Wat Beteken die Dier?

29 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wat Beteken die Dier?

Openbaring 17:7-18

Johannes verwonder hom oor die sedelose vrou en die vuurrooi dier waarop sy sit. Wat kan die betekenis hiervan tog wees? Dat dit uit die bose is, is baie duidelik, maar hierdie verskriklike tweetal moet beslis ‘n diepere betekenis hê! Dan kom verduidelik ‘n engel vir Johannes waarvoor dit alles gaan. En Johannes dink seker: “Aaaaah, maar natúúrlik!” Maar as jy hierdie verduideliking lees, laat dit jou nog net dieper in die duisternis. In vers 8 lees ons byvoorbeeld van die dier wat eers was en nie nou is nie, en dat hy uit die onderaardse diepte gaan kom. Dit maak nie sin nie! Dit is om hierdie rede dat baie mense Openbaring begin lees, en dan neersit, want dit is tog maar net onverstaanbaar!

As ons egter die geskiedenis van die tydperk ná Christus in gedagte hou, dan begin jy lig sien. Om daardie rede is dit baie belangrik om Openbaring te lees saam met ’n goeie kommentaar wat vir jou die agtergrond geskiedenis kan skets. Vir die eerste lesers van Openbaring was dit eenvoudig, want hulle het die dinge rondom hulle sien afspeel. Hierdie gedeelte handel oor ‘n spesifieke tydperk in die geskiedenis, maar nog belangriker is dat ons hierin moet sien dat deur selfs die verskriklikste fases in die geskiedenis, God steeds in beheer is.

Die engel vertel vir Johannes dat die dier eers was en dat hy nou nie meer is nie. Hierdie dier is presies die teenoorgestelde van Christus. Jesus was en is en sal wees! Die dier is dus ‘n nabootsing van Christus, en sy ontstaan en bestemming is die verderf. Die Romeinse keiser Nero word gewoonlik hiermee in verband gebring. Volgens legendes sou Nero na sy dood terugkeer uit die onderwêreld om weer te regeer (hy sal weer uit die onderaardse diepte kom – vers 8).

Die dier het sewe koppe. “Hulle is sewe berge”, verduidelik die engel, en hy voeg by dat wysheid en verstand nodig is om dit te begryp. Rome is op sewe heuwels gebou, en die vrou, so het ons gister gesien, word met Rome geassosieer. “Die sewe koppe is ook sewe konings”, vertel die engel, om dit nog meer geheimsinnig en ingewikkeld te maak. Die betekenis hiervan is dat dit waarskynlik die opeenvolging van Romeinse keisers is.

Hierdie keisers staan egter nie alleen in die stryd teen die Christendom nie. Daar is die tien horings van die dier, wat tien konings voorstel wat vir ‘n kort, afgemete tydjie (simbolies een uur) gesag kry om saam met die dier oorlog te voer. Dit dui op ‘n volledige getal (10) Partiese heersers wat sal opdaag. Hulle is bondgenote en sielsgenote van die dier, en hulle streef presies dieselfde doel na, om die gelowiges te oorwin. Hierdie gesamentlike kragmonstering loop uit op oorlog teen die Lam en sy volgelinge. Volgens ‘n Griekse legende sou Nero, wat intussen weer lewendig geword het, saam met die Partiërs eers teen Rome optrek, en dan sou die gesamentlike magte die stryd aanknoop teen die Lam en sy navolgers.

Nou kom die vrou aan die beurt, en die engel verduidelik oor haar lot. Die waters waar die vrou bly, verteenwoordig die hele wêreld, uitgesonder natuurlik die navolgers van die Lam. Die tien heersers (tien horings) en die dier het teen die vrou gedraai, en hulle bewerk haar ondergang op allerhande maniere. Hulle haat haar, maak haar kaal en verlate, eet haar vleis en verbrand haar met vuur. Net soos ‘n uitgeskopte straatvrou word Rome kaal en verlate gelaat nadat sy “gebruik” is. Al haar weelde en losbandigheid is iets van die verlede. Sy is tot niet gemaak. Inderdaad het die bose magte van die dier en die vreemde magte saamgewerk om God se plan om Rome tot ‘n val te bring tot volvoering te bring. God het toegelaat dat die bose homself vernietig!

Blaai ons deur die geskiedenisboeke, sien ons so dikwels hoedat bose regerings, heersers of mense hulle eie ondergang bewerkstellig. ‘n Voorbeeld hiervan is die wêreld van die Mafia van Al Capone in Amerika. Hierdie skurke se grootste vyand was nie die polisiemag wat so hard probeer het om hulle te beheer nie, maar hulle eie sielsgenote. ‘n Mafialeier se lewe was nie ‘n sent werd nie, want daar was gedurigdeur iemand anders wat aspirasies gehad het om leier te word, en dan is talle mede-skurke koelbloedig vermoor in hierdie stryd. In ons eie land voer die bendes op die Kaapse vlakte ‘n skrikbewind, maar hulle grootste vyand is weereens ander bendes. Mense wat gewelddadig leef se lewe kom gewoonlik gewelddadig tot ‘n einde.

Daarteenoor is iemand wat die liefde van Jesus uitstraal se gesindheid aansteeklik. ‘n Persoon wat byvoorbeeld opgewek en vrolik by sy werkplek instap, met Jesus se liefde wat helder op sy gesig skyn en uit sy lewe straal, veroorsaak dat almal rondom hom naderhand opgewek en vrolik is.

Kom ons probeer vandag ‘n verskil maak, en vrolik die wêreld rondom ons op met Jesus se onoorwinbare liefde.

Gebed:

Here, maak my asseblief vandag ‘n toonbeeld van U wonderbare lig en liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026