Vuur uit die Hemel

8 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vuur uit die Hemel

Handelinge 2:1-13

Vir Johannes, nes die ander gelowiges van Jerusalem, is dit ‘n baie spesiale dag. Hulle is almal bymekaar in die bovertrek van ‘n huis. Dit is natuurlik Pinksterdag, ‘n baie belangrike Joodse feesdag. Boonop is dit Sondag, die dag waarop Jesus uit die dood opgestaan het. Pinksterdag vind altyd plaas op die vyftigste dag na die eerste Sondag wat direk na die Joodse Pasga plaasgevind het. Dit het dus altyd op ‘n Sondag geval.

Johannes, Petrus en die ander gelowiges, 120 van hulle, is bymekaar, maar die idee van ‘n oesfees (wat die Jode vier) kom nie eers in hulle gedagtes op nie. Hulle wag steeds biddend op die groot gebeurtenis waarvan Jesus gepraat het.

n Ongemaklike stilte heers. Wanneer gaan dit gebeur? Wat gáán gebeur? Niemand weet nie, hulle kan maar net gis. Maar nie één van hulle was voorbereid op die asemrowende, gebeurtenis wat op hulle gewag het nie. In sy wildste drome kon Johannes nie voorspel wat daardie dag met hulle sou gebeur nie!

Uit die bloute kom daar skielik ‘n on-aardse geluid: ‘n geweldige stormwind wat uit die hemel neerdaal, al harder en harder. Dit pyl direk op die gebou af waarin hulle sit. Maar as die “wind” hulle tref, is daar géén wind nie, net daardie geweldige geluid. Johannes se hart gaan wild aan die bons: Wat kan dit wees? Die geluid vul die vertrek waarin hulle bymekaar is.

Van regoor die stad kom mense aangehardloop om te kom kyk wat aan die gang is. Jerusalem wil uit haar nate bars van besoekers van regoor die wêreld wat gekom het vir die Pinksterfees. En nou is daar iets baie opwindend besig om te gebeur! Duisende besoekers stroom na die oorsprong van die eienaardige stormgeluid, die gebou waar die handjievol gelowiges minute gelede nog besig was om te bid.

As hulle uitasem daar aankom, moet hulle tot hulle verbasing sien dat daar nie eers ‘n luggie trek nie. Maar dit is nie al nie: voor hulle verbaasde oë daal daar ‘n geweldige vuurvlam uit die hemel neer, reg op die bokamer af. Dan verdeel die vuur, en sprei uit na elkeen van die gelowiges daar binne. Die skare is oorbluf! Hulle kan nie glo wat hulle sien nie! Wat hier besig is om te gebeur kan maar net ‘n Goddelike verskynsel wees! Uit die geskiedenis weet hulle dat God al aan verskeie mense verskyn het in die vorm van vuur of soms ook ‘n stormwind: Moses het God vir die eerste keer so gesien in die brandende doringbos, en tydens die uittog uit Egipte was dit ook God wat in die wolk- en vuurkolom was. En wat van Karmelberg? Daar waar God se vuur uit die hemel neergedaal het en Elia se offer verteer het! Is hierdie wind en vuur wat hulle nou beleef nie dalk God wat uit die hemel neerdaal nie? Baie van die nuuskieriges is met groot ontsag gevul.

Maar dan gebeur daar nóg ‘n wonderwerk wat die skare, wat nou alreeds in hulle duisende daar saamdrom, se asems skoon wegslaan: Die gelowiges op wie die vuurtonge gaan sit het, begin om God te loof, en te praat oor die groot dinge wat God gedoen het. Die wonder is egter dat hierdie mense almal in verskillende tale praat! Nie ‘n vreemde, onverstaanbare nie, maar verstaanbare tale van al die lande in die bekende wêreld, asook verskeie dialekte. Elke persoon hoor die boodskap in sy eie taal, maak nie saak waarvandaan hy kom nie!

Die bedremmelde groepie gelowiges wat dae gelede nog verlore weggekruip het agter geslote deure, is nou skielik vreeslose predikers wat hulle geloof aan die wye wêreld verkondig. Die skare is in verwondering! Die platform is geskep vir nog véél groter dinge om te kom, hierdie is maar net die begin! Op watter wyse gaan God dit verder voer? Gaan die skare gunstig reageer op wat nou hier gebeur het? Gaan dit nie dalk maar net ‘n “vertoning” wees wat hulle môre of oormôre weer gaan vergeet nie?

Inderdaad is daar skeptiese mense wat die gelowiges uitlag: “Hulle is dronk!” Só word hierdie wonderwerk van God bespot. Maar hulle het nie met God rekening gehou nie! Wat hier gebeur het, is dat die kerk van daardie dag af die Heilige Gees se nuwe en permanente “aardse adres” geword het. Elke gelowige is dus met reg ‘n tempel van die Heilige Gees. Elkeen wat toelaat dat die Gees sy lewe beheer, sit met ‘n ongekende krag in hom wat berge kan versit. Die gelowiges van Pinksterdag het reeds getoon watter verskil die Heilige Gees in ‘n mens se lewe kan maak. Oor die volgende klompie jare sou hierdie handjievol mense se getalle letterlik ontplof in ‘n onstuitbare tsoenami van geloof wat oor die hele wêreld sou spoel.

Skielik staan Petrus op en tree na vore, en saam met hom Johannes en die ander tien apostels. Petrus voer die woord en begin vir die skare vertel wat die betekenis van al hierdie asemrowende gebeure is.

Dalk wil jy ook nou weet wat jy moet doen? Die Heilige Gees woon alreeds in jou as jy gelowig is. Gee Hom die kans om beheer van jou lewe oor te neem, en jy sal verbaas wees oor die resultate.

Gebed:

Heilige Gees, neem asseblief vandag volle beheer oor my lewe. Gebruik my asseblief in U diens om God se Koninkryk uit te dra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026