Verwerp in Nasaret

30 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verwerp in Nasaret

Markus 6:1-6

VIDEO * OUDIO

Januarie 2005. Ek is opgewonde: Mosbolletjie het my aangepor om weer te gaan kyk hoe die plek lyk waar ek grootgeword het, ‘n plaas naby Waterval Boven. Maar sommer met die intrapslag tref die eerste teleurstelling my wanneer ons die dorp binnery. Feitlik al die bekende landmerke is weg! Die dorp is nie meer dieselfde nie! Oupa se bakkery van baie jare gelede, staan darem nog, maar hy is nou ‘n meubelwinkel. Het ek dalk iets anders verwag?

Ons ry na die stasie toe. In my geestesoog sien ek weer die talle stoomtreine wat ek as kind in verwondering staan en dophou het. Hier het ek my elke Saterdag staan en vergaap aan die ou vuurkolosse wat hulle swaar vragte teen die steil berge opsleep na Johannesburg. En die besige rangeerwerf met sy rye en rye spore, waar trokke heen en weer gestoot word om die regte bestemming te bereik. Ook hiér word ek bitter teleurgestel. Nie ‘n enkele lokomotief nie en die rangeerwerf is verlate!

Met ‘n swaar gemoed ry ons verby Elandskrans na die plaas waar ek grootgeword het. My hart bons wild - ons ou plaashuis staan nog steeds! Maar die res van die plaas het onherkenbaar verander. Die pragtige vrugteboorde met hulle sappige dragte perskes, pruime, appelkose en pere is alles weg. Selfs die ou plaashuis het ook totaal verander. Ek soek my ou speelplekke uit my kinderjare, maar ek herken amper niks. Dan merk ek Oupa se ou klipkraal - hy staan darem nog, en daar het nie ‘n enkele klippie verander nie!

Ek voel bitter teleurgesteld, selfs verwerp!

Daar moes seker by Jesus ‘n groot opgewondenheid gewees het toe Hy uiteindelik die geleentheid kry om in Nasaret, die dorp waar Hy grootgeword het te gaan optree. Hier het Josef Hom as jong seun opgelei as timmerman, in al die fynere kunsies van die ambag. Dit was Jesus as die oudste seun se plig om die werkswinkel oor te neem. ‘n Timmerman was ‘n edel beroep, en dit het Hom op die sosiale leer iewers in die middel geplaas. Aan die bopunt van hierdie leer was natuurlik die intellektueles, soos die Skrifgeleerdes en raadslede van die sinagoge. Omdat Jesus nie hierdie soort “geleerdheid” gehad het nie, het Hy en Sy familie nie op daardie vlak plek gehad nie.

Jesus se reputasie as “Wonderwerker” het Hom alreeds vooruitgeloop, en almal het geweet van die dinge wat Hy elders gedoen het, al die genesings, en die wonderlike “stories” wat Hy vertel het. Dit was dus net natuurlik dat hulle Hom sou vra om daardie Sabbat in die Sinagoge voor te gaan. Dit was enige volwasse man se voorreg om dit te doen.

Markus wei uit oor hoe die mense deur Jesus se woorde aangegryp was, en hoe beïndruk hulle was met die wonderwerke wat Jesus gedoen het. “Waar kom hy aan hierdie dinge?” het hulle vir mekaar gevra. “Watter wysheid is aan hom gegee, dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind?”

Almal was in ekstase oor Jesus. Maar daar was ‘n probleempie: Sy herkoms! “Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” ‘n Doodgewone middelklas gesin! Daar was ‘n baie streng sosiale struktuur en elkeen móés sy plek in hierdie rangorde ken! Jesus se optrede het behoort tot die hoogste sosiale sport, maar Sy herkoms was elders. Hy was dus uit Sy plek, en daarmee kon die mense hulleself nie versoen nie!

Jy sal nog onthou dat Maria en Jesus se broers Hom by ‘n vorige geleentheid wou kom haal omdat Hy kwansuis “van Sy kop af geraak” het. Hy het skande oor Sy familie gebring omdat Hy homself sou verhef het tot ‘n hoër sosiale vlak.

Ten spyte van al die wonderwerke en die wyse dinge wat Jesus gepreek het, het sy eie mense Hom verwerp. Markus vertel dat Jesus uiteindelik nie ‘n enkele wonderwerk daar in Nasaret gedoen het nie. Dit sou hulle in elk geval nie oortuig het nie, want hulle het geweet van al die dinge. Hulle het hulle egter blindgestaar teen Sy “tweederangse” herkoms.

Vandag word Jesus steeds verwerp om basies dieselfde redes. Die eenvoud van die Evangelie maak dat baie mense Jesus nie wil aanvaar nie. Hulle soek iets baie meer verhewe. Die eenvoudige “Glo in Jesus, en jy sal gered word,” kan onmoontlik nie genoeg wees om die hemelpoorte binne te gaan nie. Daarom word Jesus verwerp. Dan is daar diegene wat alles weet van Jesus af, wat van kindsbeen af al die dinge van geloof geleer is en al talle preke gehoor het. Maar om deel van daardie “Christenkultuur” te word, is ‘n vernedering, want “wat sal my vriende nou daarvan dink?” Daarom word Jesus verwerp, want Hy pas nie in daardie sosiale kultuur in nie!

Het jy al werklik by Jesus uitgekom? Het jy Hom aanvaar vir Wie Hy waarlik is? Het jy al vir Hom “Ja” gesê toe Hy jou Sy kind wou maak?

Gebed:

Here, my gebed gaan uit vir elkeen wat weet wie Jesus is, maar Hom nie wil aanvaar nie. Maak asseblief vandag harte oop vir die Verlosser.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026