Vye-Toebroodjie

6 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vye-Toebroodjie

Markus 11:12-26

VIDEO * OUDIO

Om die gebeure rondom die vervloeking van die vyeboom te verstaan, moet ons ook die gebeure waar Jesus die tempel gereinig het, asook die verdroogde vyeboom as ‘n geheel lees. Inderdaad het Markus ‘n “toebroodjie” geskryf! Lees jy die eerste deel op sy eie, maak dit gladnie sin nie, is Jesus se optrede onverstaanbaar, dalk selfs onregverdig.

Dit is belangrik om te weet dat hierdie handeling van Jesus ‘n simboliese daad was. Wat wou Hy hiermee sê? Jesus wou hiermee aantoon dat die Joodse volk en die stad Jerusalem vergelyk kon word met hierdie vyeboom wat nie vrugte gedra het nie. God het van hulle as Sy volk verwag dat hulle geestelike vrug sou dra, maar daar was niks. God het selfs so ver gegaan om Sy Seun, Jesus te stuur om vir drie jaar lank vir hulle te sê dat Sy Koninkryk aangebreek het. Hy het daardie wonderlike nuus nie alleen met woorde uitgebasuin nie, maar Hy het met die dinge wat Hy gedoen het vir hulle op ’n praktiese manier gewys dat die Koninkryk daar was. Asemrowende wonderwerke was aan die orde van die dag, maar hulle het Hom verwerp!

Die ergste was dat die kerkleiers, die mense wat verantwoordelik was om die volk te lei op Godsdienstige vlak, Jesus gedurig teengestaan het. In plaas daarvan dat hulle die volk aangemoedig het om Jesus te volg, het hulle Hom probeer doodmaak. Deur die vyeboom te vervloek, wys Jesus dus simbolies dat Hy die deel van die volk wat weier om Hom te volg, verwerp.

Kort daarna sien ons Jesus by die tempel, waar Hy die geldwisselaars se tafels omgooi en die handelaars uitjaag. Om te verstaan wat hier gebeur het, is dit nodig om te besef dat die tempel die spil was waarom alles in die Joodse Godsdiens gedraai het. Dit was as’t ware die hartklop van die kerk en die volk. Anders as meeste kerkgeboue vandag, waar dit ses dae van die week toe staan en daar niks gebeur nie, was die tempel anders. Daar was altyd ‘n gewoel en gewerskaf. Daar is offers gebring en mense het hulle gawes na die tempel gebring. In die pilaargange is daar onderrig gegee en dit was ‘n bymekaarkomplek.

Maar daar was iets baie tragies besig om te gebeur, want van die tempel as sentrum wat die koms van die Seun van God moes uitbasuin, het daar absoluut niks gekom nie. Die lewe het bloot voortgegaan soos wat dit elke dag voortgegaan het vir die afgelope paar honderd jaar. Alhoewel Jesus sélf in die tempel die Evangelie verkondig het, het niemand hulle daaraan gesteur nie. Niemand in die tempel - die huis van God - het ag geslaan op die koms van die Seun van God nie!

Eintlik was dit nog veel erger, want die Tempel het in ‘n sekere sin ontaard in ‘n rowersnes, waar die rowers baie vroom gesigte aangeplak het en mense laat glo het dat hulle eintlik vir hulle ‘n guns bewys het. Intussen is die arme mense uitgebuit met buitensporige pryse wat hulle moes betaal vir die voorreg om ‘n offer aan God te kon bring.

Met Jesus se skoonmaakveldtog wou Hy nie alleen die rowers aan die kaak stel nie, maar Hy wou ook wys hoe ver die “vroom” mense wat die tempel beman en besoek het werklik van God afgedwaal het.

In die derde gedeelte sien ons hoedat die dissipels ontdek dat die vyeboom oornag uitgedor het. Die vloek het ‘n werklikheid geword! Die boodskap is baie duidelik: As jy God se genade en liefde ondankbaar van die hand wys, is die gevaar daar dat jy uiteindelik ook deur God verwerp kan word.

Wat in die tempel aan die gang was, was op die oog af baie mooi en edel. Daar is offerandes aan God gebring en mense is gehelp op ‘n georganiseerde wyse om geld en diere te kon kry om te offer. Onder was dit egter vrot! Dis was leeg, want God was nie in hulle Godsdiens nie.

Dit is vandag ook ‘n waarskuwing aan ons, die kerk van Jesus, dat Jesus altyd die middelpunt van ons aanbidding moet wees.

Jesus roep dan ook die dissipels op tot die ware Godsdiens. Hy gee vir hulle drie baie belangrike sleutelwoordjies: Geloof, Gebed en Vergifnis. Wat beteken dit om in Jesus te glo? Daar is ‘n paar elemente in die woordjie “geloof” saamgevat. Die belangrikste is natuurlik om te glo dat Jesus vir my gesterf het en dat Hy my Verlosser is. Maar daar is meer: Geloof beteken onder meer ook dat ons Jesus ten volle vertrou vir wie en wat Hy waarlik is - God Almagtig. Hy wil hê dat ons geloof moet hê in Sy krag, en dat selfs die onmoontlike moontlik is met Jesus.

Die tweede sleutelwoordjie is natuurlik gebed, want dit is juis deur ‘n gelowige gebed wat Jesus ons toegang gee tot Sy krag. Ons moet egter onthou dat Hy ons nie hiermee vrye teuels gee om allerhande “sirkustoertjies” met gebed uit te voer nie. Wat ons vra moet in ooreenstemming wees met die wil van God.

Die derde sleutelwoord, vergifnis, is seker die mooiste woord in ons taal, want God vergewe al ons sondes in Jesus. Maar dit plaas op die gelowige ‘n baie groot verantwoordelikheid, want soos God ons vergewe, nét so moet ons ook bereid wees om ander mense te vergewe. Kan ons verwag dat God ons vergewe as ons selfsugtig weier om ons medemens te vergewe?

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n vergewensgesinde hart!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026