Vrede vir Julle!

18 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vrede vir Julle!

Johannes 20:19-30

VIDEO * OUDIO

Dit is Sondagaand en ‘n patetiese groepie beangste, onseker, droewige mense is bymekaar agter geslote deure. Hierdie groep is amptelik die eerste kerk wat in sy babaskoentjies staan. Hulle is bang vir vervolging, want dieselfde Joodse leiers wat Jesus vervolg het, vervolg húlle nou. Hulle het die storie gaan loop en versprei dat Jesus opgestaan het uit die dood en die Jode wil hierdie “sekte” nou wortel en tak uitroei voordat dit die hele gemeenskap kom staan en besoedel. Waaroor gaan hulle gesprek? Natúúrlik is die middelpunt van die bespreking al die gebeure van die afgelope Paasfees. Elke klein detail daarvan is nog vars in hulle geheue vasgebrand. Die feit dat Maria Magdalena vir Jesus lewendig gesien het, laat almal gis oor waar Hy Hom bevind en allerhande vrae oor Hom doen die rondte. Maar daar is een leë plek, dié van Thomas. Hy is verward oor al hierdie dinge. Maria se verhaal het hom diep ontstel: Hoe is dit moontlik dat Jesus weer lewendig kon word? Hy is dan dood! Almal het tog gesien toe Hy sterf! Die soldaat het dit bevestig. Hy is begrawe. Hy is dood! Dis alles verby!

En dan skielik staan Jesus hier tussen hulle. Almal is asvaal geskrik!

Hoe sou jy voel as jou geliefde wat net ‘n paar dae tevore begrawe is, skielik voor jou staan met ‘n glimlag op die gesig?

"Vrede vir julle” sê Jesus met ‘n sagte stem. Watter wonderlike kalmerende woorde midde in hierdie verskrikking wat besig is om hulle harte uitmekaar te skeur. Tóg so jammer dat Thomas nie daar is om ook hierdie vrede te kan ervaar nie, want dit is juis hý wat dit die nodigste van almal het.

Hoe dikwels gebeur dit nie dat wanneer jy die Sondag om die een of ander rede nie in die kerk was nie, iemand agterna vir jou kom sê het: "Ek wens so dat jy daardie preek kon beleef.....!" Dan wil jy jouself skop dat jy nie daar was nie. Ek dink Thomas wou homself dikwels skop omdat hy daardie ongelooflike, besonderse dag misgeloop het!

Jesus het nie net vrede gebring vir Sy volgelinge nie, maar Hy het ook ‘n opdrag vir hulle gehad: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Hulle moes net soos wat Hy gedoen het, die Evangelie gaan verkondig. Hierdie bang groepie volgelinge wat selfs die deure agter hulle gesluit het wanneer hulle bymekaar gekom het - húlle moes nou die Evangelie aan dieselfde mense wat hulle so vervolg het, gaan verkondig. Dit klink absurd, maar Jesus het hulle toegerus met die Heilige Gees. Hulle het nie nodig gehad om dit alleen te doen nie, want die Heilige Gees was met hulle. Hulle het nie nodig gehad om bang te wees oor wat hulle moes sê nie, want die Gees sou die woorde in hulle monde plaas. Die Evangelie wat hulle moes verkondig sou ‘n boodskap wees aan die wêreld, dat God genadig is en dat Hy al jou sondes vergewe. Die enigste voorwaarde sou wees dat jy in Jesus moes glo. As jy dit egter nie gedoen het nie, sou daar geen vergifnis wees nie en jy sou verdoem wees tot die ewige straf. Só eenvoudig! Daardie groepie dissipels het dus die mag gekry om sondevergifnis sowel as verdoemenis te verkondig.

Inderdaad raak hierdie dinge elkeen van ons, want vandag is dit ek en jy wat Jesus se dissipels is. Wat vir hulle daardie tyd gegeld het, geld presies net so vir ons vandag. Om die waarheid te sê, ons is in ‘n baie meer bevoorregte posisie as wat hulle daardie tyd was, want hulle was die pioeniers van evangelisasie. Hulle moes van basies niks af begin om dinge uit te werk. Hulle het nog nie eers baie mooi besef wat aan't gebeure was nie. Hulle het nog nie eers die implikasies van Jesus se kruisiging en opstanding besef nie en hier word hulle klaar uitgestuur. Dalk die moeilikste van alles, was dat hulle toe nog nie eers 'n Bybel gehad het as ‘n riglyn, ‘n “handboek” soos ons vandag het nie! Vir my en jou is daar kursusse en boeke en ‘n streep mense by wie jy kan gaan aanklop vir hulp. Maar die een groot Hulp wat ons beide het, is die Heilige Gees, want sonder Hom help al die moderne hulpmiddele wat ons het, absoluut niks! En mét Hom is selfs die mees onervare gelowige ‘n bekwame getuie as hy luister na die stem van die Heilige Gees. Selfs die ongelowige Thomas word ‘n getuie wie se getuienis deur die eeue heen weergalm as hy Jesus aanspreek as “My Here en my God!”

Ons het so byna-byna Johannes se Evangelie deurgewerk en daar is nog net enkele dagstukkies oor. Hier waar ons nou die einde nader, skryf Johannes dat hy hierdie boek geskryf het "...... sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo, die lewe in sy Naam kan hê.” Dit was vir my ‘n ongelooflike voorreg om hierdie reeks oordenkinge met jou te kon deel. Die vraag is egter of jy, nadat jy dit alles gelees het, glo in Jesus as jou Verlosser? Het jy al ‘n oorgawe aan Hom gemaak, en die vergifnis van God ontvang vir jou sondes? Of staan jy steeds met een voet in die ewige verdoemenis! Ek het oor die jare die Evangelie met etlike mense gedeel - mense wat gesê het dat hulle graag ook Christene wou word. As jy dalk nog twyfel, wil ek by jou pleit: neem vandág nog ‘n besluit, want more mag dalk reeds te laat wees......

Gebed:

Here, U het my gestuur om U Evangelie uit te dra. Help my om U opdrag met ‘n passie uit te voer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026