Amos 7:10-17
Die einde van die pad het aangebreek vir Amos as profeet. Of het dit werklik? Die kerk het teen hom gedraai, en die priester Amasia het Amos gaan aankla by die koning.
Hierdie plofbare situasie het ‘n lang pad gekom. Bet-El is gesien as die heiligdom van Israel. Nadat die ryk in twee geskeur het, het Juda gesit met Jerusalem, en natuurlik die groot heiligdom, die tempel. Dit was vir die Israel ‘n bitter pil om te sluk, dus stig Koning Jerobiam I ‘n nuwe heiligdom vir Israel in Bet-El. Dit was ‘n koninklike heiligdom, en dus in ‘n sekere sin ‘n “staatstempel” of in vandag se terme ‘n staatskerk.
Ons het in Suid-Afrika byna met dieselfde situasie gesit vir baie jare,waar die NG Kerk beskou was as die “staatskerk”. Alhoewel niemand dit amptelik wou erken nie, het die kerk en regering ‘n bondgenootskap gehad. Die regering het opgetree met die seën van die kerk, en baie van die politiek wat bedryf is, is goedgepraat deur die kerk. Dis baie gevaarlik vir die kerk, want die staat en sy ideologië kan belangriker word vir die kerk as die Woord. Dink maar aan apartheid wat selfs deur die kerk goedgepraat en Bybels gefundeer! In 1994 het alles eensklaps verander, en vir baie mense was dit die einde van die wêreld. Skielik was die regering nie meer “suiwer” Christelik nie. Islam, Hindoeïsme en tradisionele Afrika godsdiens was nou deel van die regering, en die kerk het sy plek verloor. In ‘n sekere sin was dit ‘n seën vir die kerk, wat toe opnuut moes besin oor presies hoe ons oor hierdie dinge glo, en gaan kyk wat die Woord werklik sê.
Amos het nie geskroom om te sê wat die Here hom op die hart gelê het nie, en dit het seer gemaak. Selfs die kerk is nie gespaar nie, en Amos het die skynheiligheid van die volk uitgewys. In hoofstuk 4 het ons gesien hoe Amos te velde trek oor die Israeliete wat selfs binne-in die kerk sondig, en dat die Here nie meer hulle offers wil hê nie. Amasia was woedend: “Maak dat jy wegkom!” bulder hy vir Amos in vers 12. Hy moet maar in Juda gaan preek, en dáár sy brood verdien, want dan is hy ten minste uit Israel se hare uit, en dan sal hy dit nie meer so ongemaklik maak vir die kerk in Israel nie.
Amos was egter reg met ‘n antwoord. Hy was nie ‘n professionele profeet wat betaal was om te preek nie, hy was ‘n plaasboer, en hy het gepreek alleen omdat die Here hom geroep het om dit te doen, sonder enige vergoeding. By hom was daar geen menslike of finansiële oorwegings nie, slegs suiwer gehoorsaamheid aan die Here! Nie alleen sê die Here vir hom WAT hy moet preek nie, maar ook WAAR hy moet preek, in hierdie geval teen die volk Israel. Daar was dus géén sprake dat hy na Juda sou terugkeer voordat hy nie klaar die Here se opdrag uitgevoer het nie.
Amos sê hier ‘n baie belangrike ding vir elkeen wat ‘n opdrag van die Here gekry het. As die Here my stuur om iets te doen, durf ek nie na mense luister nie, veral nie diegene wat my uit die pad probeer kry omdat hulle nie die Woord van God wil hoor nie. Ek mag ook nie toelaat dat ‘n moeilike situasie my verhinder om voort te gaan met my opdrag nie.
Dis nie maklik om ‘n profeet vir die Here te wees nie, veral as jy jou roeping ernstig opneem. As ons deur die geskiedenisblaaie van die Bybel lees, sien ons telkens hoe die ernstige profete noustrop trek. Elia moes vlug vir sy lewe nadat hy die Baäl-godsdiens ‘n ernstige knou gegee het. Isebel wou hom dood hê, en hy moes in die woestyn gaan wegkruip. Sy opvolger, Elisa is gespot en uitgekoggel deur kinders. Johannes die Doper is in die tronk gesmyt en later is sy kop afgekap en tot groot vermaak van koning Herodus se gaste op ‘n skinkbord vertoon op die partytjie. Daniël is selfs vir die leeus gesmyt!
Maar die boodskap van Amos kom baie duidelik: Moenie die Here beproef nie! Veral nie as jy die Woord ken, soos hierdie priester Amasia nie. Die straf wat Amos oor hierdie priester aankondig is vernederend en grusaam. So sien ons ook dat die vervolgers van die profete deur die eeue swaar deur die toorn van die Here getref is: Isebel het ‘n grusame dood gesterf, en so ook Herodus, en Elisa se spotters.
Vandag kan jy steeds vervolging, spot, verwerping verwag as jy God se roeping aanvaar en voluit vir Hom werk volgens Sy wil. Maar soos wat die Here vir Elia, Elisa, Amos en Johannes krag gegee het, so gee Hy deur die Heilige Gees vandag ook onbeperkte krag uit ‘n onuitputbare Bron as jy maar net gewillig is. Vandag is daar talle voorbeelde van mense wat hulleself gewillig verklaar het en ten spyte van baie teenkanting die volle krag van die Here uitleef. Om maar een enkele voorbeeld te noem: Angus Buchan, terloops óók ‘n plaasboer, wat miljoene mense bereik omdat hy gehoorsaam en gewillig is. Ek en jy kan ook!
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om U woord te bly uitdra, selfs al is daar teenstand.