Lukas 2:21-40
Is ek werklik nog verantwoordelik om my kinders kerk en Sondagskool toe te neem? Baie gelowiges skuif daardie verantwoordelikheid opsy. Die gevolg is kinders wat “moeilik” is. In skole raak kinders dikwels totaal onbeheerbaar, en onderwysers se hande is afgekap. Selfs by die huis raak dinge dikwels hééltemal te veel vir die ouers. En dan wonder hulle wat verkeerd geloop het.
In ons kinders se geestelike opvoeding is daar twee aspekte, dat ek eerstens my kinders geloofswaarhede leer by die huis. Hulle moet van kleins af ‘n liefde aanleer vir die Woord. Tweedens moet ek my kinders na die kerk toe neem om hulle verder te laat leer. Dit is my plig en verantwoordelikheid teenoor my kinders!
Josef en Maria het hulle pligte getrou nagekom, al het hulle geweet dat hierdie Kindjie baie besonders was en dat Hy anders as enige ander kind behandel moes word. Agt dae na Jesus se geboorte is Hy volgens Joodse tradisie besny en het Hy amptelik die naam Jesus gekry. Drie maande later is daar ‘n tweede plig wat nagekom moet word, dat die moeder tradisioneel gereinig moet word, want sy is vir drie maande onrein na die geboorte. Saam daarmee gebeur die sogenaamde “loskoop van ‘n eersteling”. Lukas haal die Ou-Testamentiese voorskrif eintlik baie vry aan, en hy wys daarmee eerder op die feit dat Jesus nie soseer losgekoop word nie, maar eerder tot beskikking van God gestel word - as’t ware aan God teruggegee word, net soos wat Hanna in die Ou Testament vir Samuel aan die Here teruggegee het. Lukas noem hier dat hulle twee duiwe geoffer het tydens hierdie seremonie. Gewoonlik is die offer ‘n lam, maar vir arm mense is duiwe ook in orde, dus weet ons hieruit dat hulle maar arm mense was en uit ‘n nederige sosiale milieu kom.
Lukas beskryf ‘n derde toneel, waar Jesus na die tempel in Jerusalem gebring word “om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom”. Die tempel in Jerusalem was die middelpunt van die ganse Joodse Godsdiens-tuiste. Dit was die spilpunt waarom die wet en kultus gedraai het, en hier kry ons dan ook vir Jesus as baba, en later as jong seun. Dertig jaar later speel die tempel steeds ‘n groot rol in Jesus se bediening. Jesus het nie téénoor die wet stelling kom inneem nie, maar Sy koms het iets baie groter as net die wet tot stand gebring. Later in die verhaal sien ons hoedat Jesus nuwe betekenis aan die wet kom gee het. Waar dit eers streng bepalings was wat ten alle koste nagekom moes word, het dit riglyne geword vir ‘n Godvrugtige lewe. Vandag kan ons byvoorbeeld sê dat ek nie my kind Sondagskool toe neem omdat die kerk dit van my verwag nie, maar juis omdat die kerk my daardie geleentheid bied om my kind meer van die Here te laat leer.
Wanneer Jesus na die tempel geneem word, vertel Lukas, neem die bejaarde ou Simeon Hom in sy arms. Dadelik herken Simeon Jesus as die Verlosser na Wie hy so lank uitgesien het. Vol van die Heilige Gees getuig hy van Jesus en wat daar vir Hom voorlê. Ook die vrome ou Anna, wat haar lewe gewy het aan God, het kom getuig van hierdie Kindjie. Uit Simeon se woorde sien ons dat mense voor ‘n keuse te staan sal kom, en dat nie almal sal saamstem oor Hom nie. Vir Maria lê daar bitter trane voor. As Maria maar geweet het hóé groot die smart nog sou word........
Ja, ek en jy word vandag ook nie smart en trane gespaar in ons geloofslewe nie. Teenspoed is iets waarmee ons saamleef. Maar soos wat Maria met haar eie oë aanskou het dat Jesus na al die smart en lyding opgestaan het uit die graf en die dood, en die wonderlike vreugde kon ervaar, net so kan ons ook vandag verséker weet dat ten spyte van vervolging en swaarkry, ons kan uitsien na ‘n opstanding en ‘n lewe saam met Jesus. Simeon en Anna was nie teleurgestel nie, hulle het die Verlosser gesien! Ek en jy hoef ook nie teleurgestel te word nie, want God se wonderlike beloftes staan vir ons opgeteken in Sy heilige Woord wat vas en waar is. Hierdie beloftes behels ook dat ons Jesus sal sien, en baie meer nog, dat ons saam met Hom sal wees vir ewig.
Die gebeure in die Tempel en in Jerusalem moes vir Josef en Maria ‘n sielsverrykende ervaring gewees het. Hulle het egter nie daar gebly nie, maar weer teruggegaan na hulle eie dorp, Nasaret in Galilea. Daar, lees ons, het Jesus opgegroei tot ‘n sterk seun, vol wysheid en gedra deur God se genade. Ja, die Here wil ook hê dat ek en jy ons nie sal afsonder van die wêreld af nie, maar dat ons juis sal aangaan met ons daaglikse taak. In hierdie selfde wêreld moet ons ons kinders grootmaak, maar die geloofsbasis wat ons hulle gee in die huis en deur die kerk, moet sterk genoeg wees om hulle staande te kan hou teen die aanslae van die lewe.
Gebed:
Here, leer ons om ons kinders op te voed om tot eer van U te leef.