Wanneer die Ramp Tref

28 March, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wanneer die Ramp Tref

Lukas 13:1-9

VIDEO | OUDIO

'n Groot skare mense sit rondom Jesus terwyl Hy besig is om vir die mense te preek. Eintlik kan jy dit gladnie “preek” noem nie, want Hy vertel vir hulle stories, gelykenisse. Petrus hang aan die meester se lippe want hierdie stories is op sý vlak! Al verstaan hy nie altyd mooi wat die betekenis is nie, bly die stories altyd mooi en treffend, en laat dit jou diep dink.

Skielik kom daar ‘n beroering in die skare. ‘n Paar manne kom uitasem aangehardloop: “Daar het iets verskrikliks gebeur”, hyg hulle, “dis daardie wreedaard Pilatus - hy het sy soldate in die tempel ingestuur.”

“Ja”, vervat ‘n ander, “en die arme mense was nog besig om hulle offerdiere te slag, toe die soldate hulle nét daar gryp en koelbloedig vermoor!”

Geskok luister die omstanders na die gru-verhaal. Daar gaan ‘n beroering op deur die skare: “Arme mense, hulle moes sekerlik verskriklik gesondig het!”

“Meester.....” Petrus verstaan nie baie mooi nie. “Was hulle sondes dan werklik so groot dat God hulle op so ‘n wrede manier moet straf?”

“Petrus, wat dink jy? Was hulle groter sondaars as die ander mense wat niks oorgekom het nie?”

“Meester, ek weet darem nie so mooi nie.”

“En wat van die slag toe die Siloam-toring omgeval het?” gaan Jesus voort, “onthou julle nog?”

“Ja Meester!” Petrus knik sy kop meewarig, “Foeitog, daardie arme mense. Niemand kon verklaar waarom die toring omgeval het nie! Daar is agtien mense dood...... tragies!”

“Nou ja, dink julle dat daardie agtien mense wat daardie dag omgekom het skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem? Nee, beslis nie. Maar Ek wil vandag vir julle sê dat julle julle moet bekeer, anders gaan julle ook so wreed omkom!”

Petrus kry sommer 'n vonkel in die oë as Jesus hulle nader wink want hier kom 'n storie! Dan vertel Jesus hulle ‘n storie van ‘n man wat ‘n vyeboom geplant het en geduldig gewag het dat die boom heerlike sappige vye moet voortbring. Drie jaar gaan verby, maar steeds dra die boom géén vye nie en nou raak die man ongeduldig: “Kap hom uit!” beveel hy die tuinier.

Maar die tuinier pleit egter dat die boom nog ‘n kans gegun moet word! Hy belowe dat hy die boom sal versorg en die grond rondom die boom sal omspit en as dit die volgende jaar steeds nie dra nie, kan hy maar uitgekap word!

Ons onthou almal nog daardie verskriklike ongeluk van 11 September, waar duisende mense binne ‘n kwessie van minute dood is toe vliegtuie die tweeling-torings getref het en hoe dit die wêreld geskud het! Ons onthou ook die vrae wat daarna gevra is - al die waaroms: Waarom het God dit toegelaat? Is dit oor die mense se sondes? Wou die Here Amerika straf? Waar was die Here - waarom het Hy dit nie gekeer nie? Vrae, vrae, vrae......

Mense kwel hulle oor allerhande teologiese sake, maar die héél belangrikste is dat hulle tot bekering kom. Is jy gereed om jou Skepper te ontmoet wanneer so ‘n ramp jou sou tref - as die Siloamtoring op jou sou intuimel? Is jy seker van jou verlossing - as Pilatus se soldate jou sou vermoor - weet jy waarheen jy gaan? As jy nie gereed is nie, sal jou lot baie erger wees as dié van die mense wat so wreed omgekom het. Dit is hierdie waarheid wat Jesus wil tuisbring wanneer die skokgolf die mense tref.

En met die gelykenis wil Jesus sê dat God genadig is en dat Hy iemand steeds kans sal gee om tot bekering te kom. Daar is egter ‘n perk aan Sy genade - aan die wagtyd. Iemand wat aanhou om God se genade en Sy smeekstem te verwerp gaan die een of ander tyd sy grasietyd oorskry.

Miskien praat die Here al geruime tyd met jou - jy het Sy smeekstem al talle kere gehoor en elke keer sê jy maar weer “Ek is nog nie gereed nie.” Dalk sê jy: “Ek wil eers ‘n beter lewe lei voordat ek vir Jesus kies.” of “Ek weet nie hoe om by Jesus uit te kom nie”. Wees gewaarsku dat jou grasietydperk dalk besig is om stadig uit te loop. In die uurglas van God se genade is daar dalk nog net enkele sandkorreltjies oor. 11 September het totaal onverwags gebeur. Vir diegene in daardie twee reuse geboue was daar nie meer tyd om eers tot bekering te kom nie - binne minute was alles verby - vir ewig! Luister na die pleitstem van God en neem vandag daardie stap om Jesus in jou lewe toe te laat!

Daar was baie vrae oor 11 September - “Waar was God?”, het om die wêreld ge-eggo. Talle verhale het agterna die lig gesien van mense wat nóg ‘n kans gegun was. Hartroerende verhale van mense wat op ‘n kritieke tyd ‘n vlug gemis het, of van iemand wat nie betyds was nie omdat sy nuwe skoene hom gedruk het, of van iemand wat ‘n pap wiel gekry het en nie betyds by die werk kon kom nie. Die Here se genade is baie, baie groter as Sy oordeel. Inderdaad was daar dalk duisende in die gebou wat die ewige verdoemenis in is omdat hulle aanhou uitstel het. Die gelowiges wat in die tweeling torings was, sit vandag egter aan Jesus se voete, in ‘n wêreld sonder enige smart en pyn.

Gebed:

Here, ek bid vanoggend vir elkeen wat U roepstem deur hierdie dagstukkie hoor!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026