Wie Móét dan Koning Wees?

31 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wie Móét dan Koning Wees?

1 Samuel 16:1-11

VIDEO | OUDIO

In ‘n monargie is die koning se oudste seun gewoonlik outomaties die troonopvolger, tensy daar natuurlik iets ernstig voorval wat hom ongeskik sou maak vir die taak. Dit het in Saul se tyd óók so gewerk. Israel was egter besig om af te stuur op ‘n ramp, want die land se heel eerste koning, Saul het vergeet waar sy wortels lê - dat dit God was wat hom aangestel het en dat hy moes regeer volgens God se voorskrifte. As sy seun hom sou opvolg, sou hy waarskynlik in Pa se voetspore volg en dieselfde paadjie of selfs erger as sy pa loop! Samuel was ‘n baie bekommerde man, want hy het gesien waarheen dit op pad was. Hy het probeer regmaak waar Saul verbrou het, maar hy het besef dat dit ‘n onbegonne taak was. Die damwal het kláár gebreek en hy het tevergeefs probeer om die gate toe te stop!

Een ding wat Samuel nie besef het nie, was dat die Here al lankal besig was om ‘n nuwe koning voor te berei en op te lei, nie in die paleis en raadsale nie, maar in die veld! Dáár word die grondslag gelê vir die volgende koning van Israel. Hierdie aspirant-koning moes éérs leer om die Here lief te hê, Hom leer ken en vertrou in die klein dingetjies. Maar hy moes ook leer om taai te wees, en nie bang te wees vir enigiets nie. Boonop moes hy leer om ‘n vegter te wees, want die volk van God het baie swaar gekry tussen al die heidense volke wat hulle so afgeknou het. Dit was veral die Filistyne wat vir hulle ‘n groot pyn was!

Een mooi dag kry Samuel ‘n opdrag van die Here wat hom yskoud laat word: “Samuel, vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ‘n koning gesien.”

Die arme Samuel se knieë het onder hom geknak – “Hoe kan ek gaan, Here? As Saul daarvan hoor, sal hy my doodmaak!” Maar die Here het hom gerusgestel - hy moes bloot vir die mense sê: “Om aan die Here ‘n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het!” Hy moes dan vir Isai nooi om saam met hom te offer. Die Here het hom laat verstaan dat Isai se seun die nuwe koning sou wees.

En so het die bejaarde Samuel sy reis na Betlehem aangepak. Met sy aankoms was almal in rep en roer want Samuel se teenwoordigheid het net een ding beteken: MOEILIKHEID! Onmiddellik het almal in Betlehem ‘n skuldige gewete gehad, want hierdie gerespekteerde ou profeet was hier om die straf van die Here oor hulle te bring! Samuel het onder sy grys baard gelag: “Nee toemaar, ek kom in vrede, ek kom maar net ‘n offer vir die Here bring.” Toe nooi hy hulle uit: “Heilig julleself en kom saam met my na die maaltydoffer.” Vir Samuel het die volk ‘n heilige respek gehad!

Toe sonder Samuel vir Isai en sy seuns uit en nooi hulle om die maaltydoffer saam met hom te geniet. Vir Isai was dit natuurlik ‘n groot eer om saam met die gerespekteerde profeet, wat vir soveel jare die land regeer het, te gaan eet. Al die voorgeskrewe reinigingsrituele was sorgvuldig nagekom en die tyd vir die offer het aangebreek.

Met groot genoegdoening het Samuel na die lenige jong man voor hom gekyk. “Eliab” het die kêrel homself voorgestel aan die profeet. “Ideaal!” het Samuel met ‘n glimlag gedink, “Hierdie man het beslis die karakter, houding en gespierde lyf wat ‘n koning moet hê. Hier staan die Here se gesalfde!” Saggies het Samuel gebid: “Here, moet ek hom sommer nóú salf?”

Maar toe kom die Here se skokkende antwoord: “Nee Samuel, hierdie is nie die nuwe koning nie! Moenie kyk na sy voorkoms of gestalte nie. Ek het hom afgekeur!”

Samuel was uit die veld geslaan, maar gelukkig het die volgende seun, Abinadab hom nét soveel beïndruk soos Eliab. Weereens het hy sommer dadelik gewéét dat die Here hom nie gekies het nie. Met ‘n hart wat in sy leersandale sink, het Samuel uiteindelik die sewende seun voor hom sien staan. “Here, sê asseblieftog vir my dat dit hierdie een is, dis die laaste een!” Maar steeds kom die Here se antwoord dat dit nie hy was nie. “Nou verstaan ek gladnie, Here,” het Samuel gehuil. “Wie ís dit dan?”

“Isai, is dit ál jou seuns hierdie?”

“Nee,” kom die antwoord van Isai met ‘n groot vraagteken in sy stem, “daar is nog die ou jongetjie, klein Dawid - hy pas skape op.”

“Here, dit kan tog nie die skaapwagtertjie wees nie? Ek kan tog sékerlik nie ‘n skaapwagter tot koning salf nie?” Maar dan wéét Samuel: Die Here werk baie anders as mense.

“Laat haal daardie seun - ons eet nie vanaand voordat hy hier is nie!”

Ons kan nie vir die Here voorskryf wie Hy moet gebruik vir ‘n taak nie. Dikwels is dit die mees onwaarskynlike kandidaat wat Hy al vir jare lank voorberei het. Berus by die Here se besluit - Hy weet baie beter as ek en jy!

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag kan weet dat U beslis beter weet. Gee my asseblief die berusting in U besluit!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026