Weduwees Wat Kóók

13 March, 2024

1 Timoteus 5:9-16

VIDEO | OUDIO

Gister het ek genoem dat daar in ons gemeente sommer ‘n groot aantal weduwees is. Meeste van hulle is vroue vir wie se hande daar niks verkeerd staan nie. Waar hulle saamkoek, kan jy séker wees word daar dinge gedoen! As jy dink aan weduwees, dan kom die gedagte by jou op van ‘n ou tannie wat op ‘n rystoel sit en wieg, met ‘n kniekombersie en ‘n kat op haar skoot. Om haarself darem so half-en-half besig te hou, hekel sy. Nie híérdie weduwees nie! In ‘n groot mate is hulle die naaf waarom die gemeente se wiel draai, want daar is haas géén gemeente-aksie waar daar nie ‘n paar van hulle aktief betrokke is nie.

Beplan jy ‘n sosiale geleentheid, dan is daardie klomp die eerste om hulle plekkie te bespreek. Dan kan jy ook maar weet, daar gaan weer dinge uitbroei wat kóók! As dáái klomp bymekaar is, kan jy net gróót sports verwag!

Dit is baie interessant dat Paulus met Timoteus in vers 9 praat van die “lys van dienende weduwees”. Dit wil voorkom asof hierdie vroue al vir die afgelope 2000 jaar so saamgestaan en saamgewerk het. Paulus noem die eienskappe wat ‘n vrou moes hê om deel van daardie “uitgelese groep” te kon word. Sy moes haar kinders goed opgevoed het, getrou gewees het aan haar man, vreemdelinge gehuisves het, verdruktes gehelp het, ensomeer. Met ander woorde, sy moes baie goeie deugde gehad het.

Wanneer ‘n vrou haar lewensmaat verloor, is dit ‘n reuse verlies in haar lewe. Vir veertig of vyftig jaar het hulle saam swaargekry, saam die krisisse van die lewe deurgemaak, saam blydskap en mooi dinge beleef. En skielik is hy nie meer daar om hierdie dinge met haar te deel nie. Skielik is die huis leeg en daardie stilte dryf jou teen die mure uit! Hy is nie meer daar om jou raad te gee, te troos en dingetjies vir jou te doen nie. In Paulus se tyd was dit nog véél erger. So ‘n vrou se hele lewensbestaan het verander, want skielik het sy géén inkomste meer nie en sy moet staatmaak op die aalmoese van ander. Onthou, anders as vandag, kon vroue nie werk om 'n inkomste te verdien nie.

Wanneer so ‘n slag jou tref, is jou eerste reaksie om op ‘n hopie te gaan sit en jouself jammer te kry. Die probleem is dat ledigheid die duiwel se oorkussing is! As jy gaan sit en tob en niksdoen, dan begin allerhande onheilighede in jou gedagtes uitbroei. Dan het jy tyd om skinderstories op te maak en kwaad te stook. So 'n persoon raak bemoeisiek en praatsiek en uiteindelik maak sy bloot ‘n oorlas van haarself! Gelukkig is daar in vandag se lewe baie meer ruimte vir ‘n weduwee as in Paulus se tyd, veral ‘n jonger een, om steeds ‘n roeping of beroep in die samelewing uit te leef. Ledigheid hoef vandag beslis nie deel van haar lewe te wees nie!

Dit is die plig van die gemeente om ‘n weduwee weer in die samelewing op te neem. Naas die materiële hulp wat sy nodig het, moet sy opgeneem word in die “lys van dienende weduwees.” Dit is deel van die versorging deur ‘n gemeente! Daar moet ruimte geskep word vir hierdie vroue, sodat hulle nie alleen "uit die kattekwaad gehou word" nie, maar terselfdertyd diensbaar kan wees vir die samelewing. Hulle moet dus wéét dat hulle êrens behoort en dat hulle beslis baie nodig is in die gemeente en samelewing.

Dit wil voorkom asof die vroue in Efese baie goed georganiseer was en dat hulle selfs ‘n belofte voor Christus moes aflê om deel te kon wees van die groepie van “dienende weduwees”. Waarskynlik het die belofte ingehou dat hulle hulle daarop sou toelê om goeie dade te doen. Moontlik het hulle gedien as verpleegsters, maatskaplike werkers, gasvroue of nooddienswerkers.

Omdat ’n weduwee gewoonlik al redelik aangestap het in die jare, het sy ‘n ryke lewenservaring en is haar geloof gebou, getoets en versterk oor baie jare. Hierdie is dinge wat van onskatbare waarde is. Elke gemeente sit hier met ‘n ryk bron wat hulle kan ontgin en gebruik op baie vlakke in die gemeente.

As jy ‘n leidende rol in jou gemeente speel, is dit dalk vandag die tyd om te gaan sit en dink of die weduwees in jou gemeente in die eerste plek die genoegsame versorging kry, nie alleen fisies nie maar ook geestelik. ‘n Baie belangrike deel van die geestelike versorging is om hulle te laat voel dat hulle nodig en bruikbaar is. Die vraag wat jy dus moet vra is of hulle ervaring na wense in die gemeente aangewend word? Word daar vir hulle ruimte geskep om hulle jarelange kennis uit te leef? En baie belangrik: word hulle aktief betrek?

As jy ‘n weduwee is, is my pleidooi vandag by jou om nie op ‘n hopie te gaan sit nie. Skakel aktief in! Leef voluit! Stel jouself beskikbaar en leef jou talente ten volle uit. Nie alleen versag dit die groot seer en die leë plek wat jou lewensmaat gelaat het nie, maar dit gee jou ‘n nuwe doel om na te jaag. Dit gee jou ‘n splinternuwe lus vir die lewe en ‘n wete dat jy nodig en bruikbaar is in jou gemeente en samelewing!

Gebed:

My gebed gaan uit na al die weduwees wat vanoggend met ‘n groot seer en leegheid sit. Here, versterk hulle en gee hulle weer ‘n doel om na te streef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026