Wat Is Geloof?

23 October, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wat Is Geloof?

Hebreërs  11:1-40

VIDEO | LUISTER

Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” Só beskryf die Hebreërskrywer die term: Geloof. Het ek God al ooit gesien? Nee, beslis nie! Nogtans is ek met my hele hart oortuig van God se bestaan. Waarom? Die Woord sê dit is so, en daarom aanvaar ek dit, maar nog meer belangrik is dat die Heilige Gees my dit op die hart lê.

Oortuiging is egter nie genoeg vir ‘n ware geloof nie: die ander belangrike aspek is vertroue. As ek slegs sou glo dat God bestaan, beteken dit niks – selfs die duiwel is oortuig daarvan! Om ten volle alléén op Hom te vertrou vir alles in my lewe - dit is waar die ware geloof begin inskop. Met ander woorde, daar moet 'n intieme, persoonlike verhouding met Hom wees. Geloof maak dit vir jou moontlik om binne die ruimte van die onmoontlike te leef.

In hierdie relatief-lang gedeelte in Hebreërs vertel die skrywer verhale van geloofshelde om te illustreer hoe geloof werk. Elke verhaal vertel van hoe die mense van daardie tyd geloof ervaar het, en wat die langtermyn gevolge daarvan in hulle lewens was. Dis ‘n positiewe en baie bemoedigende gedeelte wat ons ook weer met nuwe oë na die karakters laat kyk. Die skrywer noem ‘n lang lys van name, en ons gaan beslis nie vanoggend elkeen van hulle behandel nie. Maar daar is tog enkeles waaroor ons net eenvoudig móét praat - pilare uit die geskiedenis wat geloof simboliseer.

Abraham word allerweë beskou as die vader van geloof, alhoewel daar geloofsreuse soos Henog en Noag voor hom was. Abraham is egter iemand met wie ons selfs vandag kan identifiseer. Hy was ‘n welvarende man - iemand wat álles in die lewe gehad het. Wel, byna alles - die een ding wat kortgekom het was ‘n nageslag. Nóóit kon hy die vreugde smaak van vrolike kinderlaggies in sy huis nie, en dit was sy een groot begeerte, dat daar eendag vir hom ‘n seuntjie sou wees wat die familienaam gaan voortdra.

Abraham was ‘n gelowige man wat God aanbid het, maar dit het nie net by gebed gebly nie: hy het sy volle vertroue in God gewerp en in 'n persoonlike verhouding met Hom gestaan. Toe maak God ‘n belofte aan Abraham: hy sou ‘n nageslag hê wat ontelbaar groot is. Hierdie was, menslik gesproke, ‘n onmoontlike belofte, want soos almal weet was Abraham al baie oud en Sara was onvrugbaar. Maar Abraham het God vertrou. Soms het sy geloof tóg ‘n bietjie gewankel, soos die keer toe hy God se belofte in eie hande wou neem en hy en Sara besluit het om haar slavin te gebruik om vir hom ‘n nageslag te verwek. Dit was egter nie wat God vir Abraham in gedagte gehad het nie, en dit het uiteindelik uitgeloop op ’n tragedie. Toe Abraham al 100 jaar oud was en sy onvrugbare vrou Sara 90, maak die Here die absoluut onmoontlike waar en gee vir hulle ‘n baba!

Steeds is dit nie die einde van Abraham se geloofsbeproewing nie, en ‘n paar jaar later kry hy die opdrag om daardie enigste seuntjie van hom te gaan offer. Só sterk is Abraham se vertroue in God, dat hy die opdrag uitvoer sonder om vrae te vra. As God vir hom ‘n kind kan gee in sulke onmoontlike omstandighede, dan is God by magte om ook daardie kind uit die dood op te wek nadat hy geoffer is.

Die voorbeelde van Abraham se tipe geloof deur die geskiedenis van Ou Testament, asook in die Nuwe Testament is legio. Die vraag kom egter vanoggend na ons kant toe, want die geskiedenis was met ‘n doel opgeteken, sodat ek en jy daaruit kan leer. Hoe staan dit met ons geloof vandag?

Vir sommige mense is die waarhede wat in die Skrif opgeteken is net eenvoudig te vergesog, en kan hulle dit nie aanvaar nie. Baie van die ongelooflike wonderwerke waarvan ons lees word afgemaak as stories. Selfs Jesus se maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart word as fiktief afgemaak. Die Woord van God word afgewater tot “woorde van God”. Met sulke soort redenasies wil ek sê dat hulle dalk hulle geloof totaal verloor het.

Geloof is, soos ons aan die begin gesê het, om ten volle te vertrou op God. Dit beteken ook dat ek ten volle vertrou dat Sy Woord waar is. Maar wat beteken hierdie vertroue in God? Beteken dit dat alles met my net voorspoedig sal gaan? Nee, maar dit beteken wel dat God my in Sy hand sal hou, maak nie saak wat met my gebeur nie. Selfs marteling, armoede, bankrotskap of selfs die dood kan my nie van God se genade skei nie. Ons moet onthou dat hierdie lewe op aarde slegs ‘n tydelike een is, en dat die ware lewe vir ons voorlê anderkant die poorte van die dood.

Abraham het op God se beloftes vertrou, en God was getrou om dit waar te maak. God het ook vir my en jou beloftes gegee - nie van rykdom of voorspoed of ‘n lekker lewe op aarde nie, maar van ‘n onbeskryflike nuwe lewe in die ewigheid. Vertrou op God, want Hy hou Sy beloftes. Moet nooit, óóit Sy hand laat los nie, want die alternatief is afgryslik!

God se beloftes het egter nie alleen ewigheidswaarde nie: ook hier en nóú is Hy te énige tyd daar om jou te troos en dra, selfs deur die swaarste tye en die donkerste nag. Maar soos met Abraham behels geloof ook dat daar sekere voorwaardes van my kant af nagekom moet word.

Gebed:

Here, dankie dat ek kan weet dat U beloftes waar is. Gee my asseblief ‘n onwankelbare vertroue in U!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026