Vurige Broederliefde

17 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vurige Broederliefde

1 Petrus 1:22-25

Video

Audio

Het ons nie nou al die saak oor broederliefde genoeg deurtrap nie? Moontlik, maar dalk moet ons ook kyk wat Petrus se siening hieroor is. Hy sê dat omdat ons wedergeboorte ervaar het ons mekaar vurig moet liefhê.

Ons ry een oggend oor die vlaktes van Zoeloeland, in die omgewing van Sodwana. Ons is haastig om by die huis te kom, maar jy kan ook nie eers ‘n bietjie voet in die hoek sit nie, want elke kilometer of twee is daar ‘n paar beeste wat oor die pad kruie. En as dit nie die beeste is nie, dan is dit een van die talle klein dorpies wat jy deurry, elkeen met sy rits spoedhobbels, so skerp en hoog dat jou tande op mekaar klap wanneer jy hulle tref. Ek is half ongeduldig, en haastig om by die huis te kom!

Ek swets as ek by die hóéveelste dorpie wéér twee spoedhobbels kry en sebrastrepe tussen hulle op die pad geverf. Dan sien ek uit die hoek van my oog ‘n hoendertjie wat aangehardloop kom, pylreguit na die sebrastrepe toe. Ek trap rem en stop dood voor die eerste hobbel. Ewe kordaat kom stap die hoender voor my motor verby, al op die sebrastrepe langs! My mond val oop, en ek en Mosbolletjie verloor albei totaal beheer en giggel soos tieners. Ek kan nie glo wat ek sien nie. Was dit dalk vir my ‘n vingerwysing oor my eie padgedrag? Ek het menselewens in gevaar gestel deur vinniger te ry as die spoedgrens! Talle klein kindertjies speel langs die pad, en ‘n ongeluk kom só maklik. Om padreëls te verontagsaam is om liefdeloos op te tree teenoor jou medemens.

Kyk net ‘n bietjie wat sê Petrus in vers 22: “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het, om mekaar as broers ONGEVEINS lief te hê, moet julle mekaar dan ook VAN HARTE EN VURIG LIEFHê.” Die 2020 vertaling lui, dat ons mekaar “innig met rein harte moet liefhê.” Hierdie is nie sommer ‘n flou, afgewaterde soort van liefde waarvan hy praat nie maar ‘n liefde met jou hele hart. Naasteliefde is om vir jou medemens om te gee, maak nie saak of hy ‘n ongelowige is nie. Dit is al klaar moeilik genoeg. Broederliefde is die hegte liefdesband tussen medegelowiges. Dit is nie ‘n maklike liefde nie, want sommige van ons medegelowiges kan dikwels maar moeilik wees en jou selfs seermaak met kwetsende woorde. Ek moet dit dikwels verduur, selfs in die kerk, van diep gelowiges wat aktief in die gemeente betrokke is. Om daardie persoon daarna steeds ten spyte daarvan innig en vurig lief te hê, raak dan minder maklik.

Ongeveinste liefde beteken dat ek nou nie meer net aan my eie behoeftes dink, soos wat dit in my natuur ingewortel is nie. Eintlik is dit gladnie natuurlik om vir mekaar lief te wees nie! Dit verg van my ‘n volgehoue inspanning om hiermee vol te hou. Boonop mag dit nie toneelspel wees nie. Ek onthou ‘n toneel uit een van die klassieke “Carry-on” flieks, waar die Britse kommissaris en die Indiese prins by ‘n funksie net buite hoorafstand van mekaar sit. Die Brit knik vriendelik in die rigting van die prins, ‘n breë grimlag op sy bakkies, maar dan sê hy die allervreeslikste dinge van hom onder sy snor deur. Aan die ander kant loop die prins ook oor van vriendelikheid terwyl hy net sulke verskriklike dinge van die Brit sê.

Nee, ongeveinste liefde is nie ‘n pragtige toneelspeel-glimlag nie, maar dit moet diep uit die hart kom. As jy die dag God se wonderbare liefde besef en ervaar, kan dit net eenvoudig nie anders nie, dat daardie liefde uit jou straal na almal waarmee jy te doene kry. Dit is júís die band van wedergeboorte wat jou bind met ander gelowiges. Julle het immers saam vir God as Vader, en julle is dan mos broers en susters van mekaar.

Petrus sluit hierdie perikoop af met ‘n aanhaling uit Jesaja 40:6-8 as hy die verganklikheid van die aardgebonde mens afspeel teenoor die absolute onverganklikheid van die Goddelike: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige Woord van God.” Jesaja het dit so mooi gestel, dat die mens soos gras is, of veldblommetjies. So dikwels het ek beleef in die Bos dat die pragtige, wuiwende grasvelde, selfs na ‘n goeie somerreën, aan die einde van die winterdroogte kaalgevreet is sodat daar dikwels nie eers stoppeltjies oorbly nie, maar net die barre klipperige grond. Selfs die Namakwalandse blommeprag in al sy glorie het maar ‘n korte lewensduur, en kort voor lank verskroei en verdwyn dit. Die Woord van God bly egter vir ewig. Die lewe draai nie om mý nie! Ek is verganklik soos die gras en blommetjies. Ek moet egter die lewe wat God my gee gebruik om Hom te dien. Een van die maniere om Hom te dien is om my hart oop te maak vir my mede-gelowiges, en hulle innig en vurig lief te hê.

Gebed:

Here, neem asseblief my liefdelose hart en vorm dit met U wonderbare liefde, sodat ek kan straal met die liefde wat U in my geplant het, en maak asseblief my liefde opreg.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026