Ware Vryheid

6 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Vryheid

Galasiërs 5:1-12

Video

Oudio

Paulus is baie ernstig oor Christelike vryheid! Hy kan die belangrikheid daarvan net eenvoudig nie genoeg beklemtoon nie! In hierdie perikoop dryf hy dit tot ‘n hoogtepunt voordat hy sy betoog afsluit. Dit is van die uiterste belang dat sy lesers dit ter harte moet neem. Hy pleit dringend dat hulle asseblieftog nie moet swig voor die dwaalleraars se wanpersepsies nie. Dit kan hulle hulle vryheid kos!

Dit is van uiterste belang om te weet dat Paulus se pleidooi nie alleen vir die Galasiërs daardie tyd was nie, maar steeds vir ons vandag geld. Die Bybel is absoluut tydloos! ‘n Brief wat tweeduisend jaar gelede geskryf is, bly vandag in ons moderne tyd steeds kraakvars en relevant! Inderdaad lyk die dwaallerings waarmee ons vandag te doene kry ‘n bietjie anders as dié van Paulus se tyd, maar die wesenlike van die Christelike godsdiens bly presies dieselfde. Ons kan dit in een enkele woord opsom: Vryheid!

Deur die eeue het mense na ware vryheid gestreef, en dit op allerhande maniere beproef. In ons moderne tyd is seker die mees prominente vryheidsaksie dié van die sestigerjare se Hippiebeweging. Ek sien hulle nog helder in my geestesoog, die lang hare, blond gebleik en met blomme in. Hulle propageer “vrye liefde” en hulle dae bestaan uit niksdoen en leeglê. ‘n Ou gehawende Volkswagen Kombi is sy ryding want daar pas baie siele in! ‘n Walm van goedkoop drank en dagga hang om hulle. Al wat hulle nodig gehad het, was om hulle “vryheid” te kon uitleef. “Vrede” en “Make love, not war” was hulle slagspreuk. Hierdie was ‘n valse gevoel van vryheid, en dit het uiteindelik ‘n stadige dood gesterf.

Die Hippie-era was nie die enigste nie, deur die eeue was daar vele oorloë vir vryheid van die een of ander onderdrukking. Miljoene mense het hulle lewens so opgeoffer vir vryheid, om hulleself net weer in ‘n ander vorm van slawerny in te werk. Vir die Grieke in Paulus se tyd het ware vryheid beteken dat jy kon doen nét wat jy wou. In die tyd van die Amerikaanse Wilde Weste het “vryheid” ook geseëvier, maar dit was dikwels só vry dat een en elk daagliks geleef het in doodsvrees, want jy was vry om enigeen dood te maak vir amper geen rede nie. Jy was nooit seker of jy nog die volgende dag sou leef nie. Dit is natuurlik as jy kan glo wat hulle in die flieks vir jou opdis!

Ware vryheid kan egter slegs bereik word as jy ‘n lewende verhouding met God het. Dit kan slegs bereik word deur Jesus Christus. Enigiets anders, hoe gewild of logies ookal, is maar net nóg ‘n vorm van geestelike slawerny. Die Galasiërs was besig om toe te gee aan die druk van die dwaalleraars om die Joodse tradisies te aanvaar. Dit sou beteken dat hulle weer in ‘n slawejuk ingedwing word. Paulus waarsku hulle baie dringend dat hierdie soort godsdiens, wat op die oog af baie Christelik lyk, gaan beteken dat hulle die band met Christus gaan verbreek! Dit klink verskriklik kras gestel, maar as hulle swig voor daardie klein aanpassing, neem hulle eintlik ‘n vals evangelie aan, ‘n evangelie waarvan die fondamente nie gelê is op God se genade nie maar op hulle eie prestasie.

Wat is volkome vryheid dan? Paulus sê dat ‘n gelowige in wese ‘n toekomsmens is. Hy is iemand wat in “Hoop” lewe. Hierdie “Hoop” is nie maar ‘n vae wensdenkery, soos om te hoop dat my rugbyspan gaan wen nie, maar ‘n absolute sekerheid dat sekere dinge wél gaan gebeur. Gelowiges kan só vooruitkyk na die oordeelsdag en ‘n 100% sekerheid hê van volkome vryspraak. Hierdie sekerheid lê natuurlik nie in jouself of jou eie prestasies nie maar in God, want as jy in Jesus Christus glo, dan het jy rééds volle vryspraak. Die Heilige Gees bevestig dan ook hierdie waarheid vir jou. 

‘n Gelowige is egter nie alleen ‘n toekomsmens nie maar ook ‘n aksiemens, want jou geloof gaan deur liefde oor in dade. Nee, dit is nie geloof én dade wat jou red nie, of soos baie mense glo dat daar eers geloof kom en later dade daarby nie. Hierdie is een enkele aksie! Goeie dade is ‘n direkte, outomatiese uitvloeisel van geloof. 

In vers 9 gebruik Paulus die voorbeeld van suurdeeg om te illustreer hoedat die verkondigings van die dwaalleraars hulle ganse menswees deursuur het. Dieselfde is egter ook waar van hoe geloof jou menswees beïnvloed. Soos ‘n bietjie suurdeeg die oneetbare deeg laat rys sodat jy ‘n geurige brood daarvan kan bak, so deurweek die suurdeeg van geloof ook jou lewe sodat jy ‘n aangename geur en smaak versprei op ‘n praktiese manier. Geloof gee jou totale vryheid, maar terselfdertyd maak dit jou bruikbaar vir die Koninkryk. Jou goeie werke doen jy egter nou nie meer omdat jy gedwing word nie, maar omdat jy ‘n intense begeerte het om dit te doen uit dankbaarheid. 

Gebed:

Dankie dat U my vrygemaak het, Here. Begeester my asseblief dat ek daardie vryheid ten volle kan uitleef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026