Matteus 9:1-8
Hoe sou jy dit verstaan as ek sou sê dat jou sondes vergewe is? Blykbaar het die gemeentelede in Matteus se gemeente geworstel met hierdie vraag. Dus probeer Matteus dit aan hulle verduidelik met ‘n insident wat gebeur het so pas nadat die dissipels die ervaring in die begraafplaas in Gadara gehad het. Hulle was nie meer daar welkom nie, want die koste van die Evangelie was vir daardie mense te groot. Hulle het immers ‘n hele trop varke verloor as gevolg van die Evangelie en hulle was bang vir Jesus. Sy mag oor die bose het hulle laat sidder. Hulle klim dus weer in die skuit en roei na die oorkant van die meer en gaan na Jesus se tuisdorp, waar Hy natuurlik welbekend was.
Die nuus versprei gou en ‘n verlamde man word op ‘n draagbaar na Jesus gebring. Ons eerste reaksie sou wees om te dink dat Jesus hom sou genees, soos Hy al sóveel kere gedoen het. Dít is immers ook die verlamde se verwagting. Hy het al so baie gehoor dat Jesus enige kwaal kan genees. En uiteindelik het sy kans nou aangebreek. Maar dan gebeur die verrassende, want in plaas daarvan dat Jesus hom die hande oplê en gesond maak, sê Hy slegs vir die man dat sy sondes vergewe is.
Die man was sékerlik baie teleurgesteld! Hy het mos nie ál die moeite gedoen net om vergewe te word nie? Hy wil gesond word! Hy is egter nie die enigste wat teleurgesteld is nie. ‘n Paar nuuskierige Skrifgeleerdes wat kom kyk het wat Jesus besig is om aan te vang, hoor hierdie skokkende woorde. Nou kook hulle bloed behóórlik, want dis mos Godslasterlik om iemand se sondes te vergewe! Hoe kan Hy as Mens verklaar dat die man se sondes vergewe is? Alleen God kan sondes vergewe! Géén mens kan dit namens God doen nie!
Die vraag wat ons vandag moet vra, is of die Pous so ‘n verklaring durf doen? Of die predikant of priester of pastoor? Durf énigiemand só namens God praat?
Die feit is dat die Here vergifnis van sondes belowe het aan elkeen wat in Jesus glo. Natúúrlik kan ek nie iemand se sondes vergewe nie, slegs God kan. Op grond van God se beloftes in die Woord kan ek as gelowige egter verklaar dat iemand se sondes vergewe is as gevolg van sy geloof in Jesus. God het aan my en jou as Sy kinders die mag gegee om mense se sondes vergewe te verklaar in Jesus se Naam! Dit staan duidelik in Romeine 3:23-26: “Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus..... Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar.” 1 Joh 1:9 - “As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.” Johannes 4 beskryf die verhaal van die vrou by die put. Sy het egbreuk gepleeg, en sy is vergewe. In 1 Tim 1:13-16 lees ons hoe die vervolger, moordenaar Paulus volle vergifnis verkry het. Daar is talle soortgelyke plekke in die Bybel wat God se vergifnis uitjubel. En as die Here dit in Sy Woord skryf - waarom sal ek dit dan nou nie uitbasuin sodat almal dit kan hoor nie?
Die feit wat Matteus hier wil beklemtoon, is dat Jesus baie dieper kyk as bloot die liggaamlike nood. Jesus maak die totale mens gesond. Na die eerste groot wonderwerk waar die man se siel gesond gemaak is, volg ‘n tweede wonderwerk. Vir die eerste keer kan die man nou weer loop. Die omstanders se monde hang behoorlik oop van verbasing. Die wonder eindig egter nie hier nie, want Matteus vertel dat die man huistoe gegaan het. Nou kan hy weer as volwaardige mens sy plek in die gesin en die samelewing inneem. Dit gaan egter nóg ‘n stappie verder: omdat sy sondes vergewe is, is daar ook ‘n herstel in sy verhouding met God geskep.
Dit is verskriklik om te moet lewe met die donker wolk oor jou, dat jou sonde nie vergewe is nie. Dat daar as gevolg daarvan nie ‘n verhouding tussen jou en God kan wees nie. Sonde bou ‘n muur tussen jou en God. En dit is so onnodig! Daardie muur kan totaal afgebreek word en totaal disintegreer sodat absoluut niks daarvan oorbly nie. Dit beteken dus ‘n vrye toegang vir jou na God.
Daar is egter slegs een enkele manier om daardie wonder te laat gebeur en jou totale menswees te kan herstel. Die antwoord is eenvoudig: geloof in Jesus Christus. Nee, nie maar net om te glo dat Hy bestaan nie, dit beteken niks! Geloof beteken hier ‘n volle vertroue in Hom alleen en om jou lewe totaal aan Hom oor te gee. Wanneer dit die dag gebeur, vind die groot wonder plaas. Die vrou by die put, Paulus, die verlamde man en talle ander mense het hierdie wonder ervaar. Dan kom maak Jesus jou lewe totaal nuut. Die donker wolk verdwyn soos mis voor die son en die muur disintegreer. Jou sondes word vlekkeloos gemaak soos wat dit beskryf word in Jesaja 1:18 - “Kom tog, laat ons die saak uitpraat!” sê die Here. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.”
Gebed:
Here, my gebed gaan uit vir elkeen wat hierdie boodskap vanoggend lees, wat nog nie die besluit gemaak het om U te volg nie!