Handelinge 4:1-22
Moeilikheid met 'n hoofletter “M” - dis wat Petrus sien aangestoomroller kom terwyl hy en Johannes die mense in die Pilaargang van Salomo staan en leer oor Jesus. 'n Klomp Sadduseërs en priesters, begelei deur die bevelvoerder van die tempelwag storm op die twee manne af. Die “heilige” manne is bitterlik ontsteld, want Petrus het die vermetelheid om vir die mense te vertel dat Jesus uit die dood opgestaan het – dat dit nie maar 'n mite is nie maar die werklikheid.
Soos almal weet, glo die Sadduseërs gladnie dat daar so 'n ding soos 'n hiernamaals of opstanding uit die dood kan wees nie. As jy dood is, is jy dood! Dis die einde van jou paadjie! Daarom dat hulle so onthuts is dat Petrus so vir die mense kan lieg........
Die twee manne word gegryp en tronk toe gesleep om die volgende dag verhoor te word deur die Joodse Raad. Hulle is kniediep in die moeilikheid! Maar ten spyte hiervan, kom talle mense wat daar na Petrus staan en luister het tot geloof in Jesus.
Vroegoggend word die boodskap na alle betrokkenes gestuur dat daar 'n baie belangrike verhoor moet plaasvind. Dit is van kardinale belang dat hierdie nuwe “sekte” met wortel en tak uitgeroei word, anders kan dit katastrofies wees vir die Joodse Godsdiens. En nou het daar boonop 'n krisis ontstaan.
Al die belangrike manne haas hulle na die raadsaal in die tempel. 'n Volle Raad gaan sit en die familiehoofde, die Skrifgeleerdes en al die lede van die hoëpriesterlike familie, waaronder ook natuurlik die hoëpriester Annas asook Kajafas, Johannes en Aleksander teenwoordig is. Niemand mag hierdie verhoor misloop nie!
Net terloops, Annas word beskryf as die Hoëpriester. Kajavas was egter die regte hoëpriester maar Annas, sy skoonpa het baie groot invloed gehad sodat baie mense hom eintlik gesien het as die Hoëpriester!
Dan word Petrus en Johannes ingebring. Petrus se oë gly oor die stampvol raadsaal van suur, nors en bitter ongelukkige gesigte. Skaars staan die twee manne, of die vrae begin op hulle reën: “Deur watter krag het julle daardie verlamde genees?” wil hulle weet, “en deur wie se Naam het julle dit gedoen?” Die manne is baie kwaad, want agter hierdie genesing lê 'n baie dieper probleem. Eintlik is die feit dat die verlamde nou kan loop 'n bysaak. Hulle móét agter die kap van die byl kom!
Petrus se kniekoppe klap eintlik teen mekaar, want vandag is die dag dat die manne hulle gaan bráái! Maar dan kom daar 'n ongekende kalmte oor hom en hy voel letterlik hoedat die krag van die Heilige Gees hom vul. 'n Glimlag verskyn op sy stralende gelaat: "Leiers van die volk en familiehoofde," spreek hy hulle aan met groot eerbied vir hulle amp. "As ons vandag verhoor word oor 'n goeie daad aan 'n siek man waardeur hy gesond geword het....." Hy wag dat die woorde eers goed insink voordat hy voortgaan: "moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het!"
Dan gaan Petrus voort en verduidelik vir die Raadslede dat Jesus die "Klip" is wat deur hulle, die bouers geminag is, maar dat Hy juis die belangrike "Hoeksteen" geword het en dat daar géén ander Naam bestaan waardeur enigeen verlos kan word nie.
Die geleerde manne kyk verbaas na mekaar: “Hierdie is mos maar eenvoudige vissermanne! Hoe het dit dan gekom dat hulle met sulke vrymoedigheid ons hoogeerwaardige Raad toespreek?”
Die hoëpriester beduie dat die twee eers uitgestuur moet word. En dan, sodra hulle buite hoorafstand is, begin die manne ernstig met mekaar gesels. Hier het hulle nou 'n reuse probleem op hande, en hulle weet nie mooi hoe om dit te hanteer nie. Al die bewyse is daar dat die manne 'n asemrowende wonderwerk gedoen het. “Dreig hulle!” kom daar 'n voorstel.
Die manne word teruggeroep: “Julle word ten strengste verbied om óóit weer iets te verkondig in die Naam van daardie Jesus!” word hulle gedreig deur 'n klomp woedende ou manne.
Komkommerkoel en kalm antwoord Petrus hulle: "Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie."
Die Raadslede voel magteloos. Hulle het gebrand om die twee manne behóórlik te laat les opsê, maar daar was géén wettige rede om hulle te kon straf nie.
En die twee apostels? Hulle stap skotvry uit die Raadsaal en hulle jubel. Geregtigheid het geseëvier! Daarvandaan is hulle reguit na hulle medegelowiges waar dié in angs op hulle wag. En die blydskap is baie groot wanneer hulle mekaar weer sien.
Hierdie was 'n groot oorwinning vir die kerk in sy babaskoene. Maar dit sou nie altyd so maklik gaan nie. Nou soek die ou norsgesigte énige moontlike rede om die manne te kan vervolg. En rede sóú hulle beslis kry!
Ek wonder tóg wat ek en jy sou doen as ons in so 'n situasie sou beland. Sou ons God werklik só vertrou dat ons so uitgesproke soos Petrus sou wees?
Gebed:
Here, gee my asseblief die krag om ook waarlik onverskrokke vir U te kan opstaan!