Handelinge 1:9-26
‘n Benoude gevoel omklem Johannes se hart as hy luister na Jesus se opdragte, daar op die berg. Dit voel so al vir hom asof dit Sy laaste opdragte is! Johannes herkou weer aan die opdrag, dat hulle Sy getuies oor die hele wêreld moet wees. Hulle moet dissipels van al die nasies gaan maak! Beteken dit dan óók die heidene, en selfs die Samaritane?
Terwyl Johannes nog so sit en tob oor daardie moeilike opdrag, is daar skielik ‘n wolk wat afdaal na hulle, en terwyl hulle almal toekyk, word Jesus in heerlikheid weggevoer op hierdie wolk, die hemel in.
Jesus is weg! Wat nou? Maar hulle word teruggeroep na die werklikheid wanneer twee “manne in wit klere” skielik uit die niet verskyn en hier by hulle kom staan. Engele uit die hemelse wêreld, wat vir hulle kom vertel dat Jesus net so weer sal terugkeer soos wat hulle Hom sien vertrek het.
Johannes het hom yskoud geskrik! Nou het dit egter tyd geword om die werklikheid in die gesig te staar, hulle moet begin herorganiseer. Hulle vertrek dadelik na Jerusalem, waar hulle vir die volgende weke gereeld by die tempel bymekaarkom. Een Sondag is die elf apostels in die bo-vertrek van ‘n huis bymekaar. Saam met hulle is ‘n aantal vroue, onder wie Maria, Jesus se ma, asook Jesus se broers. Hulle was aanvanklik baie skepties oor Jesus, maar na Sy kruisiging en opstanding het hulle tot nuwe insigte gekom. Hierdie groepie se getalle het gou aangegroei tot sowat 120 mense.
Onder leiding van Petrus en Johannes het die geesdriftige groep Jesus-volgelinge baie tyd saam in gebed deurgebring. Hulle was in opgewonde afwagting op die groot gebeurtenis waarvan Jesus hulle vertel het.
Petrus neem die inisiatief om ‘n ander apostel in Judas se plek te kies. Die getal twaalf is simbolies van die twaalf stamme van Israel, en hiermee word die hele Israel verteenwoordig. Eintlik gaan dit veel verder, want in hierdie twaalftal word die ganse “Nuwe Israel” verteenwoordig, dit wil sê, almal wat in Jesus glo. Petrus verduidelik vir die splinternuwe gemeente dat hierdie ding met Judas móés gebeur, want God het dit so bepaal.
Dit laat ‘n mens met vrae, en ek het al dikwels die vraag gehoor: “Het God dan vir Judas twyfel en ongeloof gegee sodat hy Jesus sou verraai?” Nee, baie beslis nie! Dit is nie in God se aard om iemand doelbewus van sy geloof te beroof nie. My persoonlike mening is, dat Jesus vooruit geweet het dat Judas met daardie duistere dinge in sy hart rondloop. Iemand uit Jesus se binnekring móés Hom verraai, en daarom het Hy doelbewus vir Judas as apostel gekies, wel wetende dat Judas onbetroubaar was, en dat hy ander motiewe gehad het. Dit moes vir Jesus bitter gewees het om vir ‘n volle drie jaar ‘n intieme verhouding met iemand aan te knoop, terwyl Hy deeglik bewus was van wat Judas aan Hom sou doen.
Om Judas dus as ‘n “onskuldige slagoffer van omstandighede” te sien, is totaal verkeerd. Hy was van die begin af korrup, en hy het baie goed geweet wat hy doen. Selfs sy mede-apostels het hom gewantrou, want hy het hulle geldsake hanteer, en hulle het vermoed dat hy van die geld gesteel het.
Maar nou is hierdie onsmaaklikheid agter die rug, en ‘n nuwe man moet in Judas se plek aangestel word. Twee manne staan as sterk kandidate: Josef, met die bynaam Barsabbas, wat letterlik beteken “Seun van die Sabbat,” waarskynlik omdat hy op ‘n Sabbatdag gebore is, en die ander kandidaat: Mattias. Hulle trek lootjies en Mattias word aangewys as die nuwe apostel. Hy was van die begin af een van Jesus se volgelinge, en het die volle pad gestap van dag een af, toe Jesus gedoop is tot met Jesus se hemelvaart. Mattias was dus ‘n waardige apostel.
Alles was nou gereed vir die koms van die Heilige Gees. ‘n Handjievol (120) begeesterde mense wat biddend gewag het, net soos Jesus hulle beveel het, was daardie Sondag bymekaar in die bovertrek in Jerusalem. Maar wat kan so ‘n klein ou groepie mense uitrig in ‘n wrede, bose wêreld wat dreig om hulle te verswelg?
Moontlik voel jy vandag presies dieselfde, as jy in jou gemeente sit met net ‘n klein handjievol mense wat bereid is om op te staan vir Jesus. ‘n Mens voel so verskriklik magteloos teen die oormag van die wrede wêreld. Jy sien die golwe van die heidendom wat op jou afstorm - Ateïsme, Satanisme, Islam en die massas mense wat die naam Christen dra, maar totaal ongelowig is! En jy wonder waar jou krag vandaan gaan kom.
Maar daar is wonderlike nuus: die Heilige Gees is eenmaal uitgestort sodat ek en jy ‘n oorwinningslewe kan hê, ook in hierdie op die oog af hopelose situasies. More lees ons DV van hierdie gebeurtenis.
Gebed:
Here, wanneer dinge dikwels ook vir my so hopeloos lyk - rig my oog op die wonderbare krag van die Heilige Gees, en die troostende belofte wat Jesus met Sy hemelvaart gegee het, dat Hy elke dag by my sal wees. Dankie Here!