Matteus 2:1-12
As jy die woord “Betlehemster” hoor, gee jou hart sommer ook so ‘n ekstra sprongetjie, want dit roep by jou herinneringe op uit jou kleintyd. Dalk was dit ‘n Kersopvoering waar jy as kleintjie deelgeneem het. Of dalk die finale versiering aan die Kersboom, die ster wat Pa met sy lang arms op die tippie van die boom hang. Maar dit gryp ook jou verbeelding aan, want jy probeer vir jou ‘n prentjie vorm van die drie wyse manne wat agter ‘n ster aanloop. Hoe is dit moontlik? Terloops, dit is ‘n mite dat daar DRIE wyse manne was. Nêrens sê die Bybel dit vir ons nie. Ons het maar ons eie afleidings gemaak!
Matteus se verhaal gaan egter veel dieper as ‘n ster en wyse manne. Hy skilder vir ons ‘n geweldige kontras in die verhaal. Eers ontmoet hierdie manne die vals koning, Herodus die Grote in sy luukse paleis, omring deur sy raadgewers. ‘n Rukkie later ontmoet hulle dan die ware Koning, Jesus waar Hy in die eenvoud van ‘n stal lê, en waar dit beslis nie so aangenaam ruik nie. Herodus bak onder valse voorwendsels mooi broodjies. Hy wil kwansuis gaan hulde bring aan daardie nuwe Koning, maar eintlik probeer hy uitvind waar Jesus is sodat hy Hom uit die weg kan ruim. Op die ander pool, God wat Sy Seun uit liefde stuur, nie om mense te kom verdoem nie maar te red van die dood.
Die kern van die verhaal is die wyse manne wat kom hulde bring aan Jesus, die Seun van God. Is dit nie ironies nie, dat God juis heidense magiërs gebruik om hulde te bring, terwyl die Joodse Skrifgeleerdes en volksleiers, en óók koning Herodus Jesus wil doodmaak!
Maar wie was hierdie “wyse manne” en hoe het hulle dit reggekry om ‘n ster te volg? Hulle was sterrekykers iewers uit die Ooste. Ons kan eintlik maar net raai, maar moontlik was hulle afkomstig van Persië (vandag Iran). Daar was manne wat hulleself besig gehou het met baie diep dinge oor die lewe, die mens en die natuur, en dit het gepaardgegaan met die stand van sterre, towery en sulke dinge. By die Jode het hulle dus eintlik ‘n slegte naam gehad, maar in die res van die wêreld was hulle aansien baie hoog.
Oor die ster wat hulle gevolg het, is daar ook baie teorieë. Dit het waarskynlik ‘n baie lang aanloop gehad met oplyning van planete en moontlik selfs die verduistering van ‘n planeet. Die uiteinde was moontlik ‘n komeet wat hulle na Betlehem gelei het. Natuurlike verskynsels? Miskien wel, maar reeds miljoene jare tevore haarfyn deur God beplan om presies reg uit te werk.
Dit was die jaar 5vC toe die finale teken vir hierdie sterrekykers verskyn, ‘n teken waarvoor hulle gewag het. Die Babiloniërs was die voorste wiskundiges en astroloë, en hulle het geweet van die Joodse geloof, dat ‘n ster die koms van die Messias sou aankondig. Die baan wat die ster gevolg het sou hierdie manne reguit na Betlehem lei, waar dit vroegoggend in die Suide sigbaar sou wees. Dit was waarskynlik vir 70 dae lank sigbaar, ook omtrent die tyd wat ‘n reis vanaf Babilon na Betlehem sou neem.
Ek kan myself voorstel hoe opgewonde daardie manne was toe hierdie besonderse ster sy verskyning maak! Vir drie jaar lank hou hulle met opgehoue asems die veranderinge in die sterre en planete dop. Hulle bygeloof omtrent die beweging van planete en sterre het skielik in hulle binneste geruk, toe hulle iets bonatuurlik sien gebeur. Dalk het hulle nagte lank bespiegel en geredeneer oor wat aan die gebeur was. En die opgewondenheid toe daar uiteindelik drie jaar later ‘n ster verskyn wat ál hulle berekeninge bevestig het. Hoe teleurgesteld moes hulle nie gewees het toe hulle by Herodus kom en sy vyandiggesindheid sien nie! Hy het nou wel vir hulle gesê dat hy ook aan die nuwe Koningskind wou gaan hulde bring, maar hulle kon sommer dadelik dwarsdeur sy skynheiligheid sien, dat hy glad nie bedoel het wat hy sê nie. En dan daardie hart-bonsende opwinding toe die ster hulle na Betlehem lei, en hulle die Kindjie daar kry in die stal!
Matteus sien, interessant genoeg, hierdie magiërs nie in 'n negatiewe lig nie, maar hy probeer wys dat die elite van die destydse heidendom Jesus erken het as Koning. En dit terwyl Herodus en die ganse Jerusalem hewig ontsteld was oor dieselfde gebeurtenis. God berei lof voor vir die Messias uit die optrede van eenvoudige skaapwagters wat iewers in die veld naby Betlehem geslaap het (Lukas se weergawe), asook heidene wat Sy ster oor lang afstande volg. En dit terwyl Sy eie volk, veral die kerkleiers absoluut geen begrip openbaar het nie. Dertig jaar later sê Jesus vir hierdie Joodse leiers: “Tollenaars en prostitute sal voor julle in die koninkryk van God ingaan.” (Matteus 21:31)
En ek en jy? Gee ons aan Jesus, die ware Koning, die Een wat heers aan die regterhand van God - gee ons aan Hom die eer wat Hom waarlik toekom?
Gebed:
Here Jesus, saam met die wyse manne wil ek ook vanoggend aan U hulde bring. Ek wil U loof en prys met alles wat binne-in my is!