Lukas 13:1-9
Ons ry lughawe toe met my dogter Anita. Sy vlieg na Israel om daar te gaan werk vir ‘n jaar of twee. Op pad maak ons ‘n paar draaie, en ons gaan eet eers middagete in ‘n Wimpy. Dan lui Mosbolletjie se foon, dis my seun Jaco: “Anita moenie op daardie vliegtuig klim nie! Daar het glo ‘n verskriklike vliegongeluk gebeur in Amerika, en die wêreld is aan die brand - iets met terroriste te doen.” Ek is verward: wat het ‘n ongeluk in Amerika te make met Anita se vlug? Ek skakel die radio aan. Nuusberig op nuusberig borrel oor die lug. Die ganse wêreld is in paniek gedompel - dit was die 11de September 2001!
Ons onthou almal die verskriklike ramp waar duisende mense binne ‘n kwessie van minute dood is, en hoe dit die wêreld geskud het. Ons onthou ook die vrae wat daarna gevra is, al die waaroms: Waarom het God dit toegelaat? Is dit oor die mense se sondes? Wou die Here Amerika straf? Waar was die Here? waarom het Hy dit nie gekeer nie? Vrae, vrae, vrae......
Kom ons draai die horlosie sowat 2000 jaar terug. In Jerusalem gebeur ‘n verskriklike ongeluk. Een van die landmerke, die toring van Siloam, stort om die een of ander onverklaarbare rede ineen. Dit is ‘n besige deel van die stad en daar is ‘n gewoel om hierdie toring. Tragies sterf 18 mense in die grusame ongeluk. “Dis oor hulle sondes”, fluister die mense in die wandelgange, “God het hulle gestraf omdat hulle nie die wet onderhou het nie!”
Nie lank daarna nie gebeur nóg ‘n grusame ding, hierdie slag rég in die tempel waar mense besig was om offerandes te bring en te aanbid. Jesus was besig om te preek toe daar skielik ‘n beroering in die skare kom. ‘n Paar manne kom uitasem aangehardloop: “Daar het iets verskrikliks gebeur”, hyg hulle. “Dis daardie Pilatus, hy het sy soldate in die tempel ingestuur!”
“Ja”, vervat ‘n ander, “en die arme mense was nog besig om hulle offerdiere te slag, toe die soldate hulle nét daar gryp en koelbloedig vermoor!” Geskok luister die omstanders na die gru-verhaal. Daar gaan ‘n beroering deur die skare: “Arme mense! Was hulle sondes dan so groot dat God hulle op so ‘n wrede manier moes straf?”
Jesus hoor wat die mense sê. Hy hoor die kwelvrae in hulle harte. Hy antwoord egter nie hulle vraag nie, maar Hy gebruik die situasie om ‘n baie belangriker saak by hulle te laat indring, die saak van bekering. Mense kwel hulle oor allerhande teologiese sake, maar die héél belangrikste is dat hulle tot bekering kom. Is jy gereed om jou Skepper te ontmoet wanneer so ‘n ramp jou sou tref? As die Siloamtoring op jou sou intuimel, is jy gereed? Is jy seker van jou verlossing? As Pilatus se soldate jou sou vermoor, weet jy waarheen jy gaan?
As jy nie gereed is nie, sal jou lot baie erger wees as dié van die mense wat so wreed omgekom het! Dit is hierdie waarheid wat Jesus wil tuisbring wanneer die skokgolf die mense tref.
Dan vertel Hy ‘n gelykenis, ‘n storie van ‘n man wat ‘n vyeboom geplant het en geduldig gewag het dat die boom heerlike sappige vye moet voortbring. Toe dit na drie jaar nie gebeur nie, beveel hy sy tuinier om die boom uit te kap. Die tuinier pleit egter dat die boom nog ‘n kans gegee word. Hy sal hom versorg, en as die boom die volgende jaar steeds nie dra nie, kan hy maar uitgekap word.
Met hierdie gelykenis wil Jesus sê dat God genadig is, en dat Hy iemand steeds kans sal gee om tot bekering te kom. Daar is egter ‘n perk aan Sy genade, aan die wagtyd. Iemand wat aanhou om God se genade en Sy smeekstem te verwerp gaan die een of ander tyd sy grasietyd oorskry.
Miskien praat die Here al geruime tyd met jou. Jy het Sy smeekstem al talle kere gehoor, en elke keer sê jy maar weer “Ek is nog nie gereed nie.” Dalk sê jy: “Ek wil eers ‘n beter lewe lei voordat ek vir Jesus kan kies.” of “Ek weet nie hoe om by Jesus uit te kom nie”. Wees gewaarsku dat jou grasietydperk dalk besig is om stadig uit te loop. In die uurglas van God se genade is daar dalk nog net enkele sandkorreltjies oor. 11 September het totaal onverwags gebeur. Vir diegene in daardie twee reuse geboue was daar nie meer tyd om eers tot bekering te kom of eers vir Jesus beter te leer ken nie. Binne minute was alles verby! Vir ewig! Luister na die pleitstem van God en neem vandag daardie stap om Jesus in jou lewe toe te laat!
Daar was baie vrae oor 11 September. “Waar was God?” het dit om die wêreld ge-eggo. Talle verhale het agterna die lig gesien van mense wat nog ‘n kans gegun was. Hartroerende verhale van mense wat op ‘n kritieke tyd ‘n vlug gemis het, of van iemand wat nie betyds was nie omdat sy nuwe skoene hom gedruk het. Een persoon vertel dat hy ‘n pap wiel gekry het en kon nie betyds by die werk kom nie. Die Here se genade is baie, baie groter as Sy oordeel. Inderdaad was daar dalk duisende in die gebou wat die ewige verdoemenis in is omdat hulle aanhou uitstel het. Die gelowiges wat in die tweeling torings was, sit vandag egter aan Jesus se voete, in ‘n wêreld sonder enige smart en pyn.
Gebed:
Here, ek bid vanoggend vir elkeen wat U roepstem deur hierdie dagstukkie hoor.