Wanneer jy Twyfel

20 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wanneer jy Twyfel

Lukas 7:18-23

Het jy al ooit getwyfel in jou geloof? Het die gedagte al ooit deur jou kop geflits, dat hierdie hele “Godsdiens-storie” dalk net iets is wat in ons koppe is? In ons pragtige dorpie Ballito is daar op die oomblik ‘n groep wat besig is om ‘n “kerk van Satan” hier plaaslik tot stand te bring. Daagliks sien ons mense wat besluit het dat hulle niks met die Christelike Godsdiens te doene wil hê nie, en hulleself totaal wil distansieer van Godsdiens. Mense verlaat die kerk omdat hulle nie meer kan of wil glo nie. Hoe kan jy net eenvoudig jou geloof opgee?

Tóg moet ek bieg dat die twyfelgedagtes my ook al getref het, en dan wil ek myself skop dat ek my gedagtes vir ‘n oomblik aan die duiwel uitgeleen het. Elke dag beleef ek GOD se genade en wonderdade intens. Hoe kan ek óóit ophou glo?

Maar ek troos my daaraan dat ek nie alleen staan in hierdie stryd nie. Selfs die grootste van die profete het al in dieselfde bootjie gery. Vat nou maar vir Johannes die Doper - skielik het twyfel hom begin oorval oor Jesus. Nie lank voor hierdie episode nie, was Johannes die een wat Jesus gedoop het. By daardie geleentheid het hy nog vir Jesus gesê dat hy, wat Johannes is, onwaardig is om Jesus te doop. Met sy eie oë het hy aanskou hoe die Heilige Gees daardie dag op Jesus neerdaal, en het hy die stem van God uit die hemel gehoor. Die apostel Johannes skryf in Joh 1:29 dat Johannes die doper na Jesus verwys het as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Nogtans begin Johannes só twyfel dat hy boodskappers na Jesus stuur om Hom te vra of Hy werklik die Messias is!

Lukas skryf dat Jesus juis op daardie tydstip besig was om siekes gesond te maak. Natúúrlik moes Johannes mos hierdie wonderwerke van Jesus beleef het, of ten minste daarvan gehoor het. Jesus se antwoord aan Johannes was dan ook dat hy maar net moes kyk na alles wat gebeur het, die blindes wat skielik weer kon sien, lammes wat loop, selfs dooies wat weer lewendig geword het. Is dit nie al klaar genoeg vir Johannes om enige twyfel uit sy kop te kry nie? “Gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie,” sê Jesus vir Johannes se volgelinge, en daarmee stuur Hy hulle terug na Johannes.

As jy ooit begin om twyfelgedagtes te kry, dink maar net aan die talle wonderwerke wat dag-vir-dag rondom ons gebeur. Maak jou oë oop hiervoor, en sien hulle raak. Vat nou maar byvoorbeeld Hans Hartmann, ‘n paramedikus se verhaal. ‘n Paar jaar gelede kry hy die taak om siekes op een van die Mighty Men konferensies by te staan. Reeds met die voorbereiding tref talle teenslae hom, maar hy bly steeds vertrou. Uiteindelik is dit suiwer wonderwerk op wonderwerk wat hom in staat stel om na 200’000 mans te kon omsien!

Dan tref ‘n groot ramp die reuse konferensie, as Oom Angus onder die verhoog inmekaar sak. Hans Hartman word dadelik ontbied. In sy verslag skryf hy dat daar géén twyfel bestaan dat Angus Buchan beslis ‘n hartaanval gekry het. As paramedikus ken hy die simptome baie goed, dit is immers sy werk!

Terwyl Oom Angus na die hospitaal gevlieg word, bid die skare manne vir hom. Later kom die verslag van die hospitaal egter dat daar niks met Angus verkeerd is nie, absoluut niks wat dui daarop dat hy ooit ‘n hartaanval beleef het nie. Is dit nie ‘n wonderwerk nie? Ek dink hierdie voorval is nog vars in baie manne se geheues!

Jesus se antwoord aan Johannes se dissipels maan ons om Hom te aanvaar vir wie Hy is. Nie alleen het Hy siekes gesond gemaak nie, maar ook die evangelie aan armes verkondig. Ons soek graag die skouspelagtige wonderwerke van Jesus, maar vergeet gerieflikheidshalwe die wonder van doodgewone mense vir wie die skille skielik van hulle oë afgeval het om Jesus vir die eerste keer raak te sien!

Daardie wonder het waarskynlik al met jouself gebeur, die dag toe Jesus jou uit die modderpoel van verlorenheid geruk het en jou die ewige lewe gegee het. Dieselfde wonder speel hom dag-vir-dag af waar mense Jesus ontmoet. Wonderwerke ontvou voor jou oë wanneer jy sien hoedat mense verander wanneer Jesus deel van hulle lewe word.

Ek sélf kan maar net oor en oor getuig van die wonders wat hom elke dag in my lewe afspeel. Inderdaad het die Here my die talent gegee om te kan skryf, maar sonder die wonderlike influistering wat ek elke dag van die Heilige Gees beleef, sou hierdie dagstukkies nooit, óóit kon gebeur nie. Géén skrywer kan elke dag, week na week, jaar na jaar voortgaan en aanhou skryf nie! Slegs ‘n wonder van die Heilige God kan dit bewerkstellig.

Wanneer daar dus ‘n twyfelgedagte dreig om my te kom piets, dan dink ek aan al die wonderwerke wat ek beleef. Ons aanbid ‘n almagtige God vir Wie absoluut niks onmoontlik is nie!

Gebed:

Here, U is groot en goed en almagtig; aan U wonderdade is daar geen einde nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024