Wagtyd

27 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wagtyd

Jakobus 5:7-20

VIDEO OUDIO

In vers 7 spoor Jakobus ons aan met die woorde: “Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here.”

Om geduldig te sit en wag, is nie maklik nie! Die vraag is vanoggend: hoe wag ‘n mens geduldig? En daarmee moet ons dan ook die vraag vra: Hoe wag ‘n mens NIE geduldig nie?

n Boer skoffel sy landerye skoon, trek elke bossie uit en wag dat die reën moet kom. Dit help nie om ongeduldig te raak of om moed te verloor nie, veral as hy sien dat die kos in die skure begin opraak. Elke boer besef maar ál te goed dat hy beslis nie reën kan maak nie, en dat dit slegs God is wat dit vir hom kan gee. As jy wil boer, moet jy baie gou leer van jou totale afhanklikheid van God. En dan, presies op die regte tyd – op Gód se tyd, gee Hy die reën. Hy gee die vroeë sowel as die laat reëns.

God gryp inderdaad in mense se swaarkry en lyding in. Dikwels gryp Hy baie anders in as wat ons van Hom vra of wat ons dalk verwag. Maar een ding is séker: uiteindelik gaan die gróót oes kom met Jesus se wederkoms.

Wagtyd kan ondraaglik moeilik raak, veral as jy ongeduldig begin raak. Dit gebeur dan ook dikwels dat jy jou wagtyd verkeerd deurbring. Wie het dan nou nie al vir 'n uur of twee in 'n dokter se spreekkamer sit en wag nie? En dit nadat jy 'n afspraak gemaak het vir 'n spesifieke tyd! Wat gebeur gewoonlik daar met jou gemoed? Dit begin borrel en kook in jou van ongeduld. Jy begin iets mompel van “dokters wat gedisorganiseerd is.” Jy kritiseer sonder dat jy weet wat die ware toedrag van sake is. Binne 'n kort tydjie het jy ál die ander mense in die wagkamer ook opgewerk en die arme ontvangsdame moet dit ontgeld!

Jakobus wil in vers 9 ons dit op die hart druk: “Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur.” Hierdie is een voorbeeld wat Jakobus noem van hoe ons NIE wagtyd moet deurbring nie. Ons moet byvoorbeeld nie teenoor mede-gelowiges kritiek lewer nie. Kritiek speel mense teenoor mekaar af en dryf gelowiges uitmekaar. Kritiek is baie selde opbouend. Dit breek jou eerder af en maak seer. As jy die dag dan móét kritiek lewer, dan moet jy dit biddend en met groot omsigtigheid doen en baie, báie seker maak dat die persoon dit in die regte lig sal sien en nie daardeur seergemaak voel nie. As jy onseker is oor hoe hy dit gaan opneem, moet jy liewer stilbly. As gelowiges het ons juis mekaar só nodig, want die wêreld daar buite dreig om ons te verswelg. Daarom moet ons mekaar eerder bemoedig en ondersteun as om kwaad te stook of enigsins iets te sê wat dalk verkeerd opgeneem kan word en kan seermaak.

In vers 12 vermaan Jakobus oor ‘n ander verkeerde manier om die wagtyd deur te bring, naamlik om ‘n eed af te lê. Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: gewoonlik sweer ‘n persoon - lê hy dus ‘n eed af as hy die ander party om die bos wil probeer lei. So sal 'n man byvoorbeeld vir sy vrou, wat onraad vermoed, dit op die hart lê dat hy “sweer” dat hy haar nog nooit, óóit verkul het nie. En dit terwyl hy voor sy siel weet dat hy die kat in die donker geknyp het met sy sekretaresse tydens die een of ander kantoorpartytjie!

Deur te sweer, roep jy God as getuie in van jou onskuld! Jy vra dan eintlik vir God om saam met jou te lieg sodat jy jou eie bas kan red! Daardie onskuldige “ek sweer” is dan gladnie meer so onskuldig nie. Dit is eintlik 'n baie ernstige saak, wat 'n wig indryf tussen jou en God.

Selfs in die hof skilder iemand dikwels ‘n totaal ander prentjie as wat werklik gebeur het, en dit nadat hy ‘n eed voor God afgelê het dat hy die waarheid en niks anders as die waarheid sal praat nie. Hier in die hof raak die saak eintlik nog véél erger, want nie alleen roep jy God valslik as getuie in nie, maar jy is verder ook besig om nie minder nie as twee van die Tien Gebooie te verbreek. Die derde gebod lui, dat jy die Naam van die Here nie ydellik mag gebruik nie. Deur 'n vals eed in die hof af te lê, word die misbruik van God se heilige Naam hier in die eerste plek verbreek. Dis egter nie al nie, want saam daarmee verbreek jy ook die negende gebod, waar God jou pertinent beveel om nie vals getuienis af te lê nie!

Dit gaan egter nóg verder, want deur te lieg in die hof, verbreek jy ook een van die landswette. Jy pleeg meineed, 'n strafbare kriminele oortreding!

Jakobus pleit in vers 12 dat as jy “ja” sê, dan moet dit “ja” wees en as jy “nee” sê, dan moet dit “nee” wees. Praat, met ander woorde, altyd die waarheid!

Gebed:

Here, ek staan diep skuldig voor U, want ek het al dikwels in my lewe die waarheid verdraai. Vergewe my asseblief Here, en help my om die waarheid uit te leef, elke dag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026