1 Samuel 21:1-15
Dawid was nou ‘n voortvlugtende en hy moes alles in sy vermoë doen om maar net te kon oorleef. Hy was egter in so ‘n groot haas van sy huis af weg, dat daar nie geleentheid was om enigiets saam te vat nie. Toe Mikal hom by die venster uitstoot, het Dawid slegs die klere aan sy lyf gehad, nie eers padkos nie!
Selfs by Rama was hy nie veilig nie, en Dawid besluit dat die enigste veilige plek weereens by die mense sou wees wat God liefhet. In Nob, ‘n klein nedersetting naby Jerusalem, het Dawid iemand geken wat hy kon vertrou - ‘n priester met die naam Agimelek. Daar het hy in die grootste geheimhouding aangeklop vir hulp. Dawid was in die moeilikheid! Hy het nie kos of enige wapens by hom gehad nie. Sonder hierdie basiese dinge sou hy nooit kon oorleef nie. Hy besluit dat deur bloot die waarheid te vertel, hierdie priester bang sou wees om hom te help, dus vertel hy ‘n string leuens, oor ‘n geheime sending waarop die koning hom sou gestuur het en sy soldate wat iewers daar buite weggekruip het.
Agimelek het nie kos gehad vir Dawid en sy denkbeeldige manne nie, buiten die offerbrood. Hierdie was brode wat in die tempel gehou was as simbool van God se sorg vir Sy volk. Elke week, op die Sabbat, was die brode vervang en dan kon die priesters hierdie brood eet. Niemand wat kulties onrein was kon hierdie brood eet nie. Daarom was Agimelek baie skepties om daarvan vir Dawid te gee, want sy soldate kon sekerlik tog nie rein wees nie. Dawid het hom egter verseker dat sy soldate almal rein was, en toe gee die priester toe.
Ons lees in Matteus 12:1-8 hoe Jesus na hierdie gebeurtenis verwys, en dan sê Jesus dat reëls gewoonlik daar is in die mens se belang. Vir God is mense se welsyn altyd belangriker as reëls. Ons kan nie toelaat dat sulke soort reëls tot ons ondergang lei nie, en dan mag hulle maar verbreek word. ‘n Mens moet egter versigtig wees dat jy kan onderskei tussen reëls wat verbreek kan word en reëls wat ten alle koste gehoorsaam móét word. In jou geloofslewe kan jy jou dus nie deur reëls alleen laat lei nie, maar die belangrike is dat jy ‘n lewende verhouding met God moet hê. Om ‘n reël te verbreek moet dikwels gepaard gaan met ‘n ernstige gebedsworsteling, sodat jy God se wil hierin kan raaksien.
Maar Dawid het ook wapens nodig gehad. Die priester het natuurlik géén wapens gehad nie want wat moes hy daarmee maak? Maar dan vertel hy met groot trots vir Dawid van Goliat se swaard wat hy met groot sorg hier bewaar het. Dit was ‘n groot, lomp wapen, maar Dawid was in sy noppies daarmee: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my,” het hy vir die priester gesê.
Ongelukkig het hierdie dinge nie ongesiens verby gegaan nie. Een van Saul se slawe, Doëg het gesien wat gebeur het. Hy het toevallig daardie nag in die heiligdom deurgebring. Later sou dit sorg vir ‘n groot tragedie.
Dawid was deeglik bewus daarvan dat sy lewe in Israel niks werd was nie. Hy was desperaat, en toe neem hy ‘n baie drastiese besluit: en vlug na Israel se grootste vyand, die Filistyne toe! Hy soek skuiling in die stad Gad, maar daar word hy baie gou herken as Israel se groot vegter, die man waarvan die vroue gesing het: “Dawid het sy tienduisende verslaan!” Dit was só erg dat die manne na hom verwys het as “die koning van die land.” Nou was Dawid kniediep in die moeilikheid! Wat sou hy maak om uit hierdie gemors te kom? Hulle sou hom verséker doodmaak! Van die een krisis na die volgende - dit was Dawid se lewe en hy moes baie gou aan ‘n plan dink.
Ons moet onthou dat Dawid ‘n kunstenaar was. Hy het musiek gemaak en die mooiste liedere en gedigte geskryf. Dan kon hy sekerlik ook toneel speel? Inderdaad was dit presies wat Dawid gedoen het en hy doen hom voor as iemand wat totaal waansinnig was. So goed was sy toneelspel dat die spoeg eintlik in sy baard afgeloop het en hy met sy naels teen die poorte van die stad gekrap het! Die mense het in afgryse na hierdie mal man gestaar! Niemand het naby hom durf kom nie want almal was bang vir hom! Daar móés net eenvoudig bose geeste of bonatuurlike magte wees wat hierdie man se lewe beheer het!
Toe Akis, die koning hiervan te hore kom, was hy gewalg! Hoe kon hulle toelaat dat so ‘n waansinnige in sy stad inkom? Dawid se set het gewerk en in plaas daarvan dat hy gevange geneem word, word hy uit die stad uitgesmyt. Op hierdie wyse red die Here vir Dawid van ‘n gewisse dood!
Dit was ‘n noue ontkoming. Dankbaar dat hy nog lewendig uit hierdie sopkom gekom het, het Dawid voortgevlug. Hy sou nou baie mooi moes beplan om te kon oorleef. Waarheen kon hy gaan? Waar sou hy veilig wees? En sy familie - wat van hulle? Hulle lewens was sékerlik ook in gevaar! Maar die Here het vir Dawid en sy familie ‘n uitkoms op ‘n baie onverwagse manier - daaroor lees ons DV Maandag.
Gebed:
Here, help my asseblief om te kan onderskei wat belangrik is. Ek wil só graag U wil in álle opsigte doen!