Ware en Valse Koning

6 December, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware en Valse Koning

Matteus 2:12-23

Herodus die Grote sterf in die jaar 4 vC. Het jy al ooit gewonder oor die jaar van Jesus se geboorte? Jy onthou seker nog wat ek nou die dag vertel het oor die sterrewonders wat reeds in 5 vC gebeur het? As jy ooit gewonder het, oor hoe dit dan moontlik was dat dit alles reeds in 5 vC gebeur het, dan bevestig Herodus se sterfdatum dit net. Jesus is nie in die jaar Nul gebore nie, maar waarskynlik in 5 vC, en ons kan hierdie afleiding maak n.a.v. die feit dat Herodus in 4 vC gesterf het.

Na Herodus se dood verskyn daar weereens ‘n engel aan Josef, nou reeds die sewende verskyning van ‘n engel. Sy woorde aan Josef: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.”

Josef pak dadelik op en keer terug na sy geboorteland. Hulle vestig hulle in Nasaret.

Herodus die Grote word opgevolg deur sy oudste seun, Herodus Argelaos, ‘n man wat mooi by sy wrede pa geleer het, en ‘n verskriklike humeur gehad het. Tydens ‘n Joodse opstand was hy eenmaal verantwoordelik vir 3000 Jode se dood, en so het hy weereens die Jode die harnas ingejaag. G’n wonder nie dat Josef besluit het om in Nasaret in Galilea te gaan woon. Daar was hy ten minste nie onder Herodus se heerskappy nie! Nasaret het algemeen bekend gestaan as die plek van die Nie-Jode, oftewel die heidene. Dit is ook interessant dat die Christene in Sirië, waar Matteus se gemeente waarskynlik was, die bynaam gehad het van Nasareners.

Kom ons roep net weer gister se dagstukkie in die geheue op, waar Herodus die Grote die onderwerp was van ons verhaal. Die verskriklike teenstelling wat ons sien in die geskiedenis tussen die destydse aardse konings en die ware hemelse Koning, is opmerklik. Wreedheid, jaloesie, hebsug, diefstal, moord en magsug was die alledaagse deel van die Herodus-familie. Hulle was so behep met hulle eie dinge dat hulle selfs mekaar uitgemoor het! Een van die Herodusse het selfs so ver gegaan om die grootste profeet van alle tye, Johannes die Doper se kop te laat afkap en die bebloede kop op ‘n skinkbord aan sy gaste te vertoon tydens een van sy talle partytjies. Absoluut walglik!

Intussen het die Herodusse in die grootste weelde en luuksheid geleef. Die prag en praal van hulle paleise het almal verstom gelaat. Hulle was almal flambojante aardse konings wat met mag regeer het.

In skrille kontras met die Herodusse, die “valse” konings van Israel, staan Jesus, die ware Koning van alle konings. Waar hulle selfvoldaan en vol eiewaan was, was Jesus nederig. Teenoor hulle wreedheid en moordlustigheid, was Sy lewe gekenmerk deur selfopofferende liefde. Die Herodusse was selfsugtig en het slegs aan hulle eie welstand gedink. Jesus se lewe is gekenmerk deur onselfsugtige self-opoffering en ongekende mededeelsaamheid. Herodus het onskuldige babas vermoor; Jesus se lewe getuig van genesing en selfs opwekking uit die dood. Van magsug was daar by Hom géén sprake nie. Hy het nie in manjifieke paleise gebly soos die Herodusse nie, maar het in Sy laaste jare nie eers ‘n huis gehad om in te bly nie. Hy het waarskynlik dikwels in die veld moes oornag.

Die Herodusse se lewens was deur die bank vir géén mens ‘n voorbeeld om te kon navolg nie.

Met Sy lewe het Jesus egter ‘n voorbeeld gestel wat ek en jy vandag steeds kan navolg. Hoe volg ons Jesus se voorbeeld na? Nee, dit is sekerlik nie nodig vir ‘n hedendaagse gelowige om te leef soos Jesus geleef het nie. Maar Hy het vir ons deur middel van gelykenisse en preke (die bergpreek) verduidelik watter beginsels in jou lewe belangrik is. Hy het ons geleer om nie slaafs die wet na te volg nie, maar om eerder te gaan kyk wat die ware betekenis van die wet is, en dan daarvolgens te lewe.

Ons kan egter wél ook fisies Jesus se lewensvoorbeeld navolg in ‘n sekere sin. Hy het onselfsugtig almal gedien, en dit is vir ons ‘n voorbeeld om na te volg. Hy was by uitstek die nederige Dienaar vir Wie niks/niemand te laag of onbelangrik was nie. Hy het selfs Sy dissipels se vuil voete gewas, iets wat slegs die laagste slaaf sou doen. Is ek bereid om so laag te daal? Sy diensbaarheid was ‘n ander wonderlike voorbeeld vir ons. Hy het van sonop tot sononder gewerk om mense te help, siekes gesond te maak, mense kos te gee en mense geleer. Hierdie Koning het uitgespring en sélf die harde arbeid in Sy koninkryk verrig! Is ek ‘n ywerige werker in die Koninkryk?

Die een groot ideaal wat Jesus egter vir ons uitgespel het is liefde. Daarvan was daar by die Herodusse absoluut niks, buiten natuurlik vir hulleself. Liefde vir God in die eerste plek en liefde vir jou medemens. Hierdie begrip is alles-omvattend.

Gebed:

Here, dankie dat U die ware Koning gestuur het om ons, nie alleen te red van sonde nie, maar ook om ons te leer hoe om waarlik te lewe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026
Die Vyeboom
19 October, 2026