Wees Sensitief

25 February, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wees Sensitief

Romeine 14:13-23

Video

Audio

In die vorige oordenking het ons gesien dat ons mekaar moet ruimte gee in die geloof, aangesien daar tóg verskille gaan wees, en ons nooit oor sekere kantlynsake gaan saamstem nie. Ek kry soms briewe van persone met ongemaklike vrae waaroor gelowiges nie saamstem nie. Dikwels kom so ’n vraag werklik uit die hart, en dan probeer ek die persoon so goed moontlik antwoord, maar só dikwels word ek uitgelok met sulke vrae, net om ‘n argument te begin. Dit is ‘n gevaarlike praktyk om mense so uit te lok met strikvrae, want sodoende kan jy in ‘n swakker persoon twyfel saai met onherstelbare gevolge.

En dit is juis oor hierdie gevoellose optrede wat Paulus vanoggend gesels. Nie alleen moet ons mekaar se standpunte respekteer nie, maar ek moet ook sélf so optree dat ek nie vir ‘n ander persoon ‘n struikelblok sal wees nie, al beteken dit dan ook dat ek sélf iets daarvoor moet opoffer. Om ‘n argument oor ‘n geloofsaak te wen met slim redenasies, laat my dalk goed voel, maar dit kan beteken dat ek die ander persoon verloor het vir verdere gesprek omdat hy daardeur verneder is. En dit is beslis liefdeloos!

Paulus noem die voorbeeld van kos wat vir sekere gelowiges taboe is as gevolg van hulle geloof. Vir die Joodse gelowiges was onrein vleis ‘n baie teer sakie! Varkvleis by name, was iets wat hulle nie met ‘n tang aangeraak het nie. Paulus sê dat as jy saam met so ‘n persoon eet as gasheer, dan sorg jy maar liewer dat daar nie varkvleis op die tafel is nie, al is dit ook hóé lekker, want dit is vir hom aanstootlik, en net miskien kan dit ‘n muur bou tussen hom en die evangelie.

Eintlik gaan die hele ding daaroor dat kerklike verdeeldheid ten alle koste vermy moet word, en dat ons verskille baie sensitief sal hanteer sodat daar eerder opgebou as afgebreek sal word. Dit is veral diegene wat sterker staan in die geloof wat uit liefde die inisiatief sal neem en opofferings sal maak om diegene wat nog swak is te dra en te versterk.

Die riglyne wat Paulus hiervoor gee, is in die eerste plek om niks te doen wat jou medegelowige kan laat val nie. Ek is byvoorbeeld baie lief vir my glasie rooiwyn, maar wanneer ek saam met iemand is wat 'n probleem met alkohol het, sal ek my mond nie aan wyn sit nie, want dit mag dalk net vir hom ‘n struikeling wees. Wees baie sensitief vir ander se probleme!

Op ’n sendingstasie vra ek eenmaal ’n jong meisie uit oor haar kleredrag: sy loop deur die veld, geklee in ’n ongemaklike lang rok wat tot op haar voete hang. “Dit is hoe goeie vrouens hier aantrek,” verduidelik sy, en al is dit vir haar bitter ongemaklik en onprakties, wil sy eerder só aantrek as om aanstoot te gee, want sodoende kan sy dalk iemand bereik met die evangelie. Dit is hoe liefde mos werk!

As jou kleredrag dalk kan beteken dat iemand anders daardeur kan struikel, moet jy dit eerder verander, al het jy sélf geen probleem daarmee nie. Wees met ander woorde hipersensitief vir medegelowiges se standpunte, want jy kan nie bekostig dat enigeen vir wie Christus gesterf het, struikel nie.

Dan moet jy natuurlik ook waak dat jy nie ‘n goeie saak ‘n slegte naam gee nie. Jy moet altyd onthou waaroor dit éintlik gaan, en nie in jou ywer vir ‘n saak vergeet dat alles eintlik rondom die Here draai nie. Die klassieke voorbeeld is dat die stad Konstantinopel deur heidene ingeneem is terwyl die Christenleiers besig was met ‘n vurige debat oor hoeveel duiwels daar op die Pous se hoed kan dans. Kleredragkode in die kerk en presies waar die ouderlinge moet sit, het soveel van die kerk se tyd en aandag in beslag geneem dat die vrede en vreugde van gelowiges se verlossing totaal vergete geraak het. Dan het liefde totaal in die slag gebly!

Paulus pleit dat ons opbouend sal wees. Bly liewer weg van die dinge wat kan afbreuk doen aan iemand anders se geloof. Sodoende bewys jy liefde aan jou mede-gelowige. Maar terselfdertyd moet jy ook nie bang wees om anders te dink as iemand anders nie. Ons mag maar in liefde van mekaar verskil! En ons moet júís met mekaar kommunikeer en hieroor gesels! Ek durf egter nooit my standpunte op enigiemand probeer afdwing nie. En as iemand my in ‘n hoek probeer druk, dan moet ek probeer om op ‘n baie sensitiewe en liefdevolle manier die onderwerp te verander eerder as om in ‘n argument betrokke te raak.

Die groot geheim is dat daar by my nie die geringste twyfel moet wees oor my eie geloofsoortuigings nie. Terselfdertyd moet ek biddend alles wat ek doen op só ‘n liefdevolle manier doen dat ek my medegelowiges met wie ek in aanraking kom nader aan God sal lei eerder as om ‘n struikelblok te wees. Ek moet seker maak dat ek te alle tye tot eer van God besig is om die opofferende liefde van Jesus vir my medegelowiges sowel as ongelowiges sigbaar te maak, veral vir diegene wat swakker as ek is in die geloof.

Gebed:

Here, maak my asseblief baie sensitief vir ander mense, sodat ek vir niemand ‘n struikelblok sal wees nie, maar U wonderlike Naam in al my doen en late sal verheerlik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026