Lukas 5:1-11
Die spanning bereik breekpunt in Rome. Die wrede Keiser Nero was op die troon en hy het talle Christene laat doodmaak op die mees grusame wyse. Sommiges word leeukos, ander oefensakke vir die Gladiators. In die strate hang die walglike reuk van verbrande mensvleis en verkoolde lyke hang oral aan pale waar hulle die vorige nag as lewende straatligte gebrand het - besmeer met teer. ‘n Vreemdeling kom vra padaanwysings van ‘n klein groepie mense wat saggies staan en gesels. Terwyl hulle praat, teken hy ongemerk met sy kierie in die stof, die buitelyne van ‘n vissie. Skielik gryp een van die groepie hom en omhels hom: “Jy is ook een van ons! Jy is ‘n man van die Weg! Welkom!”
Jy het nie geweet wie om te vertrou nie, want as die verkeerde persoon uitvind dat jy ‘n Christengelowige is, word jy verkla. Dis so goed as jou doodsertifikaat! Christene het mekaar herken deur die teken van die vissie te maak. Maar waar kom dit vandaan?
Wel, dit het eintlik ‘n dubbele betekenis. Die Griekse woord vir “Vis” is “Ixthus”. Die Christene het die woord gebruik as ‘n akroniem, waar die letters uitspel: Iesous Xristos Theou Uiou Soter - Jesus Christus God se Seun, Verlosser. Maar daar is meer! Dit het sy oorsprong een mooi dag gehad, toe Jesus langs die See van Galilea vir ‘n klomp mense gepreek het. Die woord het soos ‘n veldbrand versprei dat Hy daar was, en weldra was daar ‘n reuse skare wat mekaar letterlik vertrap het om hierdie Jesus te kon hoor preek. Hulle druk en stoot en stamp, en die arme Prediker word tot aan die waterkant gedruk, want elkeen wil naby wees.
En toe kom daar ‘n oplossing vir die probleem uit ‘n onverwagse oord: Twee visserskuite met moedelose vissermanne kom aan land. Daar is nie ‘n enkele vissie van ‘n dagoud in die skuite nie, en die arme ou Petrus se gesig hang. Vir Jesus is hierdie skuite die oplossing, en hy oorreed vir Petrus om Hom op te laai sodat Hy vanuit die skuit met die mense kon praat.
Nadat Hy “Amen” gesê het, sê Jesus vir Petrus en sy maats, Jakobus en Johannes - Sebedeus se twee seuns: “Kom ons gaan vang vis!” Petrus kyk hierdie Prediker half skepties aan. Weet Hy dan absoluut niks van visvang af nie? Hulle is al donkeroggend uit op die skuite, en daar was nie ‘n stinkende sardientjie in die ganse see om te vang nie! Waar gaan hulle nou skielik vandaan kom? Baie teensinnig stem hy uiteindelik in, en net om vir hierdie onkundige Man te wys dat daar nou rêrag nie visse in die see is nie, gooi hy sy net uit. Maar dan rek Petrus se oë baie groot wanneer hy baie skepties die net intrek, maar hy amper nie die net kan beweeg nie, so swaar is dit van visse. Toe hy en sy maters uiteindelik die nette in die twee skuite leeg gemaak het, was hulle bang dat die bote dalk sal sink met die swaar vrag.
Daardie dag was ‘n baie groot keerpunt in Petrus se lewe. Skielik het hy besef dat hierdie “Profeetjie” nie maar ‘n gewone mens is nie, en hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en om verskoning gevra dat hy so ongelowig was.
Jesus glimlag vir hom: “Moenie bang wees nie! Jy gaan van nou af ‘n visser van mense word.”
Petrus het vir séker nie geweet wat Jesus bedoel het nie. Dit sou nog drie jaar neem, drie baie moeilike, maar opwindende jare, voordat hy die ware betekenis van Jesus se woorde sou verstaan. Ek dink dat Petrus sékerlik op daardie pinksterdag toe daar drieduisend mense tot bekering gekom het, oor Jesus se woorde gedink het. Hy, Petrus, die eenvoudige, hardkoppige, ongelowige visserman het met die skare gepraat. O, hoe het die “visse” nie daardie dag ingestroom nie! ‘n Visser van mense! Jesus het mos vir hom gesê dat hy een sou wees! Maar uit sy eie krag sou hy dit nooit, óóit kon regkry nie! Petrus was maar net die spreekbuis van die Heilige Gees wat die wonder op pinksterdag laat gebeur het.
Die wonder van die vissie het nooit opgehou nie. Ten spyte van al die vervolging wat Petrus beleef het, en al die wrede vervolging wat die Christene onder Nero moes deurmaak, was daar steeds mense wat bereid was om die nette uit te gooi as vissers in diens van Jesus. Dieselfde asemrowende krag van die Heilige Gees wat Petrus op pinksterdag beleef het, is steeds vandag beskikbaar vir elkeen wat bereid is om die net op te neem. En dieselfde Ixthus simbool wat die vervolgde Christene in Nero se tyd moed gegee het, sê steeds vir ons dat Jesus Christus, die Seun van God vandag nog al die tyd ons Verlosser is soos wat Hy eeue gelede was en vir altyd sal bly.
Dalk is jy ook vandag, nes ou Petrus, skepties om die net op te neem. Dalk is jy bang dat jy nie die mas gaan opkom nie. Wees verseker dat Jesus steeds daar is langs jou sy soos Hy belowe het. En wees verseker dat die Heilige Gees steeds daar is, nes met Petrus, om jou die waagmoed, krag en wysheid te gee. Hy vra net jou gewilligheid.
Gebed:
Here, nes Petrus is ek ook dikwels bang om ‘n visser van mense te wees. Gee my asseblief die moed om U op u Woord te neem en die net uit te gooi.