Verraad in die Nag

27 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verraad in die Nag

Markus 14:41-51

VIDEO * OUDIO

Petrus word weereens uit ‘n rustelose slaap geruk wanneer Jesus die derde keer na die drie manne toe kom: “Slaap en rus julle nog steeds?” Petrus voel asof hy inmekaar kan krimp van skaamte. Dan raak hy yskoud by Jesus se aankondiging: “Genoeg! Die uur het gekom. Kyk, die Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer.”

Nou is Jakobus en Johannes ook wawyd wakker. “Meester?” huiwer Johannes met ’n vraag wat hy dalk liewer nie wil vra nie.

“Staan op, laat ons gaan! Kyk, die een wat My verraai, is naby!”

Fakkelligte kom tussen die bome aangesweef. Voetstappe van baie mense, gedemp asof hulle iemand bekruip. Petrus se hart klop wild in sy borskas. “Nou is die tyd om die Meester ten alle koste te beskerm! Ek het mos gesê dat ek by Hom sal staan deur dik en dun. Ek gaan Hom verkeerd bewys!”

As die optog tussen die olyfbome deur voor hulle verskyn, herken Petrus die man wat heel voor stap onmiddellik. “Jou lae uitvaagsel!” wil hy skree. “Jou addergebroedsel!” Maar hy kry nie ’n geluid uit nie. Magteloos kyk hy toe hoe Judas reguit na Jesus loop. Petrus voel dat hy wil ontplof. Skielik is die stilte ook weg en almal praat gelyk. Bevele word uitgeskree, en daar heers chaos. Van al die lawaai het die ander manne nou ook wakker geskrik, en hulle kom aangehardloop om te sien wat gebeur.

Jesus staan net daar, soos ’n Lam wat gedwee wag om geslag te word. Judas groet Jesus half stotterend: “Rabbi....” Hy het niks meer as dit om vir sy Leermeester van die afgelope drie jaar te sê nie. Jesus kyk hom vol in die oë – ’n kyk wat vir Judas sê dat Hy so innig jammer voel vir hom. Hy het die ewige lewe verruil vir ’n paar muntstukke. Judas se hande bewe onbedaarlik as hy Jesus soen. Hy draai om. Niemand merk die trane in sy oë nie. Oorhaastig verdwyn hy tussen die mense deur.

Die spul wat saam met Judas gekom het beur vorentoe om Jesus te gryp, ’n mengelmoes van manne, gewapen tot die tande. Die paar tempelwagte is die enigstes wat ’n bietjie georganiseerd lyk. Hulle tree nader met ontblote swaarde. Die res swaai stokke en kieries wild rond om hulle misnoë en hulle aggressie te vertoon.

Petrus het nou net mooi genóég gehad! Hy pluk sy swaard uit en storm wild af op die klomp. Vandag is die dag wat hy sy Meester gaan red uit die hande van hierdie klomp skurke, hy sal veg tot die bitter einde! Hy swaai sy swaard wild na die eerste man wat hy teëkom en tref die kêrel skrams teen die kop, sodat jy net bloed sien spat. Nou is Petrus goed opgewerk, en hy is gereed om die ganse leër aan te vat!

“Simon! Stop!” hoor Petrus sy Meester se stem en stadig begin hy kalmeer. Eenkant staan die hoëpriester se slaaf kermend. Hy hou sy oor vas, oftewel daar waar netnou nog ’n oor was voordat Petrus hom bygekom het. Jesus wink hom nader. Sy oor is ’n gemors en die bloed stroom teen sy nek af. Jesus sit Sy hand op die wond en oombliklik stop die bloed. As Jesus Sy hand terugtrek, is die slaaf se oor volkome genees, asof Petrus se swaard nooit naby hom was nie. Die slaaf kan sy oë nie glo nie!

Dreigend staan die manne nou nader om Jesus gevange te neem. Dan praat Hy, Sy stem spreek van kalmte en aanvaarding: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem?” In die flikkerende fakkellig herken Hy etlike gesigte wat gereeld na Hom kom luister het in die tempel. “Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie.” Dan glimlag Jesus, want Hy weet presies waarom hulle Hom nie gevange kon neem nie – die tyd was nog nie reg nie! Dit was nie hoe God beplan het dat Hy gevang moes word nie. God het bepaal dat dit in die nag moes wees, en dat een van Sy dissipels, Sy eie vriende Hom moes verraai. “Die Skrifte moes vervul word!” verduidelik Jesus.

Woedend storm die spul nou op Jesus af. Hulle ego is geknak! “Kom ons gryp Sy aanhangers ook!” Verskrik spat die elf manne uitmekaar. Selfs Petrus! Hy is verward. Hy weet nou gladnie meer wat om te doen nie, en dan laat spaander hy ook maar saam met die ander.

En so word Jesus gearresteer en hardhandig afgelei teen die steil paadjie van die Olyfberg af, deur die Kidronvallei tot in Jerusalem. ’n Entjie agter Jesus kom ’n jong man aangeloop, geklee slegs in ’n linnedoek om die lyf. Hy wil sien wat hulle met Jesus gaan doen. Dan merk een van die tempelwagte hom. “Gryp daai man!” Die jongman sien groot moeilikheid kom en hy vlieg om. ‘n Tempelwag kry hom egter aan die klere beet, en in ’n laaste desperate poging ruk hy homself los. Maar hy betaal duur, want in die proses word sy enigste kledingstuk, die doek van sy lyf afgeruk. Al laggende kyk die manne hom agterna as hy vreesbevange en poedelnaak die straat afhardloop en dan tussen die huise verdwyn.

Die optog marsjeer reguit na die hoëpriester se huis. Dan begin Jesus se grootste lyding.

Gebed:

Here, saam met Petrus wil ons ook kwaad word, kwaad vir die verskriklike onreg wat U moes ly. Maar dan besef ons dat sonder daardie onreg, ons nie die verlossing sou kon smaak nie. Dankie dat U die volle prys vir ons betaal het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026