Vissers van Mense

3 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vissers van Mense

Johannes 21:1-14

Opgewonde het die handjievol volgelinge vroeg die oggend in die pad geval na Galilea. Die vraag op almal se lippe was, wat daar op hulle sou wag? Ja, selfs Thomas was onder die groep, nadat hy so geskitter het in sy afwesigheid die aand toe Jesus aan hulle verskyn het. “Ek sal dit nooit as te nimmer glo nie!” was sy woorde. En toe verskyn Jesus ook aan hom. Dit was 'n totale ommekeer in die ongelowige Thomas se lewe!

Na 'n lang, vermoeiende reis het hulle in Galilea aangekom, en toe wag hulle. En niks gebeur nie!

Een middag laat, spring Petrus skielik op: “Ek’s verveeld! Ek gaan visvang, wie kom saam?”

Ekke!” Johannes is die eerste om op te spring. Hy is opgewonde, want ten minste gaan hulle iets doen!

Sommer gou-gou het Petrus ‘n gewillige bemanning. “Vannag gaan ons róér onder die blinklywe!

Maar dinge verloop nie soos beplan nie, want soos wat dit maar met menige hengelekspedisie gaan, kom hulle baie bedroë daarvan af. Die ganse nag se harde arbeid lewer nie eers een enkele ou sardientjie op nie. Petrus is moedeloos. Alles in die lewe loop vir hom skeef. Niks maak meer sin nie. Hy, die groot visserman, die een wat oral leiding neem - sy wêreld het inmekaar getuimel. Elke keer as hy dink dat hy nou héél bo is, dan kom hy weer hard terug aarde toe. Toe hy vir Jesus sê dat hy Hom nooit sou verlaat nie, het hy dit eerlik bedoel, maar Jesus het vir hom gesê dat hy sy Meester sou verloën. Hoe verskriklik spook daardie nag nie steeds by hom nie, die nag toe hy wat Petrus is soos ‘n bang hond moes wegkruip sodat mense hom nie dalk sou herken nie. Drie maal daardie nag moes hy lieg, en dit nogal vir ‘n simpel diensmeisie. En toe verloor hy alles wat vir hom in die lewe saakgemaak het, toe hulle sy Meester daar aan die kruis vermoor.

Met Johannes gaan dit ook nie veel beter nie. Hy het mos by Pa Sebedeus, die héél beste leermeester geleer visvang, maar nou kan hy nie eers meer ‘n enkele ou vissie in die hande kry nie!

Dan gebeur die wonderwerk. In die vroeë oggendskemer sien Johannes iemand op die strand. Die “Persoon” skree vir hulle dat hulle die net aan die anderkant van die skuit moet uitgooi. “Wat sal dit nou help?” brom Johannes. “As daar nie visse links is nie sal daar ook nie regs wees nie!” Maar Petrus besluit om maar te doen wat die man sê. Wat het hulle nou om te verloor? Skaars is die net in die water, of dit wemel van visse, nie sommer net sardientjies nie, maar gróót visse! En dan skielik dring die besef deur tot Johannes dat dit niemand anders is nie, as Jesus wat op die strand staan. Tot sy verbasing sien hy hoedat Petrus sy hemp haastig aantrek en in die see spring en strand toe swem.

Skielik kry Johannes sommer nuwe respek vir sy groot, rowwe vriend Petrus. Die ding met sy verloëning het sy ou vriend baie hard geslaan, en hy kon sien hoedat Petrus die afgelope weke wegkwyn. Maar nou het Johannes weer die óú vuur in Petrus se oë gesien toe hy in die water spring. Ja, die Rots is terug!

Wanneer die moeë manne uiteindelik die swaar skuit op die strand uitsleep, tref hulle vir Petrus aan waar hy rustig saam met Jesus langs 'n vuurtjie sit. Met groot moeite sleep hulle die net met sy 153 groot visse in op die sand uit.

Inderdaad het Johannes daardie oggend geleer dat om op jou eie krag vis te vang, jou niks in die sak bring nie. Met Jesus saam kan jy baie visse vang. Jesus het dit ook vir hulle verduidelik dat hierdie visse in die see nie is wat Hy in gedagte het vir hulle nie, maar dat hulle vir Jesus visse van mense sal vang in oorvloed. Hierdie ou paartjies wat hulle op die strand uitgesleep het is nog niks teen die magdom van mense-visse wat daar gevang sou word nie. Ja, op Pinksterdag alleen was die vangs drie duisend!

Ons is ook vissers. Hierdie verhaal leer ons egter ‘n baie kosbare les. Waarom is dit dat ons beste evangelisasiepogings dikwels ‘n totale mislukking is? Al ons beplanning en al ons harde werk lewer dikwels absoluut niks op nie. Johannes-hulle moes op die harde manier leer dat hulle op sy eie stoom nêrens kon kom nie. Die oomblik toe die Here bykom, was daar sukses.

Op Pinksterdag het die groot wonderwerk gebeur, toe Jesus die Heilige Gees aan Sy kerk gegee het. Dit was nie net vir die mense van daardie tyd bedoel nie, maar vir die kerk deur die eeue, ook vir ons vandag. Deur die Heilige Gees, beleef ons vandag dieselfde krag van Jesus as wat Johannes en Petrus dit destyds beleef het. Hy is in elke gelowige. Die groot geheim is om Hom net die kans te gee in jou lewe. Die geheim is egter, dat hoe nader jy aan God leef, hoe meer gee jy die Heilige Gees geleentheid om jou lewe te beheer. Hoe minder sonde daar in jou lewe is, hoe meer plek is daar vir Hom.

Gebed:

Here, dankie dat U Heilige Gees in my woon. Help my asseblief om so te leef dat Hy baie plek in my lewe het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026