1 Petrus 3:18-22
Is spoke ‘n werklikheid? Is hule dalk die geeste van dooie mense wat hier ronddwaal?
Grootoog vertel die plaaswerker my van die afkop-man wat snags hier rondsluip, of eerder rondjaag op sy perd. Die sweet begin sommer klaar op sy voorkop uitslaan by die blote gedagte. “Hy ry op ‘n pikswart perd,” die arme man het verskriklike ontsag vir hierdie vreesaanjaende wese. “En dan klap hy sy sweep lat jy net sien vonke spat!” Die kêrel se donker gelaat word spierwit bleek. “Dan verdwyn hy skielik sommer net so!” Nou het hy skoon die papperellekoors!
“En jy het hom sélf, persoonlik, met jou eie twee oë gesien?” Ek is vol verwondering.
“Nee, nog nooit!” Hy is baie verontwaardig. “Ek loop nie in die nag rond waar spoke is nie!” Die blote gedagte aan ‘n spook, gee hom die bewerasies. Nie eers gepraat van die tokkelossie nie, dan kry hy sommer floutes! Dáárdie man se naam mag nie eers uitgespreek word nie! Hy is bitter gevaarlik! Nee, hy het ook nog nooit die Tokkelossie gesien nie, maar mens weet nooit - jy kan nóóit te versigtig wees nie!
Langenhoven het puik spookstories geskryf, en hulle so oortuigend vertel dat baie mense vas geglo het dat sy stories waar en eg was. Ek het sélf al spookstories opgemaak, en dit met sulke oortuiging oorgedra dat my niggies wat op Oupa John se plaas by Waterval Boven vir ons kom kuier het, gegil het van angs. En ék het natuurlik gekraai van lekkerkry! Luister gerus (ás jy genoeg moed het!) na my eie spookstorie uit my weermagdae by DRAMA.
In 1 Petrus 3:19 kry ons so ‘n ou klein kykie in die angste van die mense van daardie dae. Petrus praat van die “geeste in die gevangenis”. ‘n Mens kan eintlik maar net afleidings maak oor hierdie vreemde sinnetjie wat hy hier skryf. Ons moet onthou dat daar etlike boeke geskryf is in daardie jare wat gedeeltelik fiksie is en gedeeltelik geskiedenis - skrywers doen dit vandag nog, en dit sorg vir ‘n baie outentieke verhaal.
1 Henog is een so ‘n voorbeeld uit Petrus se tyd, en hierin verwys die skrywer na die “hemelwesens” waarvan in Genesis 6:1,2 geskryf word. Die straf vir hulle verkeerde dade sou wees om êrens in ‘n gevangenis opgesluit te wees. Die mense tóé ‘n heilige vrees gehad vir dáárdie hemelwesens, want as van hulle dalk per ongeluk ontsnap, was daar GRÓÓT moeilikheid! Bose wesens, daardie!
Spoke en bose geeste was vir die mense van daardie tyd ‘n groot werklikheid - en ‘n reuse vrees. Ons lees in Mat. 14:26, waar Jesus op die see geloop het. Die dissipels het groot geskrik toe hulle Hom vir ‘n spook aansien! Ons kan hulle seker nie kwalik neem daarvoor nie, want wie verwag nou dat enige lewende wese op die see sal rondloop? Die feit bly egter dat selfs Jesus se intieme leerlinge aan spoke geglo het, en boonop bitter bang was vir hulle!
Petrus besweer ons grootste vrese. Jesus het nie alleen vir ons sondes gely en gesterf nie. Hy het véél meer gedoen. Dikwels dink ons aan Jesus alleen as ons Verlosser. Ja, natuurlik is dit waar, maar Hy het ook die dood en die hel oorwin. Toe Hy uit die graf opgestaan het, het ‘n hele nuwe wêreld vir alle gelowiges oopgegaan! Maar daar is nog véél meer: Hy het nie net die dood oorwin nie, maar ook die bose. Petrus wil nou vir hierdie mense wat so vreesbevange is oor die onbekende, die “geeste in die gevangenis” wat hulle enige oomblik kan verslind, sê dat Jesus selfs hierdie “geeste” finaal oorwin het.
Vandag beteken dit dan ook vir my en jou dat Jesus selfs die “spoke” in ons lewens oorwin het. Én die Tokkelossie en enige ander vorm van boosheid. Ek wil my nie uitlaat oor die vraag of daar wel spoke is, en of dit geeste van mense is wat ronddwaal nie, want dit sal ‘n lang bespreking uitlok. Ons kan daaroor maar net bespiegel. Die feit is egter dat géén gelowige ooit ‘n vrees hoef te hê vir hierdie bose “wesens” nie, want daar is in die eerste plek geen mag of krag of bose engele of spoke of wat-ookal wat buite die heerskappy van Jesus Christus staan nie.
Petrus se hantering van die gelowiges van daardie tyd se vrees vir die “geeste in die gevangenis” wys vir ons hoe ons vandag soortgelyke vrese moet aanpak. In die eerste plek hoef ons nie vir mense te sê dat die Tokkelossie of spoke nie bestaan nie. Om die waarheid te sê is bose magte en demone en ál daardie skrikwekkende gedrogte ’n groot werklikheid wat niemand sommer kan wegpraat nie. Is spoke nie dalk ook ’n werklik nie? Ek sal nie weet nie! Die feit is egter dat ons nie daarvoor bang hoef te wees nie. Ons moet eerder die blye nuus bring dat Christus ál hierdie bose dinge oorwin het. Hy is in beheer van alles en almal!
Gebed:
Dankie Here, dat ek rustig kan slaap sonder die vrees van enige bose magte. Al gaan ek ook deur die dal van doodskaduwee - ek sal géén onheil vrees nie, want U is met my!