Versoekings

11 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Versoekings

Jakobus 1:12-18

VIDEO OUDIO

'n Klompie jare gelede kuier 'n ou omie en tannie in Satara in die Kruger Wildtuin. Vroegoggend gaan ry hulle om diere te kyk. Laatoggend sien hulle 'n manjefieke ou olifantbul ‘n hele ent van die pad af. Maar die ou logge dier is hééltemal te ver na die ou korrelkop-omie se smaak. Soos die “toeval” dit wil hê, loop daar 'n klein grondpaadjie reguit na die ou kolos toe. By die ingang van die paadjie is daar 'n groot, bloedrooi bord met die waarskuwing: GEEN TOEGANG! Hy kyk in die paadjie af, en hy sien dat die pad héél gangbaar is. Die versoeking is baie groot en nét daar swaai hy die motor se neus in die verbode paadjie in.

Die ou tannie protesteer héftig, maar hy hou hom doof vir haar gekerm. Hy het klaar besluit dat hy nader wil ry en soos gewoonlik kry hy sy sin en neem 'n paar kiekies van die grys gevaarte. Toe hy egter wil omdraai, kom hy agter dat die paadjie te nou is vir omdraai. Tot die tannie se groot ontsteltenis ry hy toe maar verder aan om iewers daar voor 'n omdraaiplek te soek.

Etlike kilometers verder ry hulle deur 'n sanddriffie en daar val hulle karretjie vas. “Ek het jou mos gesê!” beskuldig die ou tannie, maar dis gedane sake. Die omie spook en spartel, maar dis puur verniet. Hulle sít!

En hulle wag, want iemand sou hulle mos kom red.....?

Die ongenadige Laeveldson sit naderhand hoog en die arme twee oues van dae wil doodgaan van die hitte en dors. Laatmiddag neem die ou korrelkop-omie 'n besluit: “Ek gaan water soek!” Oumatjie soebat en smeek en dreig en protesteer, maar hy het klaar besluit. En so, met 'n hol dingetjie in die hand vat hy pad. Wonder bo wonder kry hy 'n ou watertjie so net voor die son begin water trek.

Maar met die omdraaislag tref die ongeluk hom: uit die hoek van sy oog sien hy die beweging, en onmiddellik besef hy dat hy in gróót moeilikheid is. Gelukkig skop sy adrenalien in, en voordat Vuilbaard naby hom kan kom, bestyg die omie 'n boom in rekordtyd en klim so hoog as wat sy senuwees en kragte hom toelaat. En daar sit hy met kloppende hart en afkyk na die leeugesin wat hulle nuuskierig hier onder sy boom kom tuismaak.

Dit word donker! En hy kan hom nie roer nie.

Intussen sit die ou tannie in die grootste angs in die motor. Dis al pikdonker en haar ou man daag nie op nie. Sy sien al in haar geestesoog hoe hy deur 'n trop leeus opgevreet word. Boonop hoor sy die hele nag lank dieregeluide rondom die vasgevalle motortjie, en sy sterf tien dode!

In Satara merk 'n skoonmaker die volgende oggend dat daar niemand in hulle rondawel geslaap het nie, en sy maak alarm. En so begin die groot soektog na die twee vermiste oumense.

Intussen het die omie darem ook teen ligdag kon ontsnap en hy is baie haastig terug na sy motor, waar hy 'n histeriese ou tannie aantref. Uiteindelik, na twee dae is die twee deur middel van 'n helikopter opgespoor en wonder bo wonder het hulle oorleef. Die omie se swig voor 'n versoeking het so byna-byna hulle lewens gekos!

Het die Here hierdie versoeking op die omie se pad geplaas? Nee! God versoek niemand nie! “Ek word deur God versoek”, is ‘n tipiese verskoning van die hedonisme. Ja, daar is selfs “Christelike hedonisme” waar mense uit die Bybel aanhaal uit die Onse Vader gebed in Mat. 6:13: “En bring ons nie in versoeking nie” wat kwansuis “bewys” dat God mense versoek. Die 1983 vertaling probeer om hierdie misverstand op te klaar deur dit te vertaal met: “Laat ons nie in die versoeking kom nie.”

God kan nie verlei word nie! So lees ons duidelik in Jak. 1:13, en daarom verlei Hy ook niemand nie. Die oorsprong van verleiding kom van binne jou sondige self, jou eie begeertes. Dis soos ‘n verleidelike vrou wat ‘n man saamsleep bed toe. Volgens Jakobus 1:15 is die gevolg van hierdie “nag van passie” ‘n baba wat gebore word (sonde) en as hierdie baba groot (ryp) word, gee dit op sy beurt geboorte aan die verderf of ewige dood .

Lynreg teenoor die vernietigende effek van die menslike begeerte staan die Woord van die Waarheid. Jakobus beklemtoon dit dat elke goeie gawe en volmaakte geskenk van God af kom. Hy het tog immers die uitspansel geskep, die son en maan en sterre om vir mense lig te gee. O ja, hulle wissel en verander gedurig, maar God verander nooit. Hy bly standvastig, onveranderlik. God herskep vandag mense deur die hemelse lig van sy Woord in ons te plant. In teenstelling met begeertes en versoekings, gee God se Woord vir ons die ewige lewe. So word ons die “eerstelinge van Sy skepsels” (Jak. 1:18). Die gebruik was dat die “eerstelinge” van die oes aan God afgestaan moes word. Die heerlike betekenis hiervan is dan dat ons as gelowiges as “eerstelinge” aan God behoort, en bedoel is vir die hemel.

Moenie toelaat dat die duiwel se versoekings jou van die ewige lewe beroof nie. Hou die oë gevestig op Jesus en leef jou Christenskap voluit.

Gebed:

Here, die versoekings van die lewe is dikwels so groot en aanloklik. Hou asseblief my hand styf vas en help my om enduit te volhard sonder om voor hulle te swig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026