Nehemia 5:14-19
Ons moet onthou dat die koning, Artasasta van Persië vir Nehemia gestuur het na Juda, en dat hy een van die koning se hooggeplaaste amptenare was. Nehemia was dus daar in die hoedanigheid as streeksgoewerneur vir ‘n volle twaalf jaar. Hy het die volle reg gehad om belastings van die volk te hef om te betaal vir sy onderhoud. Sy voorgangers het dit immers gedoen, en boonop het hulle behalwe die harde kontant ook nog wyn en ander produkte van die Judeërs geëis!
Nehemia besluit egter om niks van die Judeërs te vra nie en sy reg tot belasting op te sê. Boonop het hy selfs besoekende amptenare van die Persiese koning en ander Judese hooggeplaastes uit sy eie sak onthaal met kos sonder om dit van die plaaslike mense te eis, al was dit heeltemal binne sy reg. Trouens, hy het homself toegewy aan die bouwerk. Hy het wel deeglik besef hoeveel materiële offers dit van die landsburgers gevra het, en hy kon nie nog meer laste op hulle skouers lê nie.
Eintlik het dit Nehemia persoonik baie gekos om alles aan die gang te hou. Hy het daagliks nie minder nie as 150 mense aan sy tafel gehad en vir hulle kos gegee. Dit alleen moes ‘n reuse projek gewees het, want elke dag was daar “een bees, ses stuks uitgesoekte kleinvee en voëls, voorberei op my koste” (v. 18). En elke tiende dag het hy hulle onthaal met ‘n oorvloed wyn van verskillende variëteite.
Nehemia lewer bewys daarvan dat hy daar was vir slegs een doel. Dit was beslis nie om die koning te beïndruk of in sy guns te kom nie. Nog minder was dit om in die goeie boekies van sekere plaaslike inwoners te probeer kom, of om homself te verryk. Hy het immers alles uit sy eie sak betaal! Sy enigste motivering was om God te dien!
‘n Leier in ‘n geloofsgemeenskap se karakter moet te alle tye onkreukbaar wees! ‘n Leier durf nie van ander verwag om te doen wat hy nie sélf bereid is om te doen nie. Hy moet die voorbeeld stel vir almal om te kan navolg.
Ek was jare gelede op ‘n weermag kamp naby Potchefstroom, toe daar dié nag ‘n verskriklike storm losgebars het. Die sluise van die hemel was oop en die strome water het gedreig om ons tente te verspoel. Terwyl die storm op sy felste was, hoor ek die bekende stem van die kamp bevelvoerder: “Manne is julle veilig?” Hy was besig om in die gietende reën van tent na tent te loop om ons almal te bemoedig. Hy het nie sy eie gemak in ag geneem nie en gedoen wat niemand anders bereid was om te doen nie, terwyl hy ten volle geregtig was om in die gemak van sy eie tent te kon sit!
Daardie man se opoffering het my baie diep getref, en elke troepie in die kamp het net die grootste respek en waardering vir hom gehad! Dít wat jy verkondig en wat jy van ander verwag, moet in jou eie lewe sigbaar funksioneer.
Jesus het natuurlik die grootste voorbeeld gestel van hoe ‘n leier moet optree. Ons sien dit absoluut in alles wat Hy gedoen het tydens die drie jaar van Sy openbare optrede. Nie in die wonderwerke wat Hy gedoen het of al die mooi dinge wat Hy gesê het nie, maar in Sy algemene optrede.
● Hy het met die Samaritaanse vrou gesels terwyl almal haar vermy het, nie alleen omdat sy ‘n Samaritaan was nie, maar ook oor haar laakbare verlede.
● Hy het saam met Matteus die tollenaar en sy gure sondaarvriende gaan eet ten spyte van al die kritiek en beskuldigings.
● Hy het aan ‘n melaatse geraak ten spyte daarvan dat dit Hom in groot moeilikheid kon bring.
● Hy het nie alleen liefde verkondig nie, maar Hy het dit prakties elke dag uitgeleef.
● Hy het na Jerusalem gegaan, wetende dat dit Sy kruisiging en dood sou veroorsaak.
● Hy het die kruisdood tegemoet gegaan om te betaal vir die wêreld se sondes, wetende dat die meeste mense vir wie Hy betaal het Hom en Sy geskenk van die lewe sou verwerp en Hom selfs daarvoor minag!
Om Jesus se voorbeeld perfek na te volg, is totaal onmoontlik! Maar ons kan ten minste probeer! Deur liefde uit te leef na die beste van my vermoë, weerkaats ek die wonderlike lig van Jesus!
Gebed:
Here, ek moet bely dat ek nie altyd ‘n goeie voorbeeld stel as leier nie. Help my asseblief om U liefde elke dag prakties uit te leef op alle vlakke van die samelewing!