Wanneer God Praat

25 June, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wanneer God Praat

Hebreërs 12:14-29

Eksodus 19 vertel die verhaal van ‘n volk wat in doodsangs gestaan het omdat hulle ‘n ontmoeting met God gehad het. Moses het die “pasgebore” Joodse volk gelei tot by die berg Sinai. Daar het hy op God se bevel die berg alleen uitgeklim en die volk onder gelaat. God se opdrag aan hom was dat hierdie berg heilig is in God se teenwoordigheid, en dat niemand anders as Moses daar mag opklim nie, of selfs aan die voet van die berg raak nie. Só ernstig was die Here hieroor, dat enigiemand wat dit oortree summier doodgemaak moes word.

Hoe skrikwekkend! Miskien het hulle gewonder oor wat dan nou so spesiaal is aan ‘n berg in die woestyn? Dit het mos maar soos enige ander berg gelyk! Moses kry ‘n tweede opdrag: die mense moes hulle gaan was en skoon klere aantrek sodat hulle simbolies rein voor God kon staan. Wat wag daar op hulle? Wat gebeur wanneer jy die Almagtige God ontmoet? Oor die afgelope tyd was hulle al voorberei met God se teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom asook die verbysterende wonder by die Rietsee. Maar nou moes hulle God van aangesig tot aangesig ontmoet. En hulle was bitter bang, want hulle het al so ‘n ietsie van God se almag beleef!

Met dagbreek word die Israeliete uit hulle vere geskud deur die allerverskriklikste donderslae, en ‘n skerp, klaende geluid soos ‘n ramshoring wat al harder en harder word. Wanneer hulle uit hulle tente storm, sien hulle dat die berg gehul is in ‘n wolk. Weerlig blits bonatuurlik. Angsbevange sien hulle hoe rook oral uit die berg begin borrel. Die aarde skud, en dit voel asof die einde van die wêreld aangebreek het. Intussen word daardie eienaardige geluid van die ramshoring al hoe harder en harder. Die mense bewe van angs. Die volgende oomblik was daar ’n verblindende vuur toe God neerdaal op die berg. Gedurende hierdie magtige skouspel van God se teenwoordigheid, het Hy met Moses gepraat, terwyl die volk bibberend van vrees moes toekyk. Selfs Moses, wat menigmaal vir God ontmoet het, het gesidder van angs voor God.

Durf ek en jy vandag in ons sondige toestand voor die Almagtige God verskyn en met Hom praat? Dankie tog! Jesus het alles kom verander. Jesus het vir ons toegang bewerkstellig na die Almagtige God, sodat ons vandag in Sy teenwoordigheid mag staan sonder enige vrees.

Maar die gebeure by Sinai het tóg vir ons betekenis. Soos die Israeliete van ouds hulle simbolies moes reinig, nét so wil God ook hê dat ons gereinig en skoon sal lewe as ons met Hom ‘n verhouding wil hê. “Beywer julle vir vrede met alle mense asook ‘n heilige lewe,” is die pleidooi van die Hebreërskrywer. Hierdie sinnetjie is ‘n baie groot mondvol, want om in vrede met my medemens te lewe behels sommer ‘n klomp dinge van my kant af. Daar kan nie ware vrede wees sonder liefde nie. Om vrede te bewerkstellig vra van my baie harde werk, want dit beteken dat ek my moet doofhou as iemand iets sleg teenoor my sê, sodat ek nie daaroor kwaad word nie. ‘n Aggressiewe aanval moet ek antwoord met liefde en sagtheid. Dit beteken natuurlik ook dat ek niks sal sê wat kwetsend is teenoor enigeen nie, want ’n snedige antwoord beteken dat jou bedoelings nie waarlik opreg is nie. Om vrede te maak is beslis nie vir sissies nie!

Om heilig te lewe, is nóg moeiliker! Heilig beteken om afgesonder te wees vir God, en om van die sonde weg te bly. Natuurlik is dit menslik totaal onmoontlik om geen sonde te doen nie, maar jou lewe moet daarvan getuig dat jy probeer.

Vir ‘n enkeling is dit ‘n bitter stryd om so alleen teen die sonde te veg, en boonop nog vrede te probeer bewaar ook. Daarvoor het ons mekaar nodig om mekaar moed in te praat en te ondersteun, net soos die Comrades atlete wat mekaar oor die wenstreep dra. As iemand struikel is die ander daar om hom op te help. Binne ‘n gemeente is die ruimte geskep vir mense om mekaar te ondersteun. Skakel jy aktief by ‘n gemeente in? Indien nie, pleit ek vanoggend by jou om deel te word van daardie ondersteuningsgroep waar mense vir mekaar omgee omdat Jesus in hulle harte is.

Ja, inderdaad het ons nie nodig om in vrees en bewing voor God te staan vandag nie. Jesus is ons Middelaar, sodat ons sonder enige vrees met God kan praat. Ja, Hy is steeds die Almagtige Skepper van hemel en aarde, maar Jesus het vir ons die Deur geword na Hom. Jesus het Sy kant gebring deur alles te gee om daardie Kommunikasiekanaal te skep. Hy het selfs Sy eie lewe gegee en ‘n grusame dood te sterf aan die vloekhout hiervoor! Sal ek en jy nie ook maar ons kant bring vir Hom nie? Kom ons wys met ons lewens dat ons werklik waardering het vir wat Hy vir ons gedoen het.

Gebed:

Here, dankie dat U vir my die pad oopgemaak het sodat ek vandag vrymoedig met God kan praat. Help my asseblief om ‘n heilige lewe te lei.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026