense verskyn het in die vorm van vuur of soms ook ‘n stormwind. Moses het God vir die eerste keer so gesien in die brandende doringbos (Eks. 3:2), en tydens die uittog uit Egipte was dit ook God wat in die wolk- en vuurkolom was. (Eks. 13:21). Ook Jesaja beskryf ‘n Goddelike ontmoeting met vuur en wind (Jes. 66:15). Is hierdie wind en vuur wat hulle nou beleef nie dalk God wat uit die hemel neerdaal nie? Baie van die nuuskieriges is met groot ontsag gevul.
Maar dan gebeur daar nóg ‘n wonderwerk wat die skare, wat nou alreeds in hulle duisende daar saamdrom, se asems skoon wegslaan: Die gelowiges op wie die vuurtonge gaan sit het, begin om God te loof, en te praat oor die groot dinge wat God gedoen het. Die wonderwerk is egter dat hierdie mense almal in verskillende tale praat. Nie ‘n vreemde, onverstaanbare taal, soos dié waarna Paulus later verwys in 1 Kor. 12 nie, maar verstaanbare tale van al die lande in die bekende wêreld, asook verskeie dialekte. Lukas noem hier nie minder nie as vyftien verskillende tale!
Die bedremmelde groepie gelowiges, wat dae gelede nog verlore weggekruip het agter geslote deure, is nou skielik vreeslose predikers wat hulle geloof aan die wye wêreld verkondig. Die skare is in verwondering. Die platform is geskep vir nog véél groter dinge om te kom. Hierdie is maar net die begin! Op watter wyse gaan God dit verder voer? Gaan die skare gunstig reageer op wat nou hier gebeur het? Gaan dit nie dalk maar net ‘n “vertoning” wees wat hulle môre of oormôre weer gaan vergeet nie?
Inderdaad is daar ‘n klompie mense wat baie skepties is, en selfs die gelowiges uitlag. “Hulle is dronk!” word hierdie wonderwerk van God bespot. Maar hulle het nie met God rekening gehou nie. Wat hier gebeur het, is dat die kerk van daardie dag af die Heilige Gees se nuwe en permanente “aardse adres” geword het. Elke gelowige is met reg dus ‘n tempel van die Heilige Gees, soos Paulus dit beskryf in 1 Kor. 3:16. Elkeen wat toelaat dat die Gees sy lewe beheer, sit met ‘n ongekende krag in hom wat letterlik berge kan versit. Die gelowiges van Pinksterdag het reeds getoon watter verskil die Heilige Gees in ‘n mens se lewe kan maak. Oor die volgende klompie jare sou hierdie handjievol mense se getalle letterlik ontplof in ‘n onstuitbare tsoenami van geloof wat die hele wêreld sou vul.
Maar eers is dit Petrus se beurt om vir die skare te vertel wat gebeur het, en wat hulle te doen staan. Dalk wil jy ook nou weet wat jy moet doen? Die Heilige Gees woon alreeds in jou as jy gelowig is. Gee Hom die kans om beheer van jou lewe oor te neem, en jy sal verbaas wees oor die resultate.
Sondag vier ons Pinksterfees. Kom ons stroom in groot getalle na die huis van die Here om daardie wonderlike gebeurtenis te herdenk.
Gebed:
Heilige Gees, neem asseblief vandag volle beheer oor my lewe. Gebruik my asseblief in U diens om God se Koninkryk uit te dra.