Johannes 21:1-14
Vir drie jaar lank het die twaalftal uitgesoekte manne hulle werk gelos en die Meester gevolg. Hulle het dag vir dag aan Sy voete gesit en geleer van die Koninkryk van God. Hy het hulle op talle praktiese ekskursies geneem en gewys hoe die Evangelie verkondig moet word. Die doel van hierdie hele oefening was om ‘n kerngroepie kerkleiers op te lei. Hulle was die mense wat die Evangelie moes uitdra wanneer Hy nie meer daar was om dit te doen nie. Hulle was ook die manne wat by Hom moes oorneem om verder mense op te lei om die Evangelie te versprei. En nou skielik was Hy nie meer daar om vir hulle leiding te gee nie. Hulle sit rond en weet nie meer wat om met hulleself aan te vang nie, want skielik is hulle leierloos.
Dan wonder Petrus of dit nie dalk wys sou wees om nou terug te keer na sy ou beroep toe nie? "Ek gaan visvang - wie kom saam?” Sommer gou-gou het hy ‘n gewillige bemanning. “Vannag gaan ons róér onder die blinklywe!”
Maar dinge verloop nie soos beplan nie, want soos wat dit maar met menige hengel ekspedisie gaan, kom hulle baie bedroë daarvan af - die ganse nag se harde arbeid lewer nie eers een enkele ou sardientjie op nie. Petrus is moedeloos. Alles in die lewe loop vir hom skeef. Niks maak meer sin nie. Hy, die groot visserman, die een wat oral leiding neem - sy wêreld het inmekaar getuimel. Elke keer as hy dink dat hy nou héél bo is, dan kom hy weer hard terug aarde toe. Toe hy vir Jesus sê dat hy Hom nooit sou verlaat nie, het hy dit eerlik bedoel, maar Jesus het vir hom gesê dat hy sy Meester sou verloën. Hoe verskriklik spook daardie nag nie steeds by hom nie - die nag toe hy soos ‘n bang hond moes wegkruip sodat mense hom nie dalk sou herken nie. Drie maal daardie nag moes hy lieg en dit nogal vir ‘n simpel diensmeisie. En toe verloor hy alles wat vir hom in die lewe saakgemaak het, toe hulle sy Meester daar aan die kruis vermoor.
En nou hierdie vernedering: hy het gedink dat hy darem nog kan visvang, maar nou kan hy selfs nie eers meer ‘n enkele ou vissie in die hande kry nie!
En dan gebeur die wonderwerk. In die half-skemer staan Iemand op die strand en skree vir hom om die net aan die anderkant uit te gooi. Wat sal dit nou help? As daar nie visse links is nie sal daar mos ook nie regs wees nie! Maar hy gehoorsaam. Hy sê vir die manne om die net anderkant in te gooi. Die volgende oomblik wemel dit van visse - nie maar net sardientjies nie, dis sommer gróót visse! Skielik dring die besef deur tot Petrus dat dit niemand anders is nie, as Jesus wat op die strand staan. Hy trek sy hemp haastig aan en spring in die see om die laaste end strand toe te swem.
Skielik het Petrus nou sy selfvertroue terug. Iets begin nou in sy gedagtes posvat: dit is nie hý wat sterk is nie, maar Jesus! Dis sy Meester wat hom daardie krag gee! Elke keer as hy iets sonder Jesus wil doen, misluk hy, maar as Jesus bykom dan staan hy sterk soos ‘n rots. Inderdaad moes Petrus ‘n paar weke later uitvind dat wat hy tot dusver beleef het nog niks was nie, want toe die Heilige Gees eers sy lewe oorgeneem het, het hierdie rots, Petrus uitgestyg as die onwrikbare, onverskrokke man van God wat selfs die magtige Joodse Raad kaalvuis kon aanvat!
Inderdaad het Petrus daardie oggend vroeg, daar op die strand, ook geleer dat om op jou eie krag vis te vang, niks in die sak bring nie. Met Jesus saam kan jy baie visse vang. Jesus het dit ook vir hom verduidelik dat hierdie visse in die see nie is wat Hy in gedagte het vir Petrus nie, maar dat hy vir Jesus visse van mense sou vang in oorvloed. Hierdie ou paartjies (daar was 153 visse) wat hulle op die strand uitgesleep het is nog niks teen die magdom van mense-visse wat daar gevang sou word nie. Ja, op Pinksterdag alleen was die vangs drie duisend!
Ons is ook vissermanne (én vroue). Petrus se verhaal leer ons egter ‘n baie kosbare les. Waarom is dit dat ons beste evangelisasiepogings dikwels ‘n totale mislukking is? Ál ons beplanning en ál ons harde werk lewer dikwels absoluut niks op nie. Petrus moes op die harde manier leer dat hy op sy eie stoom nêrens kon kom nie. Die oomblik toe die Here bykom, was daar sukses!
Op Pinksterdag het die groot wonderwerk gebeur, toe Jesus die Heilige Gees aan Sy kerk gegee het. Dit was nie net vir die mense van daardie tyd bedoel nie, maar vir die kerk deur die eeue - óók vir ons vandag. Deur die Heilige Gees, beleef ons vandag dieselfde krag van Jesus as wat Petrus dit destyds beleef het. Hy is in elke gelowige! Die groot geheim is om Hom net die kans te gee in jou lewe.
Die vraag kom dikwels op: Waarom beleef sommige mense die Heilige Gees meer suksesvol in hulle lewens as ander? Die geheim lê daarin dat hoe nader jy aan God leef, hoe meer gee jy die Heilige Gees geleentheid om jou lewe te beheer. Hoe minder sonde daar in jou lewe is, hoe meer plek is daar vir Hom.
Gebed:
Here, dankie dat U Heilige Gees in my woon. Help my asseblief om so te leef dat Hy baie plek in my lewe het.