Johannes 3:16-18
Johannes 3:16 kan met reg as die middelpunt van die Bybel gesien word - dalk nie geografies nie, maar beslis in ‘n geestelike sin. Hierdie enkele versie plaas alles wat ons in die vier evangelies oor Jesus lees in ‘n Goddelike perspektief. God se liefde vir die wêreld is so groot dat Hy bereid was om sy Seun, Jesus daarvoor op te offer. Dis beslis die grootste genadegawe óóit!
Wat word bedoel in Johannes met daardie woordjie “liefde”? Uit al die verskillende beskrywings daarvan oor ‘n wye spektrum geskrifte kan ons duidelik aflei dat liefde nie ‘n emosionele saak is nie. Verliefdheid wat byvoorbeeld elkeen van ons as tieners getref het, was suiwer emosie, of dalk ons hormone wat met ons op loop geraak het. Ongelukkig is dit daardie selfde verliefdheid wat dikwels ook maak dat mense trou, en ‘n jaar of twee later, as die emosie opgedroog het, skei hulle paadjies weer!
Ware liefde kan dalk beter vertaal word met die woordjie “lojaliteit”. Wat is dit wat twee mense vir vyftig of sestig jaar gelukkig bymekaar hou, selfs deur die swaar tye en die tye waar hulle vir mekaar kwaad was? Dit is ‘n onbeskryflike liefdesband, waarvan intense lojaliteit ‘n onlosmaaklike deel vorm. Dit behels onder meer ‘n verpligting teenoor mekaar, dat die een na die ander sal omsien en dat hulle mekaar sal help en bystaan deur dik en dun.
Dalk kan ons so ‘n ietsie hiervan sien in die liefde van God vir die mens. Hy was bereid om alles op te offer om ons te red. In ‘n liefdesverhouding is daar egter twee kante. God het alreeds Sy kant gebring, en nou is dit die mens se beurt om daarop te antwoord. Jou antwoord is nie ‘n emosionele besluit nie, maar ‘n nugtere wilsbesluit om God se liefdesaanbod te aanvaar. Dit is ál wat Hy van jou vra. Wat daarop volg is dat die liefdesverhouding gebou word, soos in enige stabiele huweliksverhouding. Natúúrlik is daar óók emosie betrokke - by party mense baie meer as ander.
Om enige liefdesverhouding te laat slaag, verg harde werk. Die twee partye moet mekaar dééglik leer ken. God ken my alreeds en nou is dit mý beurt. Ek leer Hom ken deur die openbaring wat oor Hom geskryf is, die Bybel te bestudeer. Kommunikasie is van uiterste belang in enige verhouding, só ook in my verhouding met God. Hy praat met my deur die Woord, daarom móét ek dit lees. Ek gesels weer met Hom deur gebed. Gebed is dus nie maar iets wat verpligtend is vir elke Christen nie, maar dit is jou kommunikasie met God.
Liefde beteken ook dat twee partye bereid is om dinge vir mekaar te doen. Van God se kant af is die sluise van die hemel oop, met alles wat Hy vir my doen. Wat is ek bereid om vir Hom te doen?
Maar kom ons kyk na enkele van die dinge wat Hy bereid is om vir my te doen. In Johannes 3:16 lees ons dat as ek in Jesus glo, ek nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kry. Om verlore te gaan, beteken dat jy van die Lewende God se teenwoordigheid afgesny word. Dit beteken dat jy sonder Sy gawes en Sy liefde moet klaarkom. As ons maar net mooi gaan dink aan alles wat ons van Hom af kry, dan is die implikasies hiervan te verskriklik om aan te dink. As jy egter besluit om in ‘n liefdesverhouding met Hom te gaan, word hierdie moontlikheid totaal uitgesluit. Maar die bonus is dat jy boonop die wonderlike ewige lewe kry. Dit beteken dat die aardse fase van jou lewe vir ewig verleng word anderkant die afsterwe van jou ou liggaam, jou tydelike “tentwoning” soos Paulus dit beskryf. En in Openbaring kry ons ‘n klein kykie in die wonder van die lewe anderkant daardie poorte. Dis iets waarna elke gelowige met groot verwagting en opgewondenheid uitsien!
Daar is egter ‘n verdere aspek in hierdie liefdesverhouding: Oordeel! Ons kry dikwels die idee dat ons bang moet wees vir God, veral as ons die Ou Testament lees, waar Hy dikwels beskryf word as Iemand wat straf. Inderdaad kan God nie ongeregtigheid verdra nie, en anders as ons eie politieke stelsel waar korrupsie en ongeregtigheid dikwels maar onder die mat ingevee word, is Hy regverdig, en dit word gestraf. Hy wil ons egter nie in die hemel “inboelie” deur ons met straf te dreig nie. Inteendeel: Hy wil ons in Sy liefdesarms inroep. Jesus is nie gestuur om te kom straf nie, maar om diegene wat alreeds veroordeel is te kom red. Ek was verdoem tot die ewige straf, totdat ek Jesus se roepstem herken het, en geantwoord het deur Sy aanbod te aanvaar. Vir jare het Hy gesoebat, maar ek het my doof gehou vir Sy stem. Tot daardie wonderlike dag........
Teen die agtergrond van die donker wolke van verdoemenis en ewige verderf, straal die positiewe lig van Jesus se sending om mense soos ek en jy te kom red, nie op grond van ons verdienste nie, maar suiwer uit genade! Dit is soos iemand wat sy eie lewe opoffer en in die briesende golwe van ‘n stormsee inspring om drenkelinge wat gedoem is te gaan red.
Gebed:
Here, U liefde en genade vir my is so onbeskryflik groot. Ek bely dat my liefde vir U maar skraps is - help my asseblief om my liefde ten volle uit te leef!