Ware Geluk

22 July, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Geluk

1 Korintiërs 4:6-13

Paulus stap ongedurig op en af. Hy is bitterlik omgesukkel as hy net dink hoe daardie gemeente besig is om die pot skoon mis te sit! “Skryf vir hulle”, sê hy omgekrap vir sy sekretaris, “Wie maak julle so belangrik?” Dis ‘n retoriese vraag, en dit het natuurlik net één antwoord! Hulle moet baie deeglik besef dat dit nie hulle eie goedheid is wat hulle so belangrik maak nie. Slegs God alleen kan voorsien. Natúúrlik is party mense (menslik gesproke) belangriker as ander, maar dan moet hulle baie goed besef vanwaar dit kom. “Skryf: En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?” Nóg ‘n retoriese vraag. Hulle moet ook besef dat alles wat hulle het, van die Here af kom, populariteit, mooi voorkoms, slimgeit, selfs besittings - alles kom van Hom af! “Kom ons beklink dit met nog ‘n vraag” Nou raak Paulus goed opgewerk! “As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?” G’n mens kan homself so aanstel asof hy sélf verantwoordelik is vir dit wat hy het nie. As die Here nie vir jou gee nie, het jy net mooi niks!
Driftig dikteer Paulus voort: “Julle het mos klaar alles wat julle begeer!” O die ironie: op wêreldse vlak het hulle alles, maar van die dinge wat hulle werklik nodig het om geestelik volwasse te kan word, het hulle weinig! Hoe wens hy dat hy net ‘n bietjie ware wysheid in hulle kan inslaan. “Julle is al klaar ryk!” Wêreldse rykdom mag hulle dalk hê, maar die ware rykdom van die Woord en van kennis van God - daaraan is hulle brandarm. “Julle regeer al klaar soos konings!” Besef hulle dan nie dat ons gelowiges eers eendag in die hiernamaals sal regeer nie? Dan sal elke gelowige natuurlik ‘n ware koning wees! Maar as hierdie gemeente net die lewe anders benader het, kon hulle alreeds nóú regeer het oor die sonde. Maar hiervoor is hulle gans te onvolwasse. “Miskien moet ek vir hulle sê dat ek graag saam met hulle op die troon wil gaan sit!”
Die probleem met die gemeente in Korinte was, dat hulle tóé al gedink het dat jy ‘n hemel op aarde moet hê. Hulle het mos nou klaar vir Christus, en dis al wat jy nodig het. Geestelike groei is oorbodig! waarom sal jy jou daaraan steur as jy reeds met die een voet in die hemel staan? Hoogmoed en baasspelerigheid het botoon gevoer in hulle lewens, en nederigheid was ‘n skaars kommoditeit!
Wat ‘n teenstelling: hierdie gemeente teenoor Paulus en die ander apostels! Paulus het in die tronk gesit, en dit was dikwels ook die lot van etlike van die ander apostels. Paulus het al gesien hoe hy in die arena opeindig om deur wilde diere of gladiators verskeur te word. As jy al die fliek “Quo Vadis” gesien het, dan sou jy weet watter spektakel en skouspel daar gemaak is van die gelowiges. Hulle is beskou as swakkelinge, dwase. Hulle is uitgejou deur die skare wat net bloed wou sien. Die skare het gehoop dat hierdie Christene darem ‘n mooi geveg sou opsit, maar dit het nie gebeur nie. Soos skape het hulle, al singende in die leeus se bekke ingeloop.
Paulus skryf vir die Korintiërs hoe hy en sy mede-apostels gedurig swaarkry ondervind, dikwels selfs moet honger ly en dat daar van rykdom g’n sprake is nie. Hy het nie eers ‘n huis nie, swerf rond van dorp na dorp (as hy nie in die tronk is nie). En dan moet hy boonop homself aan die lewe hou deur te werk, al het hy die Woord verkondig. Paulus was natuurlik ‘n tentmaker van beroep, en hy het homself onderhou deur tente te maak of herstel, waar hy ookal gaan preek het. Vir die inwoners van Korinte was dit natuurlik ‘n skande om met jou hande te werk. Slegs slawe het sulke vuil werk gedoen! Al soort werk waarin hulle belang gestel het was kopwerk. Dit was immers edel en nie in so ‘n lae klas soos handewerk nie! Gevolglik was manne soos Paulus wat die vernederende werk soos tentmakery gedoen het beskou as uitvaagsels en skuim van die aarde. Seker een van die redes waarom Paulus en sy medewerkers dikwels mishandel is.
Die saak was vererger deur die feit dat hulle maar redelik armoedig aangetrek was, en van aardse dinge min gehad het. Dit is so ‘n teenstelling met die sogenaamde “voorspoedsteologie” wat vandag so dikwels verkondig word. “Health, Wealth & Prosperity”, word dit ook dikwels genoem, of “Name it, claim it!” Dit is ‘n dwaling om te wil dink dat slegs omdat jy ‘n gelowige is, dit noodwendig finansieel met jou moet goed gaan.
Die gelowige het egter ‘n héél ander soort rykdom: die genade, liefde en innerlike vrede wat slegs God jou kan gee. Ware geluk het absoluut niks te doen met materiële voorspoed of rykdom nie. Innerlike stralende vreugde kan joune wees selfs as alles in die lewe vir jou verkeerd loop. Ons kan daarvan gaan leer by Habakuk! Hierdie dinge is baie meer werd as al die rykdom van die aarde saam. Maak dit jou eie en straal die liefde van Jesus uit met vriendelikheid en omgee. Dit is waar ware geluk lê.
Gebed:
Here, dankie vir die innerlike rykdom wat U vir ons gegee het. Help ons om U liefde deur vriendelikheid uit te straal aan die wêreld.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026