Vrede vir Jou

19 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vrede vir Jou

2 Tessalonisense 1:1,2

VIDEO | OUDIO

Vrede is ‘n wonderlike ding, net jammer dis deesdae so skrikwekkend skaars! Slegs in Afrika alleen heers daar op die oomblik oorlog van die een of ander aard in nie minder nie as 32 lande! Burkina Faso, Kameroen, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ethiopië, Mali, Mosambiek, Nigerië, Senegal, Somalië, Suid-Soedan, en Soedan is maar net ‘n paar van hulle. Elders is die bloedige oorlog tussen Rusland en die Oekraïne reeds ‘n ruk aan die gang, en dan die skrikwekkende oorlog in Israel wat skaars ‘n week gelede uitgebreek het. Derduisende mense sterf daagliks in die konflik. Daar is géén vrede in die wêreld nie!

Selfs in die natuur is ware vrede ‘n immer-ontwykende versugting. Dit is laatmiddag in Marloth Park en ek en my Mosbolletjie sit langs die Krokodilrivier en kyk hoe die son groet vir die aand. Die prentjie voor ons is die toonbeeld van rustigheid, waar die koel watertjie van die magtige rivier kuier-kuier afsuiker na Mosambiek. ‘n Reier loop lui-lui en hoop dat daar ‘n happie voor sy snawel sal verbyswem voor die nag kom. Op ‘n lappie groenigheid staan ‘n troppie rooibokkies en niksdoen. ‘n Entjie laer af in die rivier is ‘n visarend besig met aandete, ‘n blink, supervars tiervis. Die aandskemer sak oor ons toe, en ons voel tevrede, want alles is volmaak. Of is dit?

Ek wip soos ek skrik as ‘n bloedstollende, on-aardse roggel-brul uit die riete opstyg. Ek probeer sien wat dit is, maar helaas: die rietbos is te dig. Weer brul en grom en skreeu die ding, en ons wonder wat dit kan wees. Olifant is dit beslis nie, en ook nie leeu nie. Die brulle raak al hoe meer aggressief, totdat dit klink asof iemand in ‘n hewige geveg betrokke is. Tussen die ysingwekkende gille en brulle deur herken ons die stem van 'n seekoei. Ons kom tot die slotsom dat dit twee omgesukkelde bulle is wat baklei vir die reg op 'n poel en verál sy inhoud van koeie.

Die vrede is verpletter!

Dit is pikdonker wanneer ons by die huis aankom en steeds weergalm die brulle deur die bosse. Eers nadat ons vuurtjie gesellig knetter, begin die aggressie bedaar en ons tweetjies sit rustig en vredevol op die stoep, doodmoeg van ons dag se bedrywighede. Weldra styg die heerlike aroma op van ‘n vleisie wat sis op die kole, en ek en Mosbolletjie raak besonder vreetsaam!

Die son is egter die volgende oggend skaars op, of ons vrede word weer vergruis! Nóú is dit weer die varke! Die een ou vlakvark was baie duidelik nog saam met oorl’e Oupa Noag in die ark, en hierdie ou Metusalag is van mening dat die hele bos aan hom alléén behoort! Die ander varke, tarentale en muishondjies moet net bontstaan om sy enkele gaffeltand, wat twee wêreldoorloë oorleef het, vry te spring. Nors, afskuwelik-lelik en skoorsoekerig is hy, en van vrede is daar nie ‘n sweempie sigbaar nie!

Te midde van hierdie geweld lees ek Paulus se verkwikkende seënbede aan die begin van die tweede brief wat hy vir die gemeente in Tessalonika skryf: “Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.” Is dit nie die mooiste woorde wat jy enigeen kan toewens nie? Hy wens hulle die onverdiende goedheid en vrede van God toe! Maar waarom kan hy vir die Tessalonisense sulke vrede toewens? In die vorige versie is die antwoord: Hulle behoort aan God ons Vader en die Here Jesus Christus. Dit is die sleutel tot alle vrede! Daar is slegs één ding in die ganse lewe wat ware vrede kan bring, en dit is kindskap van God. Daarsonder is vrede totaal onmoontlik! Ja, die duiwel kan wel die valse illusie skep van vrede, maar dit is net ‘n kors. Onder daardie illusie broei duiwelse on-vrede.

Wat maak Goddelike vrede so uniek? Wêreldse vrede word gehandhaaf deur geweld. Daar moet ‘n streng polisiemag en weermag wees wat vrede afdwing, anders ruk alles handuit! Daar moet streng wette wees wat nagekom moet word, en strafmaatreëls as iemand daarvan afwyk. Daarsonder is daar chaos! Wat behels Goddelike vrede? Een woordjie: Liefde! In die eerste plek is daar God se onpeilbare liefde vir Sy kinders, liefde wat propvol genade is en wat onvoorwaardelik vergewe. God dwing nie Sy wil af op Sy kinders deur wette en strafmaatreëls nie. Sy liefde is egter só groot, dat ons nie anders kan as om ook daardie liefde uit te leef nie, asook om Sy voorskrifte te gehoorsaam nie!

Die vraag is: wat behels daardie liefde? In 1 Kor. 13 verduidelik Paulus: Dit is geduldig, vriendelik, verdraagsaam, onbaatsugtig, vergewensgesind en nog baie ander mooi dinge. As almal daardie eienskappe sou uitleef, sou die wêreld ‘n wonderlike, vredevolle plek gewees het. Die asemrowende is egter ook waar, dat wanneer ek en jy as gelowiges hierdie liefde uitleef, bewerkstellig ons nie alleen vrede tussen ons en diegene met wie ons te doen kry nie, maar dan ontdek ons terselfdertyd ook die wonderlike, allesomhelsende vrede wat God ons gee. Soek vrede - God se vrede - met alles wat jy in jou het en God sal dit tienvoudig vir jou gee, ver, ver bo al jou verwagtinge in!

Gebed:

Here, ek soek U vrede - lei my asseblief om U liefde uit te leef met my hele hart en verstand en kragte, sodat ek U volle vrede kan smaak!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026