Versoekings

30 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Versoekings

Lukas 4:5-13  

Video

Oudio

Ons is êrens in die bos - ek weet sélf nie eers presies waar nie. Dit is in die vroeë 70ger-jare, en ek is opgeroep deur die weermag vir ‘n 3-weke kamp. Die son bak warm op die mobiele bevelspos waarin ek sit. Hierdie voertuig het geen vensters nie, slegs ‘n luik in die dak waar die offisier staan om vir die manne by die kanonne bevele te gee. Ek het ‘n swaar rubber kopstuk om my ore, en dag en nag moet ek wakker wees, want enige oomblik kan daar ‘n boodskap oor my radio kom wat ek aan die offisier moet oordra. Soms is daar ‘n halfdosyn manne van verskillende bevelsposte wat gelyk oor die radio praat, en dikwels is dit ‘n histeriese gebabbel waarvan jy moet sin uitmaak. My ore is bitter seer en die sweet tap my af. Ek is dors, maar ek durf nie opstaan om water te gaan soek nie - die kritieke boodskap kan dalk net in daardie minuut kom.

Om ‘n seiner te wees in die weermag, was een van die”sagter” werkies, dis die kanonniers oftewel “konondonkies” wat die harde klippe gekou het! Maar hoe lekker sou dit nie wees om ‘n offisier te wees wat heeldag daar buite in die vars lug sy eie ding kon doen nie! In my kop maal die aanbod van een van die hoë offisiere, dat ek dit moet oorweeg om ‘n offisier te word - hulle het my nodig! Dit sou egter beteken dat ek baie langer in die weermag moes aanbly. Die blote gedagte van die heerlike lewe as offisier, en die mag wat ek sou hê, maak dat ek so byna-byna val daarvoor en my vryheid prysgee. Mag het ‘n baie hoë prys!

Toe die duiwel na Jesus gekom het om Hom te versoek, was dit in ‘n baie kritieke stadium in Sy lewe. Die uitmergelende woestynlewe, honger, dors, stof, versengende hitte - dit was beslis nie maklik of net ‘n lekker avontuur nie! Boonop moes Jesus sékerlik al geworstel het met die gedagtes aan die bitter stryd wat vir Hom voorgelê het. Hy het vir séker geweet dat sy eie dorpsgenote hom by ‘n krans sou wou afgooi en dat baie mense, Sy eie broers inkluis, Hom sou verwerp. Dan was daar die intieme groep van twaalf wat vir Hom gewag het, manne wat onder mekaar sou baklei oor Sy guns, maar Hom selfs in kritieke tye sou verloën. En een van hulle sou Hom verraai! Van die bespotting, vernedering, marteling wat op Hom gewag het, het Hy reeds geweet. En veral daardie verskriklike dag van Sy teregstelling - daaraan wou Hy sékerllik nie eers dink nie!

Dan kom die slinkse duiwel met ‘n baie aantreklike voorstel wat sou maak dat al daardie onsmaaklikhede totaal oorbodig sou wees. Hy kon die mag kry oor die volkere van die wêreld, sonder dat Hy deur al daardie moeite hoef te gaan. Hy sou al die vernedering, teenstand en marteling gespaar word. Al wat Hy moes doen, was om die knie voor die duiwel te buig!

Die duiwel is steeds besig met presies dieselfde taktiek, en dikwels word ons verlei met ‘n maklike uitweg om al die probleme wat vir jou wag te omseil. Ek onthou as jong seun is daar gefluister dat as jy jou siel vir die duiwel gee, dan kan jy ongelooflike, bonatuurlike magte kry. Daardie tyd het die gedagte my nogal aangestaan, maar gelukkig was ek te vrek bang gepraat oor die duiwel! Vandag is Satanisme ‘n reuse trekpleister vir menige jongmens, en die gruwels wat daar plaasvind, alles suiwer vir mag, is om van naar te word. Gewoonlik begin dit met “onskuldige” okkulte-speletjies soos fortuinvertellery, die outjo-bord en geeste oproep. En voor jy weet waar jy is, hoor jy die stem van die duiwel wat vir jou groot dinge op ‘n skinkbord aanbied. “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien,” haal Jesus vir die duiwel aan uit Deut. 6:14.

Die derde versoeking wat op Jesus se pad kom, is van ‘n ietwat ander aard. Hy word op ‘n baie hoë plek gebring, en as Hy afkyk kan Hy die mense daar ver onder sien rondloop op die tempelplein. “Spring af,” por die duiwel Hom aan, “U is mos die Seun van God?” Jesus het die ganse engeleskaar tot Sy beskikking gehad om Hom op die hande te dra. As Hy gedoen het wat die duiwel voorstel, sou dit ‘n skouspelagtige vertoning gewees het, en die skare daar onder sou Hom aanbid het as ‘n Goddelike wese. Dit sou egter om totaal die verkeerde rede wees, en dit was gladnie wat God beplan het nie. Jesus moes kies tussen die aanskoulike en die wil van God, wat ‘n bitter moeilike pad sou behels. Die duiwel neem selfs ‘n aanhaling uit die Bybel aan om Jesus te oortuig. 

Soos wat Jesus die keuse gemaak het om nie eise aan God te stel nie, so moet ons ook baie versigtig wees om nie te maak asof God slegs daar is om in ons (dikwels sefsugtige) behoeftes te voorsien nie. Selfsugtige gebed is ‘n ding wat in baie gelowiges se lewe ‘n daaglikse item is, en ek is dikwels sélf daaraan skuldig. Ons noem hulle geestelike “inkopielyste” of “wenslysies.” Berus by die wil van God en wend jou gebede aan tot eer van Hom en om in te tree vir ander mense.

Gebed:

Here, vergewe my asseblief waar ek so dikwels selfsugtig is - selfs in my gebedslewe. Leer my om volgens U wil te bid.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Simon se Skoonma
21 September, 2026
Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026