Voer jou Geloof

12 December, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Voer jou Geloof

2 Petrus 1:5-7

VIDEO * OUDIO

Ek veg my pad oop deur die bykans ondeurdringbare woud. My hele lyf is al vol rooi knoppe soos muskiete en ander insekte my voos gebyt het. Dit voel die hele tyd asof ek dopgehou word iewers uit die digte blare. Dalk ‘n roofdier? Of iemand met die giftige pyl en boog?

Skielik merk ek iewers daar voor ‘n ligskynsel in die donker woud. Is dit uiteindelik my bestemming? Is dit die paradys waarna ek so hard soek? Ek beur met nuwe ywer vorentoe. En dan maak die woud skielik voor my oop. Hier voor my voete ontvou ‘n oopte in helder sonskyn, en oorkant dit, die paradys waarna ek so hard smag!

My aandag word egter vasgevang deur hierdie oopte. Dit is besaai met ál die begeerlikste dinge: goud, edelstene, diamante! ‘n Asemrowende skat wink daar vir my as ek dit sou waag om deur te loop. Die probleem is egter dat die hele oopte bedek is met drillende dryfsand!

Die eerste treë wat ek gee, begin my voete alreeds stadig wegsink in die oppervlak, maar ek beur voort want ek móét by daardie asemrowende skat uitkom! Ek stop my sakke vol goud en edelstene terwyl ek voel hoedat die pappery my stadig insuig. Ek gryp na die begeerlikste diamant waarvan jy ooit kan droom. Maar dan voel ek hoedat die dryfsand my verswelg. En dis vrot! Dit stink!

Dan besef ek dat dit al die goud en edelstene is wat my onder trek. Dit word ‘n oorlewingstryd! As ek lewendig hier wil uitkom, moet ek van alles ontslae raak. Ek maak my sakke leeg, beur, swem, strek, steun en gryp na elke grashalmpie. Uiteindelik, met ‘n laaste kraginspanning, sleep ek myself uit die aaklige, stinkende pappery, en dan is ek skielik in die wonderlikste paradys waaroor jy kan droom!

Ons het die afgelope paar dae gesien hoedat ons die verderf kan ontsnap en deel kry aan ‘n Goddelike natuur. In vers 4 sien ons dat hierdie een enkele beweging is, van totale hooploosheid na die paradys. Terwyl jy vlug van die verderf, moet jy egter alles in die stryd werp om die geloofskennis wat God jou gegee het in jou lewe tot volle betekenis te laat kom. Op die pad is daar allerhande wêreldse begeerlikhede wat jou kan laat ontspoor, en juis daarom vra dit van jou harde werk en dikwels om baie dinge te moet prysgee.

Jy sal egter ontdek dat hoe meer ywer jy aan die dag lê om jou geloofskennis te versterk, hoe minder sal die invloed van die sondige begeertes op jou lewe wees. Jy beveg dus die negatiewe deur die positiewe te doen. Petrus verduidelik dit met ‘n “deugdelysie.” Jy kan baie ander dinge ook hier invoeg soos dit op jou lewe van toepassing is. Sy uitgangspunt is egter “geloof,” want sonder daardie “deug” is al die res van géén waarde.

Geloof is natuurlik ‘n geskenk van God deur die Heilige Gees, en dit kan jy nooit, óóit verdien nie. Geloof kan ook nie meer word deur byvoorbeeld nóg geloof by te voeg nie. Jy hét dit, óf jy het dit nie! Dit kan egter versterk word en groei. Deur my plante kunsmis en kompos te gee, blom hulle baie mooier. Net so kan jou geloof ook blom as jy dit “kunsmis” gee. Maar net soos jou plante nie van stikstof alleen kan lewe nie, so het jou geloof ook gebalanseerde kos nodig.

Die eerste wat Petrus noem is Deugsaamheid, oftewel geloof in die praktyk. Geloof mag nooit net ‘n teorie bly nie, maar jy moet dit prakties uitleef (Galasiërs 5:22).

Deugsaamheid loop egter hand-aan-hand met kennis. Jy kan tog nie jou geloof prakties uitleef sonder dat jy weet waaroor dit gaan nie! Lees, studeer, sluit aan by ‘n Bybelstudiegroep, neem deel aan kursusse en seminare, gesels oor geloofskwessies met ander persone, kry ‘n goeie Bybelkommentaar en gebruik dit. Geloofskennis is van uiterste belang om jou geestelik te laat groei.

Nog ‘n belangrike bestanddeel van hierdie “bemesting”, is selfbeheersing. As jy eers die kennis het, is die praktiese uitvloeisel dat jy sal dóén wat jy geleer het. Weerstaan die versoekings wat jou pad kruis. Net soos ‘n atleet selfbeheersing moet toepas, oefen en reg eet om sy liggaam topfiks te hou, moet jy dit ook geestelik toepas.

Hand-aan-hand met selfbeheersing, is volharding. Dit vra van jou om nie maar net eenmaal die regte ding te doen nie, maar aan te hou daarmee. Deursettingsvermoë is die sleutelwoord.

Die volgende bestanddeel wat Petrus noem is Godsvrug, oftewel om naby aan God te leef. Dit is ‘n doelbewuste lewe in God se teenwoordigheid. Spiritualiteit, is ‘n mooi woord hiervoor.

Natuurlik kan al hierdie dinge nie geskied sonder dat daar hope liefde by betrokke is nie. Allereers liefde vir God, maar dan is liefde vir jou medemens en veral jou mede-gelowiges ook van uiterste belang. Dit beteken dat jy waarlik omgee vir jou broers en susters in Jesus, maak nie saak wie of wat hulle is nie. Maar dan ook liefde vir my medemens, al is hulle nie-gelowiges, Moslems, Hindoes of selfs voorvaderaanbidders! Dit kan soms maar moeilik wees, en so ‘n liefde is ‘n ware beproewing vir jou geloof. As jy egter na Jesus se voorbeeld kyk, sien jy hoedanig liefde werklik moet wees.

Kom ons voer vandag ons geloof sodat dit die mooiste bosse blomme kan dra tot eer van God!

Gebed:

Dankie vir die geloof wat U my gegee het Here, help my asseblief om dit met volharding te voed!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026