Vissers van Mense

17 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vissers van Mense

Matteus 4:18-22

VIDEO | OUDIO

Dit het alles begin as 'n doodgewone dag van harde werk. Die vorige nag se visvangs op die boot het maar bitter min opgelewer, dus is Simon en sy broer, Andreas genoodsaak om van die strand af te probeer om iets met hulle werpnet in die hande te kry. Dit is harde werk en dit vat jare se oefening om die groot ronde net met sy gewiggies al om die rand op presies die regte manier bondel te vat en dan behendig met 'n wye boog te gooi sodat dit netjies oopsprei voordat dit die water tref. Enige dinge met 'n glibberige lyf wat onder die net beland, word vasgevang wanneer die net weer ingetrek word en die gewiggies die bek toetrek. Hulle staan halflyf in die water wanneer hulle die nette ritmies oor en oor en oor gooi in die hoop om 'n paar klein vissies daarin te verstrengel. Hulle kan egter maar enkele ou vissies wys vir hulle urelange, uitmergelende arbeid.

Haai julle, kom hier!” roep iemand van die strand af. Hulle steur hulle aanvanklik nie aan die man wat roep nie – wie sou húlle dan nou wou roep? “Kom hier, manne!” klink die stem nou dringender. Hulle kyk om. Op die strand staan 'n vreemde man en hy wink vir hulle om uit te kom.

"Wat sou hy wil hê?" sê hulle vir mekaar, maar Simon en Andreas is maar te bly om 'n blaaskansie te vat en hulle maak hulle nette bymekaar en plons strand toe om te verneem wat hierdie vreemdeling se probleem is.

Ek is Jesus – Ek is van Nasaret,” lag 'n baie vriendelike man, “Ek het julle nodig.”

Waarvoor nogal?” Hulle kan tog niks anders doen as om vis te vang nie. Waarvoor sou enigiemand húlle dan nou nodig hê?

Ek wil van julle vissers maak.”

Simon bars uit van die lag! Maar hy wil hom sommer vir die Man vererg – kan hy dan nie sien dat hulle alrééds vissermanne is nie? Wat het hulle dan anders gedoen toe Hy hulle kom roep het? Hulle was besig om vis te vang natuurlik!

Maar daar is iets in hierdie Man wat anders is en wat maak dat hy hom netnie vir Hom kan vererg nie. Dit is amper asof daar iets uit Hom straal – Sy vriendelike glimlag? Nee, dis véél meer! Dis asof die liefde diep uit hierdie vreemde man se binneste uitborrel.

Meneer, ek verstaan nie – ek en my broer, ons is al jare lank vissermanne, van kleins af, my pa het ons geleer......”

Nee, nee, dis nie wat Ek bedoel nie,” lag die vreemdeling, “Ek wil van julle vissers van mense maak!”

Nou verstaan hulle nóg minder. “Wat is 'n visser van mense?” wil Andreas weet.

As julle saam met My kom, dan verduidelik Ek vir julle. Dit gaan egter beteken dat julle bereid moet wees om alles te los en My dissipels te word. Wat sê julle?”

Simon is nog 'n bietjie skepties, maar Andreas is sommer dadelik baie opgewonde – daar gaan 'n liggie vir hom op: Herodus het mos vir Johannes in die tronk laat opsluit en toe het hierdie nuwe Profeet in sy plek begin preek. Almal praat van Hom! "Dis sékerlik daai nuwe Profeet!” fluister hy vir Simon. “Ek wil beslis Sy dissipel wees!” Hy gooi sy werpnet nét daar op die strand neer

Ek kom saam!” Sy stem bewe eintlik van opgewondenheid. “Komaan Simon, kom ons gaan!”

Half teësinnig los Simon sy net by dié van Andreas en hulle stap saam met hulle nuwe Leermeester, Jesus.

'n Entjie strand-op sit hulle twee berugte vriende Jakobus en Johannes, die sogenaamde “Seuns van die Donder!” in hulle skuit saam met hulle pa, hard besig om nette reg te maak. Twee moeilike manne hierdie, jy sukkel nie met hulle nie!

Haaidaar manne!” roep Jesus hulle. Andreas verduidelik opgewonde dat hy en Simon vir Jesus volg as dissipels. “Hy is daardie nuwe Profeet wat in Galilea preek!”

Kom saam!” nooi Jesus hulle vriendelik uit. Die twee laat nie op hulle wag nie want hulle het al baie gehoor van hierdie Profeet. Haastig spring hulle oor die kant van die skuit en los vir Pa Sebedeus met die nette. Hy is gládnie gelukkig dat hulle hom nou alleen los om die werk klaar te maak nie. Hy probeer nog keer en teëstribbel, maar dit val op dowe ore. Verslae sit hy hulle en agternakyk as hulle strandop stap in die rigting van Kapernaum waar Jesus Hom 'n ruk vantevore gevestig het.

Vir Simon-hulle was hierdie dag die begin van 'n splinternuwe lewe. En nee, dit was beslis nie maanskyn en rose nie, soms bitter moeilik! Twee dinge was vir hulle nodig om te doen: Hulle moes 'n wilsbesluit neem om Jesus te aanvaar en tweedens moes hulle die fisiese stap neem om Hom te volg, ongeag die gevolge.

Ons moet vandag presies dieselfde keuses maak. Jy het sékerlik alreeds die eerste stap geneem en Jesus aanvaar as Verlosser. Die tweede stap is egter die moeilike een, want dit kan baie komplikasies in jou lewe hê. Hierdie tweede stap is vir elkeen van ons verskillend en die navolging van Jesus kan wyd-uiteenlopende aksies beteken. Vir die een kan dit beteken om letterlik op te pak en alles agter te laat om as sendeling iewers in 'n afgeleë plek te gaan werk. Vir 'n ander sou dit beteken om jou Christenskap binne jou werkplek ten volle uit te leef. Nie een van hulle is maklik nie! Wat is jou keuse?

Gebed:

Here, ek besluit vandag om U onvoorwaardelik te volg, maak nie saak wat gebeur nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026