Markus 9:9-13
Petrus se lewe is soos ‘n skuitjie op ‘n rowwe see – een oomblik bo-op die kruin van die golf, die volgende weer héél onder, dan weer bó op die volgende kruin! Skaars het Jesus hom vertel dat hy in dieselfde kraal as die duiwel is, dan beleef hy weer ‘n eksklusiewe ontmoeting met Moses en Elia!
“Wat het ek gedoen om dit te verdien?” Petrus kan nie wág om onder te kom sodat hy die ander kan vertel van hierdie ongelooflike ondervinding nie. Wow! Om vir Elia en vir Moses te kon ontmoet! Petrus gee ‘n wilde bokspring oor ‘n groot klip van pure uitgelatenheid. En om sy Meester se verheerliking te kon beleef - Sy glansende klere, Sy blink gelaat – kan jy dit óóit vergeet?! “Ek móét net gaan vertel! Die manne gaan só jaloers wees!”
Dan dink Petrus aan die stem van God uit die wolk. Daarvan wil hy liewer vergeet, hy was só bang!
Jesus lees Petrus se gedagtes. “Julle mag vir niemand vertel van wat julle vandag gesien het nie, onder géén omstandighede nie!” Daar is ‘n groot dringendheid in Jesus se stem.
“Maar Meester, waarom nie?” Petrus is bitter teleurgesteld.
“Julle kan dit vertel nadat die Seun van die Mens uit die dood opgestaan het, dán moet álmal hiervan weet!”
Johannes fluister in Petrus se oor: “Wat bedoel Hy daarmee dat die Seun van die Mens uit die dood sal opstaan?”
“Ja, ek wil ook weet!” brom Jakobus. Petrus trek sy skouers op, hy verstaan óók nie. Hierdie Meester van hulle praat soms in baie groot raaisels.
Jesus loop ‘n entjie voor die drie manne. Hy mag nie toelaat dat hierdie geheim, dat Hy die Seun van God is, nóú al uitlek nie. Die tyd is nog nie ryp nie. As die manne dit nóú moet uitblaker, sal dit die verkeerde uitwerking hê. Die kruisdood lê voor! Jesus sidder as Hy daaraan dink. Maar Hy durf nie daarvan wegskram nie, want daarsonder kan die versoening net eenvoudig nie plaasvind nie. As die geheim nóú uitlek oor Wie Hy waarlik is, sal dit die aandag aftrek van die kruisiging. Dit durf nie gebeur nie! Baie mense is alreeds besig om Hom te sien as die Messias, maar hulle het die verkeerde idee van wie die Messias werklik is. Dit is só jammer dat hulle baie teleurgesteld gaan wees wanneer hulle moet sien dat hulle Messias nie is wie hulle dink nie. Ja, hulle sál die kruisiging moet sien, al die pyn en verskrikking daarvan beleef voordat hulle sal verstaan dat die Messias nie gekom het om in prag en praal te leef nie. Hy het immers nié gekom as ‘n politieke regeerder en om die Romeine te verdryf nie. Die ware Messias het gekom om te ly!
Wanneer Hy eers uit die dood opgestaan het, dán kan en móét die geheim uitgebasuin word vir die ganse wêreld om te hoor! Dán kan hierdie drie manne by Hom, die manne wat Hy so innig liefhet ten spyte van hulle foute, maar vir álmal vertel van wat hulle vandag hier beleef het. Moontlik sal hulle dán ook verstaan waaroor dit alles gegaan het.
“Meester!” Petrus het ‘n gróót vraagteken op sy gesig. “Meester, waarom sê die Skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?”
Nou is die arme Petrus se verstand alweer deurmekaargekrap. Hier het hy so pas vir Elia persoonlik gesien op die berg, maar waarom het Elia dan nie agtergebly nie? Moes Elia dan nie die pad vir die Messias voorberei het nie? Hy is nou séker dat sy Meester wél die Messias is, maar dan moes Elia mos saam met hulle afgekom het? En nou is hy terug hemel toe! Hy verstaan nie....…?
Jesus verduidelik dat die Skrifgeleerdes hééltemal reg is dat Elia eers moes kom. Maar dan beklemtoon Hy eers weer van die lyding wat die Messias moet deurmaak. Die manne bly so vashaak aan die “glorieryke Messias” dat hulle die ware feite nie raaksien nie. Dus hamer Hy eers nog ‘n paar spykers in om hulle te laat verstaan. “Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom en hulle het aan hom gedoen wat hulle wou, soos daar oor hom geskryf staan.”
Ja, die arme Johannes die Doper het dit nie maklik gehad as opvolger van Elia nie. En hy moes ‘n gróót prys betaal vir sy taak. Afgryslik hoe hy aan sy einde gekom het, maar ten minste was sy lyding nie lank nie. ‘n Vinnige swaard en alles was verby. Die vernedering van sy bebloede kop wat in ’n skottel voor al Herodus se spottende, besope gaste tentoongestel is, is hom gelukkig gespaar, want toe was hy alreeds saam met sy voorganger, Elia in die hemel. In ‘n sekere sin het Johannes se lyding ook vooruitgewys na wat Jesus nog sou moes deurgaan voordat Sy aardse taak afgehandel sou wees.
Ons is vandag so bevoorreg om die ware feite te ken omtrent Jesus: Hy is die Seun van God en Hy is die Verlosser. Die vraag is egter of ons hierdie kennis waarlik in ons harte dra? Dit moet egter baie meer as net kennis wees! Dit moet ook vertroue wees en ‘n lewende verhouding. Omdat ons weet Wie Jesus waarlik is, en in Hom glo, kan dit nie anders as dat ons geloof ‘n volle, onvoorwaardelike vertroue in Jesus, die Messias, die Seun van God, Skepper van die heelal asook ‘n lewende liefdesverhouding met Hom sal behels.
Gebed:
Here, U is alles in my lewe. Dankie dat U my innig liefhet ten spyte van al my foute!