Johannes 3:16
In hierdie reeks dagstukkies wil ons fokus op al die verskillende aspekte van liefde. Ons wil gaan kyk wat die verskillende skrywers in die Bybel hieroor gesê het.
Sekerlik die bekendste uitspraak oor goddelike liefde lees ons in Johannes 3:16. Hierdie kan met reg as die middelpunt van die Bybel gesien word - dalk nie geografies nie, maar beslis in ‘n geestelike sin. Hierdie enkele versie plaas alles wat ons in die vier evangelies oor Jesus lees in ‘n goddelike perspektief. God se liefde vir die wêreld, en dit sluit my en jou ook in, is so groot dat Hy bereid was om sy Seun, Jesus daarvoor op te offer!
Wat word bedoel met die woordjie “liefde” in die Nuwe Testament? Ek dink ons kan uit al die verskillende beskrywings daarvan oor ‘n wye spektrum geskrifte duidelik aflei dat liefde nie ‘n emosionele saak is nie. Verliefdheid wat byvoorbeeld elkeen van ons as tieners getref het, was suiwer emosie, of dalk ons hormone wat met ons op loop geraak het. Ongelukkig is dit daardie selfde verliefdheid wat dikwels ook maak dat mense trou, en ‘n jaar of twee later, wanneer die emosie opgedroog het, weer skei.
Ware liefde kan dalk beter vertaal word met die woordjie “lojaliteit”. Wat is dit wat twee mense vir vyftig, sestig jaar gelukkig bymekaar hou, selfs deur die swaar tye en die tye wanneer hulle vir mekaar kan kwaad word? Dit is ‘n onbeskryflike liefdesband, waarvan intense lojaliteit ‘n onlosmaaklike deel vorm. Dit behels onder meer ‘n verpligting teenoor mekaar, dat die een na die ander sal omsien en dat hulle mekaar sal help en bystaan deur dik en dun.
Dalk kan ons so ‘n ietsie hiervan sien in die liefde van God vir die mens. Hy was bereid om alles op te offer om ons te red. In ‘n liefdesverhouding is daar egter twee kante. God het alreeds Sy kant gebring, en nou is dit die mense se beurt om daarop te antwoord. Jou antwoord is nie ‘n emosionele besluit nie, maar ‘n nugtere wilsbesluit om God se liefdesaanbod te aanvaar. Dit is al wat Hy van jou vra. Wat daarop volg is dat die liefdesverhouding gebou word tot ‘n sterk, stabiele liefdesband. Natúúrlik is daar ook emosie betrokke, vir sommige mense baie meer as ander.
Om enige liefdesverhouding te laat slaag, verg harde werk. Die twee partye moet mekaar deeglik leer ken. God ken my alreeds deur en deur, nou is dit my beurt. Hoe leer ek Hom ken? Deur die openbaring wat oor Hom geskryf is, die Bybel te bestudeer. Kommunikasie is van uiterste belang in enige verhouding, so ook in my verhouding met God. Hy praat met my deur die Woord (daarom moet ek dit lees), en ek gesels met Hom deur gebed. Gebed is dus nie maar net iets wat verpligtend is vir elke Christen nie, maar dit is jou kommunikasie met God.
Liefde beteken ook dat twee partye bereid is om dinge vir mekaar te doen. Van God se kant af is die sluise van die hemel oop, met alles wat Hy vir my doen. Wat is ek bereid om vir Hom te doen?
Maar kom ons kyk na enkele van die dinge wat Hy bereid is om vir my te doen. In Johannes 3:16 lees ons dat ek nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kry. Om verlore te gaan, beteken dat jy van die Lewende God se teenwoordigheid afgesny word. Dit beteken dat jy sonder Sy gawes en Sy liefde moet klaarkom. Dink maar mooi aan alles wat ons van Hom af kry, dan is die implikasies van so ‘n gedagte te verskriklik om aan te dink. As jy egter besluit om in ‘n liefdesverhouding met Hom te gaan, word hierdie moontlikheid totaal uitgesluit. Maar die bonus is dat jy boonop die wonderlike ewige lewe kry. Dit beteken dat die aardse fase van jou lewe vir ewig verleng word anderkant die afsterwe van jou ou liggaam, jou tydelike “tentwoning” soos Paulus dit beskryf. In Openbaring kry ons ‘n klein kykie in die wonder van die lewe anderkant daardie poorte, iets waarna elke gelowige met groot verwagting en opgewondenheid uitsien!
Maar wat dan nou van God se oordeel? Ons kry dikwels die idee dat ons bang moet wees vir God. Veral in die Ou Testament word Hy beskryf as ‘n God wat straf. Inderdaad kan God nie ongeregtigheid verdra nie, en anders as ons eie politieke stelsel waar korrupsie en ongeregtigheid dikwels maar onder die mat ingevee word, is Hy regverdig, en word dit gestraf. Hy wil ons egter nie in die hemel “inboelie” deur ons met straf te dreig nie. Inteendeel: Hy wil ons in Sy liefdesarms inroep. Jesus is nie gestuur om te kom straf nie, maar om diegene wat alreeds veroordeel is te kom red. Ek was verdoem tot die ewige straf, totdat ek Jesus se roepstem herken het, en geantwoord het deur Sy aanbod te aanvaar. Vir jare het Hy gesoebat, maar ek het my doof gehou vir Sy stem. Tot daardie wonderlike dag........
Teen die agtergrond van die donker wolke van verdoemenis en ewige verderf, straal die positiewe lig van Jesus se sending om mense soos ek en jy te kom red. Dit is soos iemand wat sy eie lewe opoffer en in die briesende golwe van ‘n stormsee inspring om drenkelinge wat gedoem is te gaan red.
Gebed:
Here, U liefde vir my is so onbeskryflik groot. Ek bely dat my liefde vir U maar skraps is - help my asseblief om my liefde ten volle uit te leef.