Lukas 1:1-4
Dokter Lukas sit by die skryftafel, gansveer in die hand. Dit is nie die eerste keer dat hy 'n brief skryf nie, hy het dit al menigmaal gedoen namens Paulus. Maar hierdie keer is dit anders, hierdie slag is dit sy eie skryfwerk.
“Hooggeagte Teofilus!” begin hy sy verhaal.
Lukas glimlag, die man se naam “Teofilus” beteken letterlik “Vriend van God.” Hy het al verskeie kere met Teofilus gesels oor Jesus, en nou het hy besluit om die volledige verhaal van Jesus vir hom neer te skryf presies soos wat dit alles gebeur het. Alhoewel Lukas vir Teofilus skryf, is hierdie boek bedoel vir enige “Vriend van God” wit dit wil lees!
Inderdaad het Lukas 'n klomp navorsing gedoen en met verskeie ooggetuies gepraat oor presies wat alles gebeur het. Hy het ook Markus se verslag gelees en verskeie ander verslae wat geskryf is oor Jesus. Nou wag daar 'n groot taak op hom om alles te verwerk en dit noukeurig in die regte volgorde neer te skryf. Hierdie boek sal dus baie meer as net ‘n “storie” wees, eerder ‘n akkurate kombinasie van kuns, wetenskaplike rapportering, en die belangrikste, die boodskap van God aan Teofilus en elkeen wat dit lees.
Vir Lukas het daar ‘n moeilike taak voorgelê om hierdie verhaal te skryf, want hy was nie persoonlik betrokke nie. Anders as die ander drie Evangelieskrywers was hy nie ‘n ooggetuie van wat met Jesus gebeur het nie. Dit is soveel makliker as jy sélf die dinge ervaar het. Ek skryf dikwels sketse uit die Laeveld, en ek kan dit in fyn detail vertel want ek het die dinge persoonlik beleef. Dit was vir twintig jaar deel van my lewe, en dit is dus maklik om daaroor te skryf.
Vir Lukas was dit egter anders, en hy moes met talle mense gesels wat die gebeure beleef het, en probeer sin maak van wat hulle vertel. ‘n Lang tyd het boonop reeds verloop sedert die dinge plaasgevind het, en elke persoon se verhaal moes hy evalueer en in perspektief plaas. Belangriker nog, hy moes hierdie verhaal wat voor hom ontvou het soos wat hy met mense gesels, sy eie maak, en dit sélf in sy gedagtes beleef.
Nadat Lukas die honderde brokkies opgeteken het, wag daar nog ‘n groter taak op hom. Hy moes probeer sin maak van alles en dit in volgorde saamvoeg in ‘n verhaal wat kronologies sin maak. Dit was ‘n reuse taak!
Vandag is dit relatief maklik om so ‘n taak aan te pak. Met die moderne tegnologie van Internet, vinnige vervoer, georganiseerde argiewe en opgeleide wetenskaplikes, is navorsing relatief eenvoudig. Ons moet egter onthou dat Lukas nie sulke tegnologie beskikbaar gehad het nie. Dit was dus ‘n reuse taak, en ek neem aan dat hy dikwels lang afstande moes aflê wat weke geduur het om enkele feite te kon boekstaaf.
Wat maak dat ‘n mens soveel moeite doen? ‘n Skrywer hoop gewoonlik dat sy navorsing uiteindelik gaan beteken dat sy boek goed verkoop, en dat hy ‘n paar Rand daaruit sal maak. Lukas het egter nooit daardie vooruitsig gehad nie. Wat was dan sy doel? Hy wou aan Teofilus al die feite deurgee sodat hy die Christelike waardes wat hy geleer is kon vasmaak met die ware feite.
Daar is egter ‘n ander aspek rondom hierdie verhaal wat ons dééglik in gedagte moet hou. Alhoewel Lukas dit nie pertinent noem nie, weet ons uit ander Skrifgedeeltes dat hierdie asemrowende stukkie werk nooit ooit die lig sou kon sien as die Heilige Gees nie Persoonlik die inspirasie hier agter was nie. Dit het nie maar toevallig gebeur dat Lukas begin skryf het nie. Hy het met Paulus te doene gekry, en dáár het hy die liefde vir skryf aangeleer toe hy Paulus se briewe namens hom moes skryf om die swaksiende ou man te help. Die tye wat hy saam met Paulus deurgebring het, moes hom ‘n wonderlike insig gegee het oor waaroor dit alles gaan. Dit het hom sekerlik ook in kontak gebring met van die ooggetuies wat eerstehands hierdie dinge ervaar het. Op hierdie wyse het die Here wonderlik voorsien om ‘n begaafde man te kry om die verhaal van Jesus op te teken.
Maar daar het dit baie beslis nie opgehou nie, want elke oomblik van sy navorsing en sortering en dwarsdeur die hele skryfproses was die Heilige Gees teenwoordig en het Hy vir Lukas inspirasie gegee om die regte dinge te kon skryf. Nee, Hy het nie woord-vir-woord vir Lukas gedikteer nie. Ons sien duidelik hoedat Lukas se eie persoonlikheid dikwels na vore kom. Maar wat ons wel baie deeglik moet verstaan is dat die Heilige Gees vir Lukas gebruik het om die verhaal te skryf.
Jou naam is óók Teofilus, want jy is mos ‘n “Vriend van God!” Daarom is hierdie verhaal persoonlik vir jou en my geskryf. Die Outeur is in werklikheid die Heilige Gees, en daarom praat Hy deur hierdie wonderlike verhaal met jou en met my. Kom ons lees dit dus met ‘n oop gemoed, en drink elke woord in wat die Heilige Gees vir ons met hierdie verhaal wil sê. Omdat Hy persoonlik met elkeen van ons hierdeur praat, gaan elkeen se boodskap anders, uniek en persoonlik wees.
Gebed:
Here, dankie vir Lukas, en dankie dat U ook deur sy skryfwerk met my persoonlik praat.