Voorbidding vir die Leraar

3 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Voorbidding vir die Leraar

Hebreërs 13:17-19

VIDEO | LUISTER

Moet ek nog vir my dominee/pastoor bid? Indien wel - waarom? “Hou aan om vir ons te bid,” pleit die Hebreër-skrywer by sy lesers. Ons het hier te doene met ‘n leraar wat tot op die hoogste sport van die geestelike lewe gevorder het - hy het selfs die ongekende voorreg gehad om ‘n skrywer te wees van een van die Bybelboeke - die wêreld-topverkoper van alle tye. Die reeks preke wat ons tot dusver deurgewerk het, is volgens enige standaarde vandag absoluut briljant. Wat die skrywer se geestelike lewe betref, kan ons aflei uit wat ons gelees het, dat hy uiters naby aan God geleef het. Om maar net die voorreg te kon hê om deel te wees van die Heilige Gees se spesiale span Bybelskrywers, bevestig alreeds hoe intens hy die Here geken het. Sy lewe was ook ‘n voorbeeld van iemand wat rein geleef het, en van die sonde probeer wegbly het. Ons sien dit in Heb 13:18, waar hy bevestig: “ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is.

Die vraag is dus: Waarom het ‘n persoon van hierdie statuur dan nog gebed nodig? Het hy énigsins ons gebed nodig? Daar is verskeie redes: eerstens is dit só dat die duiwel baie beslis nie daarvan hou dat iemand suksesvol die Evangelie verkondig nie, dit beroof hom van aanhangers. Iemand wat waarlik erns maak met die Here beleef dikwels die aanvalle van die duiwel baie intens in sy lewe. Kyk maar byvoorbeeld hoe die duiwel vir Jesus aangeval het op ‘n tyd toe Hy baie kwesbaar was, na veertig dae in die woestyn. Hy het Jesus uiters slinks probeer verlei deur vir Hom mag en eer aan te bied, en natuurlik kos toe Hy rasend van die honger was. Ons weet natuurlik dat Jesus nooit geswig het nie. Iemand wat 'n paar jaar gelede ‘n boekie die wêreld ingestuur het om mense te waarsku teen die slinkse verleiding van die duiwel, het my vertel hoedat die duiwel hom daarna op elke terrein aangeval het - blykbaar hou hy nie van die feit dat sy werksaamhede oopgevlek word nie! Ek dink nie dat iemand wat ligsinnige praatjies oor die duiwel maak, enigsins bekommerd hoef te wees dat die duiwel ‘n aanval op hom sal loods nie!

Die eerste rede waarom elke verkondiger van die Evangelie dus voorbidding nodig het, is omdat hulle so uiters kwesbaar is teen aanvalle van die duiwel. Hulle is uitgesoekte teikens. Elkeen van hulle het God se beskerming ekstra nodig. Bid dus asseblief gereeld vir jou leraar en elkeen in jou gemeente wat bereid is om die Evangelie te verkondig. Bid ook asseblief vir my…...

Daar is ook ander redes waarom sulke mense voorbidding nodig het: om die Evangelie te verkondig, is ‘n uiters verantwoordelike taak. As die Woord skeef by iemand uitkom, kan dit reuse skade veroorsaak. Die Woord moet dus te alle tye suiwer verkondig word. Om ’n dwaalleer te verkondig, is só maklik, en ’n leraar moet gedurig op sy hoede wees om absoluut Skriftuurlik te praat. Maar dit moet ook op só ‘n wyse uitgedra word, dat dit die luisteraars se harte sal aanraak. ‘n Saai preek laat ‘n mens se gedagtes dwaal, daarom moet ‘n leraar uiters kreatief dink en elke moontlike opsie gebruik om sy luisteraars of lesers te inspireer met sy preek. Dit kos harde werk, en hy moet dikwels van donkeroggend tot middernag werk. Hy het dus baie voorbidding en terselfdertyd ook baie aanmoediging nodig om te volhard om week na week sy absolute beste te gee. Hy durf nooit, ooit verslap nie!

Dit is ook so maklik vir so ‘n persoon om moedeloos te raak wanneer hy nie resultate sien nie, of om te swig voor allerhande versoekings, en dalk in die sonde te val. Leraars verkeer dikwels ook onder groot druk in die gemeente, deur lidmate wat moeilik is en met niks tevrede is nie. Ek moes dikwels aanskou hoe leraars agteroor buig om almal te probeer akkommodeer. Hulle beroep het een van die héél hoogste stresvlakke. Hulle word gedurig deur lidmate aangeval om ’n verskeidenheid redes, dikwels totaal onnodig of onskuldig. Ook om dáárdie rede het hy elke gelowige se voorbidding bitter nodig, maar nie alleen gebed nie - ook gedurige bemoediging en aanmoediging. Wanneer laas het jy jou leraar moed ingepraat? Wanneer laas het jy vir hom gesê: “Hou aan; byt vas - alles is die moeite werd. Ons bid vir jou?” Tel die foon op en sê dit sommer nou vir hom!

Dalk moet ons selfs ‘n stappie verder gaan: Gaan doen huisbesoek by die leraar. Wie van ons doen ooit die moeite om by hom huisbesoek te gaan doen? Ons moet onthou: hy is maar ‘n doodgewone mens nes ek en jy, en hy worstel dikwels ook met vrae nes ons. Dalk soek hy met ‘n diep verlange net iemand om ‘n slaggie na hom te luister - ‘n oor wat kan hoor van die dinge wat hom kwel. Dalk het hy iemand nodig om net vir hom te sê dat daar mense daar buite is wat vir hom omgee en aan hom dink - mense wat hom en sy bediening aan die Here opdra!

Gebed:

Here, my gebed gaan vanoggend uit vir elkeen wat die moed het om die Evangelie te verkondig. Ek wil spesiaal ook bid vir ons gemeente se leraar, Ds. Tertius Naudé waar hy dikwels oorwerk is en onder baie druk verkeer. Dra hulle asseblief deur U groot genade!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Het Jy MY Lief?
11 December, 2025
God se liefde in die Psalms
10 December, 2025
Die HERE is My Herder
9 December, 2025
Hoe Wyd is God se Liefde?
8 December, 2025
Onverganklike Liefde
5 December, 2025