Lukas 13:1-9
My dogter Anita besluit om na Israel te gaan om op ‘n kibbuts te gaan werk vir ‘n jaar of twee. En so neem ons haar die dag lughawe toe vir haar vertrek. Op pad lui my Mosbolletjie se foon - dis my seun, Jaco: “Anita moenie op daardie vliegtuig klim nie!” Ek hoor sommer hy is baie opgewonde en beangs. “Daar het so pas ‘n verskriklike vlieg-ongeluk gebeur in Amerika, en die wêreld is aan die brand, iets met terroriste te doen!” Ek is verward: wat het ‘n ongeluk in Amerika te doen met Anita se vlug na Israel? Ek skakel die motor radio aan. Nuusberig op nuusberig borrel oor die eter - die ganse wêreld is in paniek gedompel! Dit was 11 September 2001.
Ons onthou almal die verskriklike ongeluk waar duisende mense binne ‘n kwessie van minute dood is. Dit het die wêreld geskud! En al die vrae wat daarna gevra is, al die waaroms. Waarom het GOD dit toegelaat? Is dit oor die mense se sondes? Wou die Here Amerika straf? Waar was die Here dan? Waarom het Hy dit nie gekeer nie? Waarom, waarom, waarom?
Kom ons draai die klok 2000 jaar terug. In Jerusalem gebeur ‘n verskriklike ongeluk, wanneer een van die landmerke, die toring van Siloam, om die een of ander onverklaarbare rede ineenstort. Tragies sterf 18 mense in die grusame ongeluk. “Dis oor hulle sondes,” fluister die mense in die wandelgange. “GOD het hulle gestraf omdat hulle nie die wet onderhou het nie!”
Kort daarna gebeur nóg ‘n grusame ding, hierdie keer rég in die tempel waar mense besig was om offerandes te bring en te aanbid. Jesus was besig om te preek toe daar skielik ‘n beroering in die skare kom. ‘n Paar manne kom uitasem aangehardloop: “Daar het iets verskrikliks gebeur! Dis daardie Pilatus - hy het sy soldate in die tempel ingestuur.”
“Ja,” vervat ‘n ander kêrel uitasem, “en die arme mense was nog besig om hulle offerdiere te slag, toe die soldate hulle net daar gryp en koelbloedig vermoor!” Geskok luister die omstanders na die gru-verhaal.
“Arme mense!” sug iemand. “Was hulle sondes dan só groot dat GOD hulle só wreed moes straf?”
Jesus hoor die kwelvrae wat die mense in hulle harte saamdra. Hy antwoord egter nie hulle vrae nie, maar Hy gebruik die situasie om ‘n baie belangriker saak by hulle te laat indring, die saak van bekering. Mense kwel hulle oor allerhande teologiese sake, maar die héél belangrikste is dat hulle tot bekering moet kom. Is jý gereed om jou Skepper te ontmoet wanneer so ‘n ramp jou sou tref? Is jy seker van jou verlossing? Weet jy waarheen jy gaan as Pilatus se soldate jou sou vermoor? As jy nie gereed is nie, sal jou lot baie erger wees as dié van die mense wat so wreed omgekom het. Dit is hierdie waarheid wat Jesus wil tuisbring wanneer die skokgolf die mense tref.
Dan vertel Hy hulle ‘n storie van ‘n man wat ‘n vyeboom geplant het en geduldig gewag het dat die boom heerlike sappige vye moet voortbring. Toe dit na drie jaar nie gebeur nie, beveel hy sy tuinier om die boom uit te kap. Die tuinier pleit egter dat die boom nog ‘n kans gegee word. Hy sal hom versorg, en as die boom die volgende jaar steeds nie dra nie, kan hy maar uitgekap word.
Met hierdie gelykenis wil Jesus demonstreer dat GOD genadig is, en dat Hy iemand steeds kans sal gee om tot bekering te kom. Daar is egter ‘n perk aan Sy wagtyd. Iemand wat aanhou om GOD se genade en Sy smeekstem te verwerp gaan die een of ander tyd sy grasietyd oorskry!
Miskien praat die Here al geruime tyd met jou. Jy het Sy smeekstem al talle kere gehoor, en elke keer sê jy maar weer “Ek is nog nie gereed nie. Ek wil eers ‘n beter lewe lei voordat ek vir Jesus kies.” of “Ek weet nie hoe om by Jesus uit te kom nie”. Wees gewaarsku dat jou grasietydperk dalk besig is om stadig uit te loop. In die uurglas van GOD se genade is daar dalk nog net enkele sandkorreltjies oor. 11 September 2001 het totaal onverwags gebeur. Vir diegene in daardie twee reuse geboue was daar nie meer tyd om eers tot bekering te kom nie. Binne minute was alles verby - vir ewig! Luister na die pleitstem van GOD en neem vandag daardie stap om Jesus in jou lewe toe te laat!
Daar was baie vrae oor 11 September, soos “Waar was GOD?” Talle verhale is agterna vertel van mense wat nóg ‘n kans gegun was. Hartroerende verhale van mense wat byvoorbeeld op ‘n kritieke tyd ‘n vlug gemis het. Iemand vertel dat hy nie betyds was vir werk nie omdat sy nuwe skoene hom gedruk het. Iemand anders het ‘n pap wiel gekry en kon nie betyds by die werk kom nie.
Die Here se genade is baie, báie groter as Sy oordeel! Inderdaad was daar dalk duisende in die gebou wat die ewige verdoemenis in is omdat hulle aanhou uitstel het. Die gelowiges wat in die tweeling torings was, sit vandag egter aan Jesus se voete, in ‘n wêreld sonder enige smart en pyn!
Gebed:
Here, ek bid vanoggend vir elkeen wat U roepstem deur hierdie dagstukkie hoor.