Vuil Vark!

8 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vuil Vark!

Galasiërs 5:16-25

Video

Oudio

Ek kom in my slaapkamer ingehardloop. Dis half skemer, want die gordyne is toegetrek. Op my bed lê ‘n bondel iets, nou nie juis dat dit snaaks is nie, want in ‘n seun se kamer lê daar mos maar altyd ‘n deurmekaar bondel “iets” op die bed. Maar hiérdie bondel is anders, so ‘n half-aan-die-kant bondel, en nie die gewone deurmekaarspul nie. En dit snork! Vir ‘n oomblik is ek totaal uit die veld geslaan. Versigtig druk ek met my vinger op die ding. Dit beweeg skielik en met ‘n histeriese, onaardse gil spring dit van my bed af. Ek skrik my skoon in ‘n ander geloof in! Ek staar die dierasie wat my kooi wou annekseer agterna as hy gly-gly sy draaie probeer kry om by die agterdeur uit te kom. ’n Vark. ’n Lae, ongepoetste, vuil, stinkende vark! Nogal in mý kooi! Hy moes seker by die agterdeur ingesluip het en toe ontdek hy in sy ontdekkingstog deur die huis ‘n heerlike sagte lêplekkie op my bed. Dit was baie jare gelede op Oupa se plaas naby Waterval Boven.

Deesdae is dit die in-ding om ‘n vark as ‘n troeteldier aan te hou. Skatlike ou goedjies, altans so sê hulle! Jy het ‘n keuse van ‘n slanke pienketjie of ‘n mollige swartetjie met so ‘n plat gesiggie wat lyk of hy in ‘n ernstige tromp-op botsing betrokke was en ‘n pens wat op die grond sleep. En intelligente, sindelike ou diertjies. So beweer hulle. 

Maar het jy hulle al ooit in hulle natuurlike staat gesien? Ek praat nou nie van die moderne varkboerderye waar hulle nie eers weet wat modder is nie. In die ou dae was ‘n varkhok een groot modderpoel. Dit was nie oorspronklik so geskep deur die boer nie, maar die varke maak hom so. Hy word beploeg en be-grawe en ongedolwe, alles met daai plat wiel-snoete van hulle, en met die eerste reënbui is dit een groot moddernes. En dán baljáár die varke dat die sop spat! En as daar nie modder is nie, ploeter hulle sommer deur hulle kosbakke en karring dit totdat die kos een groot jiggie is. As hulle maar net vuil kan wees dan is dit mos hemel op aarde!

Galasiërs 5 is die bekende deel wat handel oor die vrug van die Gees, en waaroor daar al menige preke gelewer is. Maar soos met elke gedeelte van die Bybel, gaan die ware boodskap verlore as jy dit nie met die res van die brief as agtergrond lees nie. Hou dus in gedagte wat Paulus die hele tyd probeer sê: Geen mens kan vryspraak kry van skuld of sonde deur goeie dade te doen nie, maar alleen deur geloof in Jesus. Tweedens, as jy in Jesus glo, is jy geestelik vry en beteken dit nie dat jy lang lyste moets en moenies moet nakom nie. Wees dus versigtig om nie van Galasiërs 5 ‘n lys reëls te maak wat ons moet nakom om ons verhouding met God reg te stel nie, maar sien dit eerder andersom. Omdat ons verhouding alrééds met God reggestel is, moet ons ernstig daarna streef om ons vryheid reg te gebruik.

Dit gaan hier oor hoe jy leef as jy deur Jesus vryspraak gekry het. Deur die Gees van God (vers 16). Daar woed ‘n geestelike geveg in jou. Aan die een kant is jou sondige natuur met sy natuurlike instinkte wat baie eerder slegte dinge doen as goeie. (Dis nou die vuil plaasvark wat in die modder van die sonde rondbaljaar.) Aan die ander kant is daar die Gees van God wat lynreg teenoor jou sondige natuur is. Dit is amper soos twee gevegslinies wat gereed staan om oorlog te maak. In die praktyk is die gelowige in twee geskeur tussen die sondige natuur en die Gees. Jy voel lus om toe te gee aan die sonde, maar jy wil ook luister na wat die Heilige Gees vir jou sê. Jy alléén kan daardie keuse maak, en daarom doen Paulus die beroep: Maak die régte keuse en laat jou deur die Gees lei.

As jy swig voor jou sondige natuur, kom daar liederlike dinge na vore soos onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap, uitspattigheid, haat, woede, afguns en nog baie ander walglike dinge - lees gerus maar Paulus se sondelysie in Gal. 5:19-21. 

As jy egter onder beheer van die Gees lewe, kom daar totaal ander dinge in jou na vore. Paulus noem dit die “vrug van die Gees”. Let wel: nie vrugte (meervoud) nie maar vrug (enkelvoud), want ál hierdie dinge behoort deel van ‘n Geesbeheerde gelowige se lewe te wees. “Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (vers 22). Hierdie is die dinge wat die kenmerk van ’n gelowige se lewe behoort te wees.

Die praktyke van die sondige natuur bestaan uit ‘n klomp onaangename goed wat gewoonlik skielike opwellings is van jou emosies en luste. Daarteenoor is die vrug van die Gees dinge wat stil en rustig na vore kom. Die sondige praktyke spruit voort uit ‘n beheptheid met jouself, soos eiebelang en eiegeregtigheid. Die vrug van die Gees daarteenoor is ‘n gawe van God. Paulus begin hierdie lysie doelbewus met “Liefde”, want dít moet die uitgangspunt en allesoorheersende faktor in die Geesbeheerde lewe wees.

Gebed:

Gees van God, neem asseblief volle beheer van my lewe oor.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026