Jesaja 2
“Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom.”
Na die harde, veroordelende woorde wat Jesaja in hoofstuk een geskryf het, begin hy die nuwe hoofstuk met ‘n nuwe opskrif, en dan hierdie hartroerende bemoediging, waarskynlik uit ‘n bekende lied wat daardie tyd gesing is. Miga gebruik dieselfde lied in Miga 4. Jesaja wil hiermee sê dat God se oordeel nooit die laaste woord is nie! Daar is ‘n wonderlike toekoms wat wag, ‘n nuwe begin wat God met Sy skepping gaan maak. Hierdie is in werklikheid die aankondiging van die koms van die Messiaanse heilstyd.
Jesaja skryf dat al die nasies na Jerusalem en die tempel sal stroom om daar te leer wat God se wil is, sodat hulle daarvolgens kan lewe. God is nié net die God van Israel, soos wat hierdie volk geglo het nie. Die wêreld behoort aan Hom! Hy is immers die Skepper van álles! Israel is slegs die instrument waardeur die hele wêreld van God moet hoor. En hoe asemrowend het hierdie profetiese woorde van Jesaja waar geword. Binne enkele jare het die evangelie ontplof na Jesus se koms, en mense van regoor die wêreld het tot geloof gekom in die God van Israel.
Maar in vers 4 skryf hy verder dat wanneer dit gebeur, sal mense radikaal verander word. Vyandskap verander na ‘n lewe van liefde. Swaarde word letterlik ploegskare en spiese snoeimesse.
En dan draai Jesaja na die Israeliete toe, en hy sê dat daardie wonderlike toekomsvisie slegs ‘n werklikheid kan word as hulle omdraai en begin leef in die lig van God.
Vandag draai Jesaja dalk na jou en my, en hy sê dat ons nét verlede week die wonderlike toekomsvisie van Openbaring 22 gelees het. Maar dat dit nou tyd geword het dat ons moet omdraai en in God se lig moet begin loop, as ons die toekoms van die nuwe Jerusalem wil beleef!
Hierdie wonderlike toekomsdroom van Jesaja moet egter eers voorafgegaan word deur iets baie belangrik. Die nagmerrie van sonde moet eers uitgeroei word, daarom praat Jesaja nou van God se oordeel, want intussen is liederlike dinge besig om te gebeur in hierdie volk.
Hy spel dit uit dat afgryslike praktyke van waarsêery, towery, afgode en bygeloof hoogty vier in die volk van God. Boonop het hulle in materialisme verval. Hulle het hulle sekuriteit gebou op hulle rykdom en hulle militêre mag. Hulle is baie selfversekerd oor hulle situasie. Hulle het hulle afgode gemaak om hulleself te pas. Maar Jesaja waarsku dat hulle tot ‘n val sal kom.
In die lig van wat Jesaja hier skryf, moet ons ook selfondersoek doen. Gaan dit nie dalk ook maar so in ons eie land nie? Al hierdie dinge wat Jesaja noem, is besig om in Suid-Afrika te gebeur. Ons het so pas verneem dat daar selfs ‘n kerk van Satan hier in ons pragtige dorpie Ballito gestig word. Dit is om van naar te word! En intussen is daar miljoene Hindoes wat openlik afgode aanbid reg rondom ons. Sangomas met hulle witgepleisterde gesigte, is ‘n alledaagse ding. Hulle is niks anders nie as toordokters wat hulle krag put uit die bose.
En materialisme? As ons maar luister na die skrikwekkende groot bedrae geld wat betrokke is by bedrog wat hoogty vier, dan staan jy verstom.
Maar Jesaja waarsku: die dag van die Here is verskriklik! Hy sê vir hierdie mense dat hulle maar moet begin vlug, hulle moet die rotse invlug, in gate wegkruip want die verskrikking van die Here is aan die kom. Dié wat so verskriklik selfversekerd is, gaan tot ‘n groot val kom! Niemand sal God se verskriklike oordeel misloop nie. Hulle sal paniekbevange word, maar dit sal alles tevergeefs wees!
Ons maak so dikwels staat op ons eie mensgemaakte sekuriteit. Die vraag is egter of my sekuriteitstelsels God se oordeel sal kan deurstaan?
Dalk moet ek myself die vraag afvra, waarin my sekuriteit lê? Dit kan in een of meer van baie dinge wees. Dit kan wees in my goeie finansiële beplanning, ‘n goeie pensioenfonds, genoeg versekeringspolisse, goeie beleggings ens. Moontlik in ‘n gesonde, fikse liggaam, gereelde oefening, gesonde eetstyl. Of dit kan intellektueel wees. Om byvoorbeeld my verstand gedurig konstruktief besig te hou en te oefen. En so kan ons aangaan. Alles baie goed en edel, maar nie een van hierdie dinge bied jou ewigheids-sekuriteit nie. Dit is iets wat jy slegs kan kry deur Jesus se verlossing te aanvaar. Sélf kan ek absoluut niks doen om dit te verdien nie. Jesus is die enigste gewaarborgde sekuriteit!
Gebed:
Here, ek wil in U lig wandel, want U is ál wat werklik tel in die lewe!