Vlug na Egipte

19 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vlug na Egipte

Lukas 2:8-20

Video

Audio

Maria se hart en gedagtes is nog propvol van al die wonderlike en onverklaarbare dinge wat die afgelope weke met hulle gebeur het. Eers die nagmerrie reis, toe die angswekkende middag toe niemand hulle kon of wou huisves nie. Sy het so verworpe gevoel! En toe die stal! Eers was sy bly, toe weer bang, want dit sou dalk beteken dat haar kosbare Baba in daardie vuil stal gebore moes word!

Dan die uitbundige vreugde wanneer haar Baba die eerste lewenslig sien. O, om daardie bondeltjie vreugde in haar arms te kon vashou! En skaars is die baba gebore of hulle word oorstroom deur die klomp skaapwagters. Dit was aan die een kant ‘n baie snaakse gesig, maar dit het terselfdertyd ‘n warm gloed om haar hart geplaas.

En toe daardie vreemde Oosterse manne. Sy het gesukkel om hulle besoek te verwerk. As Jood wou sy wegskram van hulle, maar hulle het ‘n Goddelike boodskap gebring. Haar verstand wil dit nog nie lekker verwerk nie!

Die volgende dag is die Oosterse manne weer daar maar Maria sien sommer dadelik die kommer op hulle gesigte. Dan vertel hulle dat hulle op pad na Betlehem eers in Jerusalem aan was, en dat hulle met die koning, Herodus gesels het en hom vertel het van die Koningsbaba. “Ek dink dit was ‘n fout!” mompel een van die manne. Herodus het gevra dat hulle hom moet laat weet wanneer hulle hierdie Baba kry sodat hy ook aan Hom kon gaan hulde bring. Alhoewel hy ‘n baie vriendelike front opgesit het, het sy oë iets vertel van antagonisme!

“Laasnag het die vreemdste ding met ons gebeur,” vertel hulle verder. “Ons het ‘n droom gehad waarin ons gewaarsku is om nie na hom toe terug te gaan nie. Ons vertrou nie daardie koning nie! Ons gaan ‘n ompad om Jerusalem vat!” Baie bekommerd vertrek die wyse manne terwyl hulle Josef waarsku: “Wees baie versigtig!”

In die middel van die nag skrik Maria wakker as Josef haar ontsteld wakker skud. “Ons moet dadelik oppak Maria! Ek het ‘n ontstellende droom gehad! Ek het gedroom dat ‘n engel my kom waarsku om dadelik na Egipte te vlug. Die engel het gesê dat Herodus ons Baba wil doodmaak!”

Maria skrik haar yskoud. Dadelik dink sy aan die wyse manne se waarskuwing. Met bewende hande raap sy hulle karige besittings bymekaar. Die kosbare geskenke van die wyse manne word sorgvuldig in strooi verpak sodat dit nie beskadig nie. ‘n Uur later is hulle in die donker nag op pad na Egipte. Maria se hart klop in haar keel.

‘n Paar dae later hoor hulle toevallig ‘n gesprek tussen twee uiters ontstelde reisigers van die walglike kinderslagting. Die wrede Herodus het al die kinders onder twee jaar laat doodmaak in die omgewing van Betlehem. Maria bars in trane uit. Sy voel naar. Hoe verskriklik! Het hulle nie gevlug nie, was dit ook háár lot!

Maria se hart krimp ineen as sy dink dat hulle nou in Egipte moet gaan bly. Dat sy haar geliefde geboorteland, dié land wat God hulle gegee het moet agterlaat om in die vreemde te gaan bly. En hoe ironies is dit nie, dat hulle júís na Egipte toe moet gaan, die land waar haar voorouers slawe was, die land waaruit God hulle gered het!

Maar sy besef dat sy nie ‘n keuse het nie. Hulle moet wegkom uit die wrede kloue van die magsugtige Herodus die Grote!

‘n Jaar het verbygegaan in Egipte, en elke dag wens Maria haarself terug in die plattelandse dorpie waar sy grootgeword het. Dan, op ‘n dag bereik die nuus haar ore: Herodus is dood! Opgewonde vertel sy vir Josef wat sy gehoor het. Beteken dit dat hulle nou maar huistoe kan gaan? Maar Josef is skepties. Het dinge werklik verander in Israel? Maria se moed sak in haar skoene!

Daardie nag kry Josef ‘n droom, so helder asof dit hier vlak voor sy oë afspeel. Met ‘n kloppende hart skrik hy wakker. Dan skud hy vir Maria wakker: “Maria! Maria, ‘n engel het so pas na my gekom!”

Maria skrik haar yskoud. Dis nou al die hóéveelste keer dat ‘n engel aan haar en Josef verskyn die afgelope paar jaar.

“Maria, ons moet dadelik oppak. Wanneer dit lig word, vertrek ons!”

“Waarheen gaan ons díé slag? Wat het die engel gesê?”

“Ons gaan huistoe!” borrel dit dankbaar oor Josef se lippe. “Die engel het vir my gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood. So ons vertrek more huistoe, terug na Nasaret!”

En so vertrek Josef en Maria met hulle eenjarige Seuntjie en gaan vestig hulle in Nasaret, waar Josef weer sy ambag as timmerman kon uitleef. En hy het gedroom daarvan dat sy spesiale Seuntjie eendag die ambag by hom sal oorneem.

Herodus die Grote word opgevolg deur sy oudste seun, Herodus Argelaos, ‘n man wat mooi by sy wrede pa geleer het, en ‘n verskriklike humeur gehad het, en eenmaal verantwoordelik was vir 3000 Jode se dood. Maar gelukkig was Nasaret ver genoeg van daardie wrede koning af!

Gebed:

Here, ek staan vanoggend weer in verwondering oor al die gebeure in Betlehem. En hoe U betyds ingegryp het toe alles verlore gelyk het. Dan besef ek net weereens hoe groot die God is wat ek aanbid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026